Hoe lyk Hollywood: Nuwe Bachelorette aangekondig; regisseur se dogter bring nag in selle deur

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Nuwe Bachelorette aangekondig

Clare Crawley. (Foto: Instagram/Clare Crawley)

Die nuwe seisoen van die Amerikaanse maatsoekprogram The Bachelorette is vandeesweek aangekondig met Clare Crawley wat die rose gaan uitdeel.

Crawley is al ʼn geruime tyd deel van die Bachelor Nation. Sy het die eerste keer in 2013 ʼn draai in die gewilde Bachelor-franchise gemaak as een van die vroue wat Juan Pablo Galavis se hart wou wen.

Daarna het sy ook twee keer aan Bachelor in Paradise en een keer aan Bachelor Winter Games deelgeneem, waar sy verloof geraak het aan Benoît Beauséjour-Savard. Dié verlowing is in 2018 verbreek.

Die 38-jarige haarkapper van Sacramento is die oudste Bachelorette tot op hede. Hoewel dit nog nie bevestig is wanneer die nuwe seisoen gaan begin nie, sal sy volgens berigte reeds 39 jaar oud wees wanneer die seisoen afskop.

Tia Booth en Tayshia Adams van Colton Underwood se seisoen as Bachelor asook Hannah Brown, wat die vorige seisoen se Bachelorette was, het glo die posisie as nuwe Bachelorette van die hand gewys.

Maroon 5 gekritiseer oor flou vertoning

Adam Levine. (Foto: Instagram/Adam Levine)

Die musiekgroep Maroon 5, met die bekende voorsanger Adam Levine, het onder skerp kritiek deur aanhangers deurgeloop toe hulle ʼn “flou vertoning” gelewer het verlede Donderdag in Chili, Suid-Amerika.

Die konsert, wat tydens die Vina del Mar-fees plaasgevind het, is ook op televisie uitgesaai. Volgens BBC is talle konsertgangers teleurgesteld gelaat oor Levine se houding op die verhoog.

Levine het in ʼn verklaring op Instagram die skuld op tegniese probleme gepak en gesê dit was onprofessioneel dat hy toegelaat het dat dit sy vertoning raak.

“Ek het baie gesukkel op die verhoog en soms is dit vir my  moeilik om te verbloem dat ek sukkel. Ek het julle teleurgestel en ek vra om verskoning,” het die sanger gesê.

Steven Spielberg se dogter bring nag in selle deur

Dit blyk dat die bekende rolprentregisseur Steven Spielberg se dogter, Mikaela, nie uit die nuus kan bly nie.

Mikaela Spielberg. (Foto: Instagram/Mikaela Spielberg)

Die regisseur se 23-jarige aangenome dogter, wat onlangs bekend gemaak het dat sy beplan om ʼn loopbaan as onder meer pornografiese aktrise uit te kerf, is vandeesweek in Nashville, Tennessee, in hegtenis geneem ná ʼn bakleiery met haar 47-jarige verloofde, Chuck Pankow. Pankow is ʼn professionele veerpyltjiespeler.

Die paartjie het intussen vrede gemaak. “Dit was ʼn groot misverstand. Sy is nou tuis,” het Pankow aan die Britse koerant The Sun gesê.

Mikaela is as kind aangeneem deur Spielberg en sy vrou met wie hy al 29 jaar getroud is, aktrise Kate Capshaw. Haar bekende ouers is glo verneder en bekommerd oor hul dogter se jongste loopbaanskuif.

Bronne: Cosmopolitan, E! News, BBC, Page Six

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantelle

loopbaan as wat??? skaam haar….nee regtig waar…dis n probleem kind ….

Sean

Loopbaan as pornster??? Persoonlik dink ek sy gaan lank werkloos wees