Hoe lyk Hollywood: Olsen-suster se skeidrama; dwelms eis sangeres se seun

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Olsen-suster, Franse man se skeidrama

Mary-Kate Olsen (regs) en haar suster, Ashley, woon die Metropolitan Museum of Art’s Costume Institute se jaarlikse gala in 2019. (Foto: Charles Sykes/Invision/AP)

Die 33-jarige aktrise en mode-ontwerper Mary-Kate Olsen se aansoek om van haar Franse man, die 50-jarige bankier Olivier Sarkozy te skei, is Donderdag deur ʼn New Yorkse hof van die hand gewys.

Die aansoek is glo deur regter Michael Katz van die hand gewys omdat die saak nie deel vorm van die noodsaaklike dienste wat tans deur die hof uitgevoer word nie.

“Die oorspronklike aansoek is van die hand gewys omdat dit nie die korrekte prosedure vir noodsaaklike sake gevolg het nie. Die heraansoek is as noodsaaklik ingedien, maar is deur die New Yorkse hooggeregshofregter afgekeur,” het ʼn woordvoerder in ʼn verklaring aan Fox News gesê.

Olivier Sarkozy. (Foto: Gareth Wong/Wikipedia)

Olsen, tweelingsuster van die aktrise en mode-ontwerper Ashley, het glo die eerste aansoek reeds op 17 April ingedien. Sarkozy is die broer van die voormalige Franse president Nicolas Sarkozy.

Volgens Vulture is die skeisaak tussen Olsen en Sarkozy “besig om lelik te raak” en het Olsen ʼn brief van Sarkozy se regspan ontvang wat haar aanmaan om hierdie week nog hul woning in New York te verlaat.

Page Six het berig die aktrise het haar misnoeë hieroor uitgespreek. “Ek is vreesbevange dat my man probeer om my te ontneem van die huis waar ons gewoon het en indien hy suksesvol is, sal ek nie net my huis verloor nie, maar ook die risiko loop om my persoonlike eiendom te verloor,” het sy gesê.

Die egpaar is in 2015 getroud.

Dwelms eis sangeres se seun

Die Oscar- en Grammy-bekroonde Amerikaanse musikant Melissa Etheridge se seun, Beckett Cypher, het Woensdag aan ʼn oordosis opioïed gesterf.

Melissa Etheridge. (Foto: Rich Fury/Invision/AP, File)

Die 21-jarige Cypher is Etheridge se seun saam met haar voormalige lewensmaat, Julie Cypher. Cypher het ook ʼn suster, Bailey. Hulle is deur kunsmatige bevrugting gebore. Die musikant David Crosby is die spermskenker.

“Vandag sluit ek aan by derduisende families wat hul geliefdes verloor het aan opioïedverslawing,” het Etheridge op Twitter geskryf.

“My seun, Beckett, wat net 21 jaar oud was, het gesukkel om sy verslawing te oorkom en het vandag uiteindelik daaraan toegegee.”

Etheridge het ook ʼn tweeling saam met haar vorige lewensmaat, Tammy Lynn Michaels. Sy is nou getroud met Linda Wallem.

“Ons worstel met wat ons nog kon gedoen het om hom te red, maar op die einde weet ons hy is nou verlos van die pyn,” het Etheridge bygevoeg.

Bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Geld, geld geld, als gaan om geld, sy 33, man 50 en vol $$$
Nou moet sy vir ‘n slag gaan werk, reg so !

Patches ·

Ek glo nie sy het nodig om te werk nie. Die egskeiding gaan haar beslis nie arm maak nie. Maak al miljoene bymekaar vandat hul twee in die doeke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.