Hoe lyk Hollywood: Oud-‘Bond-meisie’ sterf; sanger ontken hy was deel van Capitol-chaos

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Voormalige Bond-meisie sterf

Tanya Roberts in 2006. (Foto: Ethan Miller/Getty Images North America/AFP)

Die voormalige Bond-meisie en That 70s Show-aktrise Tanya Roberts is Maandag in ‘n hospitaal in Los Angeles dood weens komplikasies van ‘n blaasinfeksie.

Haar woordvoerder Mike Pingle het dié nuus Dinsdag bevestig ná voortydige berigte oor haar dood.

Roberts se langtermyn lewensmaat Lance O’Brien het “foutiewelik” haar dood laat Sondagaand reeds aan die media aangekondig ná miskommunikasie met die Cedars-Sinai-hospitaal, het Pingle gesê. Talle nuusinstansies het doodsberigte gepubliseer wat onttrek moes word.

Sy het Maandagaand laat gesterf nadat die blaasinfeksie na haar niere, galblaas, lewer en bloedstroom versprei het.

Roberts (65) was welbekend vir haar rol as die geoloog Stacey Sutton in die James Bond-fliek A View to a Kill. Sy is gebore Victoria Leigh Blum in die Bronx, New York, in 1955 en het modelwerk gedoen voordat sy haar deurbraakrol in die laaste seisoen van die televisiereeks Charlie’s Angels gekry het.

Sy is deesdae meer bekend vir die rol van Midge Pinciotti, die ma van Laura Prepon se karakter Donna, in die komediereeks That 70s Show.

Jamiroquai-sanger ontken betrokkenheid by Capitol-chaos

Jay Kay, voorsanger van die Britse groep Jamiroquai. (Foto: Mayela Lopez/AFP)

Die Jamiroquai-sanger Jay Kay handhaaf die afgelope tyd ‘n lae profiel en verseker die wêreld dat hy nie vandeesweek in Washington deel was van die betogers wat die Kongresgebou (Capitol)  bestorm het nie.

Die 1990s jazz-funk musikant het tydens die onluste opslae gemaak op sosiale media, met gebruikers wat gewys het op sy sterk ooreenkomste met die kaalbors-oproerige wat ‘n gehoringde dierepelshoed gedra het.

“Goeiemore wêreld! Sommige van julle dink dalk dat julle my in Washington gesien het gisteraand. Ek is bevrees ek was nie saam met daardie freaks nie,” het die 51-jarige Britse sanger in ‘n nagemaakte Amerikaanse aksent op Twitter gesê.

Die betoger met die gehoringde dierepelshoed is later geïdentifiseer as Jake Angeli, ‘n prominente volgeling van die QAnon-sameswering.

Supermodel se familie bevestig selfdood

Stella Tennant in New York. (Foto: Jamie McCarthy/Getty Images for H&M/AFP)

Die Britse model Stella Tennant se familie het bevestig sy het haar eie lewe geneem nadat sy vir “’n geruime tyd ongesteld” was.

“Dit is vir ons ‘n saak van diepe hartseer en wanhoop dat sy gevoel het sy kan nie langer aangaan nie,” lui ‘n verklaring deur haar familielede.

“Sy was ‘n pragtige siel wat geliefd was deur haar nabye familie en goeie vriende, ‘n sensitiewe en talentvolle vrou wie se kreatiwiteit, intelligensie en sin vir humor soveel mense aangeraak het.”

Tennant het in Desember verlede jaar vyf dae voor haar 50ste verjaarsdag gesterf. Sy het in die vroeë negentigs naam gemaak toe sy vir Karl Lagerfeld en Versace modelwerk gedoen het.

Sy is in Londen gebore in 1970 en was bekend vir haar androgene voorkoms en aristokratiese herkoms. Sy is in 1993 afgeneem deur die Britse Vogue op die ouderdom van 22 en het later saam met ontwerpers soos Alexander McQueen en Jean Paul Gaultier gewerk.

Tennant het in 1998 die loopplank vaarwel geheet, maar het later teruggekeer. Sy het ook gewerk aan veldtogte wat energiebesparing en die impak van die modebedryf op die omgewing ondersoek het.

Sy het vier kinders saam met die Franse fotograaf David Lasnet. Die egpaar is in 1999 getroud, maar het verlede jaar hulle egskeiding aangekondig.

Modeontwerpers Stella McCartney en Victoria Beckham asook mede-supermodel Naomi Campbell het hulde aan Tennant gebring op sosiale media.

Bronne: BBC, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.