Hoe lyk Hollywood: Pienkvoete vir talle bekendes op pad; ‘The Amazing Spider-man’-akteur sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Pienkvoete vir talle bekendes op pad

Lea Michele spog met haar bababoepie. Saam met haar op die foto is Darren Criss, haar medester in ‘Glee’. (Foto: Instagram)

Die ooievaar sal later vanjaar sy draaie in Hollywood moet ken. ʼn Hele paar bekende paartjies het vandeesweek aangekondig dat bondeltjies vreugde op pad is.

Gigi Hadid (25), supermodel en Hollywood-bloubloed, is swanger met haar eersteling saam met die voormalige One Direction-sanger Zayn Malik (27). Sy is glo 20 weke swanger en verwag ʼn dogtertjie.

Hadid se ma, Yolanda Hadid, het die swangerskap aan die media bevestig.

Die Glee-aktrise Lea Michele is ook swanger met haar eersteling. Sy en haar man, Zandy Reich, het in April 2018 verloof geraak en is in Maart 2019 getroud. Die geslag van die baba is nog onbekend.

Katherine Schwarzenegger, Amerikaanse skrywer en dogter van die akteur Arnold Schwarzenegger, is swanger met haar eerste kind. Sy en haar man, die Jurassic Park-akteur Chris Pratt, is in Junie verlede jaar getroud.

Dit is Schwarzenegger se eerste kind en Pratt se tweede. Hy het ʼn sewejarige seun, Jack, saam met sy eksvrou, die aktrise Anna Faris.

Britse koninklikes verskyn in episode van kinderstorie

Prins Harry. (Foto: Verskaf)

Prins Harry, die hertog van Sussex, het die 75ste herdenking van die geliefde kinderverhaal Thomas the Tank Engine gevier deur in die inleiding van ʼn nuwe episode te verskyn.

Dié episode, getiteld Thomas and friends: The royal engine, is opgedra aan die Britse koninklike familie.

Luidens ʼn mediaverklaring deur Mattel, eienaar van die Thomas the Tank Engine-handelsmerk, reis Thomas in dié episode na Londen om sir Topham Hatt na die Buckingham-paleis te neem. Die spesiale episode sluit ook animasiekarakters van koningin Elizabeth II en ʼn jong prins Charles in.

Volgens die verklaring het Harry na Thomas the Tank Engine verwys as ʼn vertroostende, bekende gesig vir soveel gesinne oor die afgelope 75 jaar.

“Ek het beslis goeie herinneringe van my grootwordjare met Thomas and Friends en om meegevoer te word na plekke deur avontuur,” het hy gesê.

‘The Amazing Spider-man’-akteur sterf

Irrfan Khan. (Foto: Taylor Jewell/Invision/AP, File)

Die Bollywood-akteur, wat sy groot Hollywood-deurbraak gemaak het in die Oscar-bekroonde fliek Slumdog Millionaire, is in die ouderdom van 53 dood.

Khan het ook in Life of Pi, The Amazing Spider-man en Jurassic Park gespeel. Hy is 2018 met ʼn neuroendokrine-gewas gediagnoseer en is Woensdag dood as gevolg van ʼn koloninfeksie.

Khan word deur twee seuns oorleef.

Bronne: E! News, BBC Entertainment, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.