Hoe lyk Hollywood: Rolprentmaker spring na sy dood; ‘Alfalfa’-akteur aangekeer

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Rolprentmaker spring na sy dood

Elizabeth Hurley saam met haar en Steve Bing se seun, Damian. (Foto: Instagram/Damian Hurley)

Die bekende rolprentmaker Steve Bing het Maandag sy eie lewe geneem deur van ʼn balkon in sy Century City-woonstelblok in Santa Monica Boulevard, Los Angeles, te spring.

Die Los Angeles-polisiedepartement het Bing se selfdood bevestig. Bing is ook berug vir sy onstuimige verhouding met die supermodel en aktrise Elizabeth Hurley in die vroeë 2000’s. Bing en Hurley het saam ʼn seun, Damian (18).

Bing en die tennisspeler Lisa Bonder het ook ʼn dogter, Kira. Fox News berig Bing was ʼn depressielyer.

Hurley het in ʼn emosionele plasing op sosiale media gesê haar en Bing se tye saam was baie gelukkig. “Al is ons ook deur moeilike tye, het ons in die afgelope jaar weer na aan mekaar geraak. Ek en hy het die laaste keer op ons seun se 18de verjaarsdag gesels,” het sy gesê.

Damian het ook op sosiale media sy dank uitgespreek aan almal wat die familie ondersteun. “Ek sal altyd julle vriendelikheid onthou. Dit is ʼn baie vreemde en verwarrende tyd en ek is baie dankbaar om omring te wees deur fenomenale familie en vriende.”

Op die ouderdom van 18 het Bing sowat $600 miljoen van sy oupa, die eiendomsmagnaat Leo S Bing geërf, waarna hy sy studie aan die Universiteit van Stanford opgeskop en sy geld in Hollywood begin belê het.

“Alfalfa”-akteur in hegtenis geneem

Brandon “Bug” Hall as Alfalfa in die 1994-rolprent ‘The Little Rascals’. (Foto: IMDb)

Brandon “Bug” Hall, die akteur wat in die 1990’s bekend was om sy rol as Alfalfa in die fliek The Little Rascals, is in Texas, VSA, in hegtenis geneem nadat hy lugspuitkannetjies gesnuif het.

Die snuif van die kannetjies, wat bekend staan as huffing, is baie gevaarlik en ʼn strafbare oortreding in Texas.

E! News berig Hall is naby ʼn hotel in Weatherford in hegtenis geneem nadat die polisie reageer het op ʼn oproep oor ʼn geval van  moontlike oordosisvergiftiging. TMZ berig Hall se besorgde familie het die oproep gemaak.

Volgens die verslag van die Weatherfordse polisiedepartement is Hall in hegtenis geneem weens die besit en inaseming van ʼn gevaarlike chemikalie. Hall het glo aan die polisie erken hy is skuldig.

Elizabeth Banks te sien as ikoniese Ms. Frizzle

Elizabeth Banks. (Foto: IMDb)

Variety berig die aktrise en regisseur Elizabeth Banks sal die rol van Ms. Frizzle in die lewendige aksierolprent van die animasiereeks The Magic School Bus vertolk.

Sy sal ook die rolprent in samewerking met Universal Pictures vervaardig. The Magic School Bus is geskoei op die boekereeks deur Joanna Cole en was veral gewild in die 1990’s.

Dié opvoedkundige reeks volg Ms. Frizzle en haar klas soos wat hulle uitstappies onderneem in hulle geel skoolbus, wat met towerkuns in vliegtuie, ruimtetuie en branderplanke verander.

Iole Lucchese, hoof van Scholastic Entertainment, het in ʼn verklaring gesê sy is opgewonde om te sien hoe nuwe lewe in dié geliefde karakter geblaas word.

“Ons is verheug om die ikoniese Ms. Frizzle en haar lus vir kennis en avontuur op ʼn vars manier lewe te gee wat die volgende generasie kinders kan inspireer om wetenskap te ontdek en wat toegewyde onderwysers help om wetenskap toeganklik te maak vir jong leerders,” het Lucchese gesê.

Banks is bekend vir haar rolle in Pitch Perfect en The Hunger Games. Sy het ook onlangs die regie vir die nuwe weergawe van die rolprent Charlie’s Angels behartig.

The Magic School Bus is 18 jaar lank in die VSA en in meer as 100 lande uitgesaai. Lily Tomlin het haar stem aan Ms. Frizzle in die oorspronklike animasiereeks verleen.

Bronne: Variety.com, E! News, TMZ, Fox News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.