Hoe lyk Hollywood: Superpaartjies skei; ‘Grease’-koors bly

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Superpaartjies ly skipbreuk

Colin Firth en sy vrou, Livia. (Foto: Luca Bruno, FILE)

Die Oscar-bekroonde akteur Colin Firth en sy vervreemde vrou, Livia Giuggioli, het ná ʼn huwelik van 22 jaar besluit om te skei. Dié nuus volg nadat Giuggioli glo erken het dat sy gejok het oor haar buite-egtelike verhouding met ʼn Italiaanse joernalis, Marco Brancaccia.

Volgens die Britse nuusbron The Times is Firth en Giuggioli ʼn paar jaar gelede van mekaar vervreem en in dié tyd het Giuggioli se verhouding met Brancaccia vlamgevat. Firth en Giuggioli is intussen herenig, maar terwyl hulle uitmekaar was, het Giuggiolo glo vir Brancaccia daarvan beskuldig dat hy haar agtervolg om hul verhouding te verbloem. Dié beskuldigings het gelei tot ondersoeke teen Brancaccia deur Italiaanse owerhede.

Giuggioli het daarna met die hele sak patats vorendag gekom en dit was een te veel vir Firth, wat besluit het om finaal van sy vrou te skei. Hulle het twee seuns.

Channing Tatum en Jenna Dewan voordat hulle geskei is. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Die spiertier Channing Tatum (39) en sy meisie van een jaar, die Britse sangeres Jessie J (31), se verhouding is ook verby. Dié paartjie, wat in Oktober verlede jaar vir die eerste keer saam gesien is, is glo uitmekaar omdat hul prioriteite nie ooreenstem nie.

Tatum het ʼn sesjarige dogtertjie, Everly, saam met die aktrise en danseres Jenna Dewan. Tatum en Dewan is in April 2018 ná ʼn huwelik van nege jaar geskei.

“Channing en Jessie het ʼn pretverhouding gehad, maar dit het net nie uitgewerk nie,” het ʼn bron aan People gesê. “Channing bring baie tyd deur in Los Angeles sodat hy vir Everly kan sien en Jessie verkies om in Engeland te wees. Hulle is wel op goeie voet uitmekaar.”

Grease se Sandy en Danny herenig

Olivia Newton-John en John Travolta herenig vir ‘n spesiale saamsing-geleentheid in Florida. (Foto: Instagram/Olivia Newton-John)

Olivia Newton-John en John Travolta het in 1978 die wêreld se hart verower as die tieners Sandy Olsson en Danny Zuko in die musikale fliek Grease.

Newton-John (71) en Travolta (65) het verlede week aanhangers gaande gehad toe hulle in hul bekende kostuums herenig vir ʼn spesiale Grease-saamsing-geleentheid in West Palm Beach in Florida in die VSA.

Newton-John het ʼn foto op Instagram gedeel waar sy en Travolta hand aan hand stap, sy in haar bekende liggeel romp en truitjie wat Sandy op haar eerste dag aan Rydell High gedra het en Travolta in sy bekende leerbaadjie en swart broek.

“Die eerste keer in dié kostuums sedert ons die fliek gemaak het. So opgewonde!” het Newton-John op haar Instagram-profiel geskryf. Sy het later in ‘n swart kleefbroek en leerbaadjie verskyn.

Travolta het ook sy opgewondenheid op sosiale media gedeel. “Grease is steeds die woord,” het hy geskryf.

The Bachelor-deelnemers bekend gemaak

Die deelnemers vir die 24ste seisoen van die uiters gewilde Amerikaanse werklikheidsreeks, The Bachelor, is bekend gemaak.

Dertig vroue sal meeding om Peter Weber, of Pilot Pete soos dié hartebreker-vlieënier bekend staan, se hart te verower en uiteindelik ʼn verloofring aan die vinger te kry.

Weber het aan die 15de seisoen van The Bachelorette deelgeneem, waartydens hy teen 29 ander Amerikaners meegeding het om die skoonheidskoningin, Hannah Brown, se hart. Sy het hom derde laaste huis toe gestuur.

Die uitsending van die nuwe reeks begin op 6 Januarie in die VSA.

Bronne: People, Cosmopolitan, ENews

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.