Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.
Survivor-man praat oor rare geheueverlies

Jeff Probst, aanbieder van ‘Survivor’. (Foto: Instagram)
Jeff Probst, die bekende aanbieder en vervaardiger van die gewilde werklikheidsreeks Survivor, het vandeesweek in ʼn onderhoud gesê hy het onlangs ʼn rare vorm van geheueverlies ervaar. Dit het hom genoop om ʼn neurochirurg te besoek. Probst het met Ryan Seacrest en Kelly Ripa op hul program, Live with Kelly and Ryan, hieroor gesels.
Die 58-jarige Probst het vertel dit het begin toe hy nie sy vrou, Lisa Ann Russell, se geboortedatum kon onthou toe hy ʼn reisdokument moes invul nie. Hy het besef iets groots is fout toe hy ook nie kon onthou waar hulle kinders is nie.
“Vir die volgende paar uur kon ek niks onthou nie. Ek het ʼn nota op my skootrekenaar getik wat gesê het: ‘Vir ons rekords, ek het geen benul waarom ek hierdie klere aanhet nie, ek het geen idee waar ons kinders is nie. Ek het geen idee watse dag dit is nie. Ek het geen idee waarom ek hierdie woorde skryf nie.”
Probst kon glo nie onthou dat hy dié nota getik het nie. ʼn Neurochirurg het later bevind hy het transient global amnesia, ʼn skielike episode van tydelike geheueverlies.
Hy het bygevoeg hoewel dit volgens die dokter moontlik die begin van vroeë demensie kan wees, is hy tans gesond.
Beverly Hills 90210-ster het kanker

Shannen Doherty in 2015. (Foto: John Salangsang/Invision/AP, File)
Shannen Doherty, wat bekend is om haar rol as Brenda Walsh in die televisiereeks Beverly Hills 90210, het vandeesweek tydens ʼn onderhoud op ABC News onthul sy het fasevier-borskanker.
Sy het in 2017 aangekondig sy is in remissie vir borskanker nadat sy in 2015 met dié siekte gediagnoseer is.
Doherty het deurlopend gewerk aan die nuwe BH90210-reeks, en het gesê sy het 16 uur per dag gewerk sodat mense kan sien iemand met fasevier-kanker kan steeds werk.
“Ons lewe eindig nie die oomblik wanneer ons gediagnoseer word nie. Ons moet nog leef,” het sy gesê.
Kellan Lutz se vrou verloor baba

Kellan en Brittany Lutz. (Foto: Instagram)
Die Twilight Saga-akteur Kellan Lutz en sy vrou, Brittany, het hul ongebore babadogtertjie aan die dood afgestaan. Brittany was ses maande swanger.
Die egpaar het ʼn foto op sosiale media gedeel waar Brittany haar bababoepie vashou met ʼn hartroerende boodskap.
“Babadogtertjie, dit was ʼn absolute eer en plesier om jou ma te wees die afgelope ses maande,” het sy geskryf.
“Ek weet nie waarom dinge gebeur het soos dit het nie, maar ʼn deel van my vind vrede daarin dat jy nooit pyn of hartseer ervaar het nie en ook nooit sal nie. Jy is nou in die arms van Jesus en eendag sal ons jou ontmoet.”
Bronne: CNN, E! News, Instagram