Hoe lyk Hollywood: Talle pienkvoete vir bekendes; Simon Cowell breek sy rug

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Talle pienkvoete vir bekendes

Katherine Schwarzenegger en Chris Pratt. (Foto: Jordan Strauss/AP)

Chris Pratt (41), bekende akteur van die nuwe Jurassic Park-rolprente, en sy skrywersvrou, Katherine Schwarzenegger, het vandeesweek ouers geword van ʼn babadogtertjie. Haar naam is Lyla Maria Schwarzenegger Pratt.

Katherine (30) is die dogter van Arnold Schwarzenegger en Maria Shriver. Pratt het ʼn agtjarige seun, Jack, uit sy vorige huwelik met die blondekop Mom-aktrise, Anna Faris.

“Ons is verby verheug om die geboorte van ons dogter aan te kondig. Ma en baba vaar albei baie goed. Ons voel ongelooflik geseënd,” het Pratt op Instagram by ʼn skattige foto geskryf waar hulle klein Lyla Maria se handjie vashou.

Intussen het die superpaartjie, die musikant John Legend en sy modelvrou, Chrissy Teigen, aangekondig dat hulle hul derde pienkvoet verwag. Hulle is reeds die ouers van ʼn dogter, die vierjarige Luna, en ʼn seun, die tweejarige Miles.

John Legend en sy vrou, Chrissy Teigen, en hulle kinders Luna en Miles. (Foto: Instagram)

Spekulasie oor die paartjie se swangerskap het begin nadat Legend se jongste musiekvideo vir die liedjie “Wild” Donderdag sy buiging op YouTube gemaak het. Die hele gesin maak ʼn verskyning in die video en Legend hou op ʼn stadium Teigen se maag vas om ʼn bultende bababoepie te wys.

Legend en Teigen het in 2006 op die stel van een sy musiekvideo’s ontmoet. Hulle is in 2013 in Italië getroud.

Die bekende televisiepersoonlikheid Morgan Stewart en haar verloofde, Jordan McGraw, het aangekondig hulle verwag ʼn babadogtertjie.

Stewart (32) is bekend vir haar verskyning op die E! Entertainment-program The Rich Kids of Beverly Hills, asook as aanbieder van die modeprogram Necessary Realness.

Morgan Stewart en Jordan McGraw adverteer haar nuwe klerereeks op Instagram.

McGraw (34) is ʼn sanger en seun van die bekende sielkundige en televisiepersoonlikheid Dr. Phil. Die paartjie het in Julie hul verlowing aangekondig.

Stewart het die babanuus op Instagram aangekondig met ʼn video van die paartjie wat ʼn groot ballon bars en die vertrek dan met pienk konfetti besaai wat aankondig dat die geslag van die baba ʼn dogtertjie is.

“Sy gaan dalk nie goed wees met wiskunde nie, maar ons weet ten minste jy sal haar deur ʼn ring kan trek,” het Stewart geskerts. Dit is die paartjie se eersteling.

Bindi Irwin, die 21-jarige dogter van die ontslape Australiese natuurbewaarder en televisiepersoonlikheid Steve Irwin, en haar man, Chandler Powell (23), verwag ook hul eersteling.

Irwin het die swangerskapnuus op Instagram bekend gemaak met ʼn foto waar sy en Powell ʼn klein kakiehempie vashou. “Ek en Chandler is trots om aan te kondig dat ons verwag. Dit is ʼn eer om hierdie spesiale oomblik in ons lewens met julle te deel,” het sy geskryf.

Die egpaar is in Maart getroud by die Australia Zoo in Queensland, wat gestig is deur haar grootouers in die 1970’s en steeds deur die Irwin-familie bestuur word.

Simon Cowell breek sy rug

Simon Cowell en sy seun, Eric. (Foto: Instagram)

Simon Cowell (60), die wêreldbekende musiekgrootbaas en beoordelaar van talentsoekkompetisies soos America’s Got Talent en American Idol, is Saterdag na ʼn hospitaal gehaas nadat hy van ʼn Swind EB-01- elektriese motorfiets afgeval het en sy rug gebreek het.

Sy sesjarige seun Eric en 14-jarige stiefseun Adam was glo saam met hom ten tyde van die ongeluk.

Hy het daarna ʼn operasie van ses ure ondergaan om sy beserings te herstel. Cowell gaan vir eers nie as beoordelaar op die jongste seisoen van America’s Got Talent kan verskyn nie en sal intensiewe fisioterapie moet ontvang voordat hy weer op dié program kan verskyn.

Die sangeres en aanbieder Kelly Clarkson het intussen vir Cowell ingestaan op die program. Hy het Clarkson sowel as sy mediese span op Twitter bedank.

“Dankie aan almal vir julle gawe boodskappe. En ʼn groot dankie aan al die verpleegsters en dokters. Van die gaafste mense wat ek nog ooit ontmoet het. Bly veilig almal,” het hy gesê.

‘The Crown’ kondig nuwe prins Philip-akteur aan

Jonathan Pryce. (Foto: Instagram)

The Crown, wat geskoei is op die lewe van die Britse koningin Elizabeth II, het aangekondig die bekroonde akteur Jonathan Pryce sal die rol van prins Philip in dié uiters gewilde Netflix-reeks vertolk.

Die Walliese akteur sal nou teenoor Imelda Staunton as die koningin te sien wees in die laaste twee seisoene van die bloubloeddrama. Die reekse sal glo handel oor die 1990’s en die vroeë 2000’s.

“Die positiewe ervaring wat ek gehad het tydens die produksie van The Two Popes het my die selfvertroue gegee om die uitdagende rol van prins Philip te takel,” het Pryce via The Crown se amptelike Twitter-bladsy gesê.

Pryce (73) is vroeër vanjaar vir ʼn Oscar-toekenning benoem vir sy rol in The Two Popes, ook ʼn Netflix-produksie. Hy was ook te sien as The High Sparrow in die bekroonde reeks Game of Thrones.

Hy het bekendheid op die verhoog verwerf, en het sy eerste twee Tony-toekennings in 1977 verower vir The Comedians. Hy het ook in 1980 ʼn Olivier-toekenning ingeoes vir sy rol in Hamlet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.