Hoe lyk Hollywood: Taylor Swift-dokumentêr, JT sê jammer

Maroela Media bring vir jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Taylor Swift-dokumentêr

Taylor Swift tree op by die American Music Awards in Los Angeles. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

ʼn Splinternuwe Netflix-dokumentêr oor die Amerikaanse sangeres Taylor Swift se lewe, getiteld Miss Americana, debuteer volgende jaar by die Sundance-rolprentfees in Park City, Utah in die VSA. Dié gewilde rolprentfees vind plaas van 23 Januarie tot 2 Februarie.

Miss Americana sal daarna op Netflix te sien wees. Dié dokumentêr se regie is behartig deur die Emmy-bekroonde regisseur Lana Wilson en vervaardig deur Oscar-wenner Morgan Nevill.

Swift is onlangs in ʼn baie openbare stryd gewikkel met haar voormalige platemaatskappy, Big Machine. Die sangeres het die maatskappy se eienaars, Scooter Braun en Scott Borcheta, daarvan beskuldig dat hulle haar nie wil toelaat om die musiek van haar eerste ses albums te gebruik in dié dokumentêr of tydens ʼn optrede by die American Music Awards nie.

Die probleem is uiteindelik opgelos en Swift het tydens die toekenningsgeleentheid ʼn keurspel van haar musiek oor die jare uitgevoer.

Justin Timberlake sê jammer

Justin Timberlake en sy vrou, Jessica Biel. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die sanger en akteur Justin Timberlake was onlangs in die sop toe daar in November foto’s op sosiale media versprei is waar hy by ʼn partytjie sy medester in ʼn nuwe opkomende fliek, Alisha Wainright, se hand vashou.

Volgens berigte was Timberlake en Wainright, wat besig was om te skiet aan hul nuwe fliek, Palmer, by ʼn partytjie saam met die span van dié fliek toe Timberlake te veel gedrink het. Timberlake is sedert 2012 getroud met die aktrise, Jessica Biel, en hulle het ʼn vierjarige seuntjie, Silas.

Die 38-jarige “Can’t stop the feeling”-sanger het Woensdag in ʼn Instagram-plasing aan sy 56,8 miljoen volgelinge gesê hy het berou oor sy gedrag.

“ʼn Paar weke gelede het ek ʼn groot oordeelsfout begaan, maar laat ek dit duidelik stel – niks het gebeur tussen my en my medester nie. Ek het te veel gedrink en het berou oor my gedrag. Ek moes van beter geweet het,” het Timberlake geskryf.

“Dit is nie die voorbeeld wat ek vir my seun wil stel nie. Ek vra om verskoning aan my ongelooflike vrou en familie dat ek hulle in so ʼn vernederende situasie geplaas het. Ek is gefokus daarop om die bes moontlike man en pa te wees.”

Kendall Jenner kry eie televisieprogram

Kendall Jenner en Kirby Jenner. (Foto: Instagram/Kirby Jenner)

Kendall Jenner en Kirby Jenner. (Foto: Instagram/Kirby Jenner)

Kirby Jenner het ʼn Instagram-sensasie geword toe hy in 2015 homself as Kendall Jenner se tweelingbroer begin voordoen het in ʼn parodie-profiel en homself in haar foto’s gevoeg het deur middel van Photoshop.

Hy en Kendall sal binnekort begin skiet aan ʼn televisieprogram getiteld Kirby Jenner. Dié parodie-realiteitsreeks sal sy lewe volg. Dit sal in 2020 te sien wees op Quibi, ʼn platform wat binnekort beskikbaar is op selfone en tablette.

Kendall se bekende susters, Kylie Jenner en Kourtney, Kim en Khloe Kardashian, sal ook in die reeks te sien wees.

“Ek is so opgewonde dat Quibi-kykers ʼn kykie sal kry in die lewe van my tweelingbroer en dat hy uiteindelik die geleentheid sal hê om te skyn in sy eie reeks,” het Kendall in ʼn verklaring gesê.

Emma Stone is verloof

Emma Stone. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Die Oscar-bekroonde aktrise Emma Stone is verloof aan Dave McCary. Die paartjie het die nuus op Instagram bekend gemaak.

McCary, ʼn regisseur en skrywer van die gewilde Amerikaanse program Saturday Night Live, het ʼn foto gedeel waar Stone (31) spog met haar verloofring. Stone se verteenwoordiger het ook die verlowing bevestig.

Haar ring is glo in Japan gemaak en ontwerp deur Kataoka. Die juweelstuk se naam is The Winter Pearl en is gemaak uit 18 karaat-goud en 0,37 karaat-diamante.

Die paartjie is sedert 2017 in ʼn verhouding. Hulle het in 2016 ontmoet toe Stone ʼn gas was op SNL.

View this post on Instagram

????

A post shared by @ davemccary on

Bronne: iHeartRadio.com, CNN Entertainment, E News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hagar

Te sinteties vir my!!!!!!!!!!!!!!