Hoe lyk Hollywood: Taylor Swift verras met nuwe album; nuwe ‘Avatar’, ‘Star Wars’ uitgestel

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Taylor Swift verras met nuwe album

‘n Greep uit Taylor Swift se nuwe musiekvideo vir “Cardigan”. (Foto: Instagram)

Taylor Swift het Donderdag aanhangers verras toe sy aangekondig het dat ʼn splinternuwe album om middernag uitgereik word. Dit was nie algemeen bekend dat Swift aan ʼn album werk nie.

Die album getiteld folklore is in isolasie opgeneem, het Swift in ʼn Instagram-plasing gesê. Die album is saam met Aaron Dessner van die groep The National, Bon Iver, William Bowery en Jack Antonoff geskryf.

Die album bevat 16 snitte, maar die deluxe-weergawe sal ʼn ekstra snit bevat, getiteld “The lakes”.

Swift het ook 17 liriekvideo’s vir die snitte op die album op YouTube vrygestel. Die amptelike musiekvideo vir “Cardigan”, ʼn pragtige musiekvideo wat deur Swift self geregisseer is, het reeds bykans 2,5 miljoen kykbeurte op YouTube gehad sedert dit ure gelede uitgereik is.

“Baie van die dinge wat ek vir hierdie somer beplan het, het nie gebeur nie, maar daar is iets wat ek nie beplan het nie en wat wel gebeur het: folklore is my agtste ateljeealbum,” het sy gesê.

Demi Lovato verloof

Max Ehrich en Demi Lovato is verloof. (Foto: Instagram)

Die sangeres en aktrise Demi Lovato het Woensdag op Instagram bekend gemaak dat sy en Max Ehrich verloof is.

Lovato (27) en Ehrich (29), ʼn Amerikaanse akteur, het vier maande gelede begin uitgaan.

“Toe ek ʼn klein dogtertjie was, het my pa my altyd sy ‘klein regterhand’ genoem – iets wat dalk vreemd sou klink sonder sy cowboy-aksent. Vir my het dit perfek sin gemaak. En vandag maak daardie woord weer perfek sin, maar vandag gaan ek amptelik iemand anders se regterhand wees,” was Lovato se kommentaar by ʼn reeks verlowingsfoto’s op die strand.

“Ek het geweet ek is lief vir jou die oomblik dat ek jou ontmoet het,” het die Grammy-benoemde sangeres gekoer.

Ehrich het ook om die beurt op Instagram oor sy nuwe verloofde gekoer. “Jy is elke liefdeslied, elke rolprent, elke liriek, elke gedig, alles waarvan ek ooit kon droom en ʼn vennoot in die lewe. Ek kan nie nog ʼn oomblik van my tyd op aarde deurbring sonder die wonderwerk om jou as my vrou te hê nie.”

Ehrich is bekend om sy rol as Brett in die reeks American Princess en die Netflix-rolprent Walk Ride Rodeo.

Disney stel uitreiking van flieks onbepaald uit

Mulan. (Foto: Facebook)

Walt Disney het die uitreiking van drie groot rolprente onbepaald uitgestel. Dit is nog slegte nuus vir die internasionale loket nadat die uitreiking van Tenet ook uitgestel is.

Dié fantasie-spioenasiefliek sou aanvanklik op 17 Julie uitgereik word, maar die datum is aangeskuif na 12 Augustus. Die nuwe Avatar– en Star Wars-rolprente is met ʼn jaar uitgestel, terwyl Mulan heeltemal van die skedules verwyder is. Mulan sou einde Augustus op die grootskerm te sien wees.

ʼn Styging in Covid-19-gevalle in die VSA en die uitwerking wêreldwyd op rolprentproduksies het die verandering genoodsaak.

“Dit het duidelik geword dat niks bankvas gemaak kan word wanneer dit kom by die uitreiking van rolprente te midde van ʼn wêreldgesondheidskrisis nie,” het ʼn woordvoerder vir Disney gesê.

Die opvolg op Avatar sal na verwagting eers in Desember 2022 te sien wees en Star Wars in Desember 2023.

Rolprentteaters in China het Maandag heropen met streng maatreëls wat ingestel is en kapasiteit in die teaters beperk, terwyl teaters in Brittanje op 4 Julie – ook onder streng regulasies – heropen het.

Bronne: BBC Entertainment, E! News, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.