Hoe lyk Hollywood: ‘Twilight’-aktrise gekies vir Diana-rol; akteur aangekla

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Twilight-aktrise gekies vir Diana-rol

Kristen Stewart (links) en prinses Diana (regs). (Foto’s: AP/royalpedia.fandom.com)

ʼn Nuwe rolprent, wat oor die verbrokkeling van prinses Diana en prins Charles se huwelik sal gaan, word glo beplan en die Twilight-aktrise Kristen Stewart is gekies om die rol van prinses Diana te vertolk.

Die rolprent, wat Spencer heet, sal geskryf word deur Steven Knight, skepper van die gewilde Britse reeks Peaky Blinders. BBC berig Spencer speel af in die vroeë negentigs op Sandringham en sal wys hoe Diana tot die besef kom haar huwelik werk nie.

Regisseur Pablo Larrain het glo gesê Stewart is een van die beste hedendaagse aktrises. “Kristen kan baie dinge wees; sy kan misterieus en kwesbaar wees, asook baie sterk. Dit is wat ons nodig het,” het Larrain, wat ook die 2016-rolprent Jackie oor lewe van Jackie Kennedy gemaak het, aan Deadline gesê.

Stewart (30) is bekend vir haar rol as Bella Swan in die Twilight-rolprentfrachise en het ook verlede jaar in die nuwe verwerking van Charlie’s Angels verskyn.

Diana, die prinses van Wallis wat voor haar troue met prins Charles in 1981 as Lady Diana Spencer bekend was, is in 1997 in ʼn motorongeluk in Parys, Frankryk, dood.

That ’70s Show-akteur aangekla van verkragting

Danny Masterson. (Foto: Invision/AP, File)

Die akteur Danny Masterson, bekend vir sy rol as Steven Hyde in die gewilde komediereeks That ’70s Show, is aangekla van die verkragting van drie vroue tussen 2001 en 2003.

Die nuus is volgens The New York Times in ʼn verklaring deur Los Angeles se staatsaanklaer bevestig. Masterson staar 45 jaar tronkstraf in die gesig indien hy skuldig bevind word.

Masterson word daarvan aangekla dat hy tussen Oktober en Desember 2003 ʼn 23-jarige vrou verkrag het nadat hy haar na sy huis in Hollywood Hills genooi het. Hy word ook daarvan aangekla dat hy ʼn 28-jarige vrou in dieselfde jaar verkrag het asook ʼn 23-jarige vrou in 2001. Al drie die voorvalle van verkragting het in die akteur se huis plaasgevind, lui die verklaring.

Hy is in 2017 sy rol in die Netflix-reeks The Ranch kwyt nadat gerugte oor die beskuldigings op die lappe gekom het.

Tom Mesereau, Masterson se regsverteenwoordiger, het in ʼn verklaring volgehou die akteur is onskuldig en dat hy en sy vrou geskok is dat 20 jaar oue beskuldigings tot die aanklagte gelei het.

Masterson is sedert 2011 getroud met die aktrise en model Bijou Phillips. Hulle het een dogter, Fianna Francis Masterson, wat in 2014 gebore is.

Kristin Wiig word ma van tweeling

Kristen Wiig. (Foto: Instagram)

Die Bridesmaids-aktrise Kristin Wiig en haar verloofde, die akteur Avi Rothman, het vroeër vanjaar ʼn tweeling ryker geword met behulp van ʼn surrogaat-ma.

US Weekly het dié nuus bevestig. Hoewel die aktrise (46) nog nie self die nuus bevestig het nie, het sy oor moederskap gesels in ʼn Moedersdag-skets vir Saturday Night Live.

“Ek weet nie of ek werklik my ma waardeer het die eerste 45 jaar van my lewe nie, maar vanjaar voel ek veral dankbaar vir haar raad en liefde. Ek is so dankbaar vir alles wat sy my geleer het, soos om my voor te berei om self ʼn ma te wees,” het Wiig gesê.

Wiig en Rothman (42) het in Augustus verlede jaar verloof geraak ná drie jaar saam as ʼn paartjie.

Bronne: BBC, The New York Times, US Weekly

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Geldmaak storie….kan hulle nie die arme mens en haar nageslag met rus laat nie

Jax ·

Ag liewe land! Regtig! Los tog nou asseblief en laat die vrou in vrede rus. Nou krap geldwolwe weer aaklige wonde oop vir haar kinders en kleinkinders. Soos ek enige iets wat met Harry en sy gesin te make het, biokot, Sal ek die verhaal nie kyk nie of aan aandag gee nie. Ek het eenvoudig nie tyd of lus vir papbroeke en geldwolwe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.