Hollywood: ABBA 1 000 weke op treffersparade; nuwe musiek vir Adele

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

ABBA-versameling 1 000 weke op treffersparade

ABBA. (Foto: Facebook)

ABBA Gold, ʼn versamelingsalbum van die Sweedse popgroep ABBA se grootste treffers, het die eerste album geword om vir 1 000 weke op Brittanje se treffersparades te verskyn.

Die album is in 1992 uitgereik en is die naasgrootste album van alle tye in Brittanje, met ʼn verkope van 5,61 miljoen. Queen se Greatest Hits is in die eerste plek.

Met treffers soos “Dancing Queen”, “Mamma Mia” en “Waterloo” het die album nou altesaam 19 jaar en 12 weke in die top-100 deurgebring.

“Dis nie sleg vir vier ou rape nie,” het Benny Andersson geskerts toe hy die nuus ontvang.

ABBA Gold het deur die jare agt weke in die no. 1-posisie deurgebring en is tans in die 17de plek.

Dit is die groep se album wat nog die beste verkoop het, beter as ateljeealbums soos Voulez-Vouz en Arrival, wat albei die no. 1-posisie in die 1970’s behaal het.

Ed Sheeran op The Voice

Ed Sheeran. (Foto: Facebook)

Ed Sheeran sal as ʼn mentor verskyn op die Amerikaanse weergawe van die talentsoekprogram The Voice.

Die sanger en liedjieskrywer van Suffolk in Brittanje sal by beoordelaars Ariana Grande, Kelly Clarkson, Blake Shelton en John Legend aansluit om te help om deelnemers voor te berei vir die uitkloprondes.

Sheeran sal hulle ook help om hulle liedjies te kies in episodes wat vanaf 25 Oktober uitgesaai sal word.

Sy vierde ateljeealbum, =, sal op 29 Oktober uitgereik word. Hy sal ook later vanjaar ʼn Kersfees-snit saam met sir Elton John uitreik.

Nuwe musiek vir Adele

Adele. (Foto: British Vogue)

Adele het vandeesweek ʼn voorsmakie van haar jongste musiek in ses jaar uitgereik en het gesê die volle liedjie sal volgende week uitgereik word.

Die popster het ʼn swart-en-wit video van 21 sekondes lank op Twitter uitgereik, waarin sy ʼn kasset met die liedjie se naam, “Easy on me”, in ʼn motor se radio druk.

Dit word gevolg deur 13 sekondes van ʼn instrumentale klavierinleiding van die liedjie.

Volgens haar inskrywing op Twitter sal “Easy on me” op Vrydag 15 Oktober uitgereik word, met haar vierde vollengte-album wat kort daarna sal volg.

Die voorsmakie is binne die eerste uur meer as vyf miljoen keer op Twitter en Instagram gekyk, ʼn syfer wat teen die einde van die dag verdubbel het.

Dit is geregisseer deur Xavier Dolan, ʼn rolprentmaker van Quebec, Kanada, wat voorheen beeldmateriaal geskiet het vir haar treffer “Hello”. Dié video, wat in 2015 uitgereik is, het reeds meer as drie miljard kykbeurte op YouTube.

Tina Turner verkoop musiekregte

Tina Turner se dokumentêr het vroeër vanjaar op HBO Max verskyn.

Die Amerikaanse sangeres Tina Turner het al die regte tot haar musiekkatalogus, waaronder treffers soos “The Best” en “Nutbush City Limits”, aan BMG verkoop.

BMG het ook die regte tot Turner se naam, beeld, ewebeeld vir toekomstige borgskappe en handelswareooreenkomste verkry.

Die maatskappy het nie die besonderhede bekend gemaak van hoeveel hy vir die regte betaal het nie, maar bronne in die bedryf sê dit kan sowat $50 miljoen (sowat R750 miljoen) wees.

Volgens Turner is sy vol vertroue dat haar musiek “in betroubare hande” is. Die 81-jarige is een van die bekendste sterre in popmusiekgeskiedenis.

Sy is gebore Anna Mae Bullock in Tennessee, en het by Ike Turner se groep as agtergrondsangeres aangesluit toe sy 18 jaar oud was. Binne die bestek van twee jaar was sy die ster van die vertoning, met die duo wat ʼn rits treffers uitgereik het soos “A Fool in Love” en “River Deep, Mountain High”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.