Hollywood: Aktrise skenk eiersel aan tweelingsuster; Mr. Big uit ‘SATC’-finaal verwyder

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Aktrise skenk eiersel aan tweelingsuster

Brittany en Cynthia Daniel in September 2016 in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Kevork Djansezian/Getty Images/AFP)

Die bekende tweelingsusters Brittany en Cynthia Daniel (45), wat van 1994 tot 1997 die rolle van Jessica en Elizabeth Wakefield vertolk het in die televisiereeks Sweet Valley High, het onlangs aan People vertel dat Cynthia ʼn eiersel geskenk het sodat Brittany en haar man, Adam Touni, ʼn kind van hul eie kon hê.

Brittany is in 2011 met nie-Hodgkin se limfoom (NHL) gediagnoseer en het chemoterapie daarvoor ontvang. Dit het tot gevolg gehad dat Brittany se kanse om kinders van haar eie te hê, drasties verlaag het.

Brittany het egter op 24 Oktober verlede jaar die lewe geskenk aan ʼn dogtertjie, Hope Rose Touni. Volgens Cynthia was die eierselskenking “so ʼn eenvoudige geskenk” wat sy aan haar suster kon gee.

“Ek het geweet Brittany sou dit sonder skroom vir my doen. Ons het nog altyd alles gedeel; so waarom nie hierdie ervaring ook nie?” het ook Cynthia aan People gesê.

“Ons is so inmekaar verweef. Alles wat hare is, is myne en alles wat myne is, is hare,” het Brittany bygevoeg.

Volgens Brittany het sy ná haar kankerdiagnose en chemoterapie gevoel sy was gereed om ʼn lewensmaat te vind en ʼn kind in die lewe te bring. Sy het in 2016 aan Adam verloof geraak.

“My wêreld het vandag helderder geraak,” het sy destyds oor dié aangeleentheid geskryf. Hulle is in 2017 by die Carondelet House in Los Angeles getroud.

Sy het egter later by ʼn vrugbaarheidspesialis uitgevind dit sou byna “onmoontlik” wees om swanger te raak. Cynthia het met haar man, Cole Hauser, gesels en besluit om ʼn eiersel aan Brittany te skenk.

Cynthia en Cole het drie kinders, Ryland (17), Colt (13) en Steely (8). Cole is bekend vir flieks soos 2 Fast 2 Furious, Good Will Hunting en Dazed and Confused. Hy is ook bekend as Rip Wheeler in Yellowstone.

“Woorde kan nie my dankbaarheid beskryf nie. Ek het gedink ek sou vrede daarmee moes maak dat ek nie ʼn ma gaan wees in hierdie leeftyd nie,” het Brittany bygevoeg.

The Last Picture Show-regisseur (82) sterf

Peter Bogdanovich by die première van Warner Bros. Pictures se “It: Chapter Two” by die Regency Village-teater in Augustus 2019 Westwood, Kalifornië. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Peter Bogdanovich, die bekroonde regisseur van The Last Picture Show, se agent het Donderdag bevestig dat hy in die ouderdom van 82 gesterf het.

Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.

Bogdanovich het sy loopbaan as rolprentkritikus begin en het in 1968 die rolprent Targets geregisseer voordat hy in 1971 medeskrywer van The Last Picture Show geword het.

The Last Picture Show speel in ʼn dorp in Texas af en is vir agt Oscar-toekennings benoem en het twee gewen. Dit is vergelyk met ikoniese rolprente soos Citizen Kane.

“Ek is verpletter [deur sy afsterwe]. Hy was ʼn wonderlike kunstenaar. Ek sal nooit vergeet hoe ek die première van The Last Picture Show bygewoon het nie,” het regisseur Francis Ford Coppola in ʼn verklaring aan AFP gesê.

“Ek onthou aan die einde van die fliek het die gehoor opgespring en met luide applous losgebars wat maklik 15 minute lank geduur het. Mag hy in vrede rus en die opwinding van ons applous vir altyd geniet.”

Bogdanovich het ook die Barbra Streisand-fliek What’s up, doc? en die fliek Paper Moon – waarvoor die 10-jarige Tatum O’Neal as die jongste aktrise in geskiedenis ʼn Oscar gewen het – gemaak.

Hy het ʼn verhouding met die Playboy-model Dorothy Stratten gehad. Sy is deur haar man vermoor kort voor die uitreiking van Bogdanovich se fliek They all laughed, waarin sy haar eerste rol teenoor Audrey Hepburn vertolk het.

Hy is met haar jonger halfsuster getroud, maar is bankrot verklaar en het van Los Angeles af terug na New York verhuis, waar hy hom weer as rolprentkritikus bekwaam het.

Hy het ook rolle in flieks soos Quentin Tarantino se Kill Bill en die televisiereeks The Soprano’s vertolk.

Bogdanovich is in 1939 in Kingston, New York, gebore.

Chris Noth uit SATC-finaal geredigeer

Chris Noth op 8 Desember 2021 op die première van HBO Max se “And Just Like That” by die Museum of Modern Art in New York. (Foto: Dimitrios Kambouris/Getty Images North America/AFP)

Die eerste episode van die herlewing van die gewilde reeks van die negentigerjare Sex and the City getiteld And just like that, het kykers laat steier toe een van die gunstelingkarakters, Mr. Big – vertolk deur Chris Noth – ʼn hartaanval gekry en gesterf het.

Nóg ʼn groter skok het op aanhangers gewag toe vier vroue kort ná die première van die eerste episode van And just like that vir Noth van seksuele aanranding beskuldig het. Dié bewerings het tot gevolg gehad dat hy afgedank is uit sy nuwe rol in die reeks The Equalizer en hy is ook nou uit die finale episode van And just like that geredigeer.

Volgens BuzzFeed News sou die laaste episode – wat op 3 Februarie gestroom kan word – ʼn fantasie-element insluit, waarin Mr. Big teenoor Carrie (Sarah Jessica Parker) sou verskyn terwyl sy sy as strooi van die Pont des Arts-voetgangersbrug in Parys, Frankryk, waar die paartjie in die oorspronklike reeks ʼn romantiese oomblik gedeel het.

Die vervaardigers van And just like that het egter die besluit geneem om dié tonele uit die finale episode te verwyder en sê dié tonele speel nie ʼn integrale rol in die storielyn nie.

Bronne: E! News, AFP, BuzzFeed, Vulture

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.