Hollywood: Baldwin se loopbaan ‘beëindig’; Maxwell-slagoffer se getuienis betwyfel

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Families van stormloopslagoffers sê nee vir begrafnisgeld

Travis Scott. (Foto: Facebook)

Meer as die helfte van die families van die Astroworld-stormloopslagoffers het die kletsrymer Travis Scott se aanbod om vir die oorledenes se begrafnisse te betaal, van die hand gewys.

Dit sluit in die familie van die negejarige Ezra Blount, die jongste van die tien konsertgangers wat gesterf het nadat hulle op 5 November vanjaar Scott se konsert in Houston, Texas, bygewoon het.

Scott het verlede week die aanbod gemaak te midde van talle regsgedinge oor die tragedie. Die prokureur van die 14-jarige John Hilgert het Scott se gebaar as “vernederend en onvanpas” beskryf.

“Van al die dinge waaroor hierdie saak gaan, is dit die laaste ding van belang,” het die prokureur aan Rolling Stone gesê.

“Die familie wil verandering te weeg bring en verseker dat so iets nooit weer by ʼn konsert gebeur nie.”

Maroela Media het vroeër berig minstens 60 regsgedinge is teen Scott en die kletsrymer Drake gemaak.

Travis Scott is in ‘n verhouding met die miljardêr, Kylie Jenner. Sy is tans swanger met hulle tweede kind. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Talle konsertgangers is beseer toe hulle ʼn optrede deur Scott by die Astroworld-musiekfees in Houston bygewoon het. Nagenoeg 50 000 konsertgangers het dié aand byeengekom vir Scott se optrede toe gretige aanhangers van agter af vorentoe na die verhoog gedruk en chaos veroorsaak het.

“Mense kon nie asem kry nie en het links en regs flou geval,” het Raul Marquez, ʼn konsertganger, vroeër aan AFP gesê. Hy sê baie mense het gedrink en dwelms tydens die konsert gebruik.

“Sommige mense het nie omgegee nie en dié wat op die vloer gelê het, vertrap of hulle bloot geïgnoreer. Dit was intens.”

Scott het vroeër op Twitter gesê hy is “absoluut verpletter” deur wat tydens sy konsert gebeur het.

Baldwin se loopbaan dalk “beëindig” oor skietvoorval

Die skietvoorval waarby die akteur Alec Baldwin betrokke was, het op die stel van die rolprent “Rust” gebeur. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die akteur Alec Baldwin het erken dat sy akteursloopbaan moontlik verby kan wees ná die skietvoorval waarin die kinematograaf Halyna Hutchins (42) op die stel van die rolprent Rust gesterf het.

“Dit kan wees,” het die 63-jarige Baldwin in ʼn onderhoud met George Stephanopoulos van ABC News gesê en bygevoeg dat hy “nie omgee nie”.

Hy het ook gesê hy het “nie die sneller getrek nie”. “Iemand het  skerppunt-ammunisie in die geweer gesit. Ek weet dit was nie ek nie.”

Baldwin is bekend vir sy rolle in flieks soos Glengarry Glen Ross, The Hunt for Red October en sy rolle in reekse soos 30 Rock en Saturday Night Live.

“Ek weet nie wat op daardie stel gebeur het nie. Ek weet nie hoe ʼn patroon in daardie geweer beland het nie. Ek weet nie,” het Baldwin benadruk.

Die akteur sê dat Hutchins tydens ʼn repetisie op 21 Oktober elke beweging van hom geregisseer het. “Sy het my gelei deur hoe sy wou hê ek die geweer moet vashou vir ʼn kameraskoot. Ek het die geweer vasgehou soos wat sy gesê het ek moet, wat toe gemik was op die onderkant van haar oksel.”

Die akteur het gesê om die kameraskoot te kry moes hy die geweer oorhaal, maar nie afvuur nie. “Die sneller is nie getrek nie. Ek het nie die sneller getrek nie. Ek haal hom oor en ek sê: ‘Kan jy dit sien? Kan jy dit sien? Kan jy dit sien?’ En toe laat gaan ek die hamer van die geweer, en dit vuur af,” het Baldwin vertel.

Alec en sy vrou, Hilaria Baldwin. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Dit was die eerste keer wat Baldwin oor die insident op kamera gepraat het, buiten sy kort onderhoud met TMZ in Oktober ʼn poging om die paparazzi te kry om op te hou om hom en sy familie te agtervolg.

Hutchins en Joel Souza (48), die regisseur, is in die voorval raakgeskiet. Hutchins is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal gevlieg, maar het aan haar wonde beswyk, terwyl Souza met ʼn ambulans vervoer is. Hy is later uit die hospitaal ontslaan.

Mamie Mitchell, die rolprent se draaiboektoesighouer wat die polisie ná die noodlottige skietery op 21 Oktober ontbied het, beskuldig Baldwin egter in ’n dagvaarding dat hy “Russiese roulette” gespeel het toe hy die vuurwapen afgevuur het sonder om dit na te gaan, berig BBC.

Mitchell beweer in die dagvaarding dat die draaiboek drie kameraskote vereis het – een van Baldwin se oë, nog een van ʼn bloedvlek op sy skouer en ʼn derde van sy middellyf terwyl hy sy hand in die holster steek en ’n vuurwapen uithaal.

“Daar was niks in die draaiboek oor ʼn vuurwapen wat deur Baldwin of enige ander persoon afgevuur moet word nie.”

Ghislaine Maxwell-slagoffer se getuienis in twyfel getrek

Ghislaine Maxwell tydens die Children’s Benefit Gala by die Capitale in New York in 2014. (Foto: Rob Kim/Getty Images/AFP)

Die verdediging in Ghislaine Maxwell se sekshandelsaak het Woensdag gepoog om ongerymdhede in die getuienis van die beweerde slagoffer te vind wat aanvoer dat sy seksueel misbruik is deur die erfgenaam en Jeffrey Epstein toe sy 14 jaar oud was.

Die beweerde slagoffer, wat slegs in die hof as “Jane” bekend staan, is die eerste van vier wat na verwagting in Maxwell se hofsaak gaan getuig.

Maxwell word daarvan beskuldig word dat sy minderjarige meisies vir wyle finansier Epstein gewerf en seksueel voorberei het. Epstein is twee jaar gelede in die tronk dood.

Maxwell (59) se verhoor het Maandag begin. Sy is intussen in aanhouding by die Metropolitaanse aanhoudingsentrum in Brooklyn.

Sy het onskuldig gepleit op ses aanklagte van die werwing en vervoer van minderjariges vir seks. ʼn Lewenslange tronkvonnis staar haar in die gesig.

Laura Menninger, Maxwell se prokureur, het aangevoer dat daar teenstrydighede is in Jane se weergawe van die gebeure wat sy voorheen aan die regering en in ʼn hofgetuienis voorgelê het.

Menninger het ook gewys op notas deur wetstoepassers van gesprekke wat na Desember 2019 terugdateer, wat daarop dui dat Jane onseker is of Maxwell haar gesoen of aangeraak het, en het dit vergelyk met die duidelike weergawe wat sy aan die jurie voorgelê het wat beweer dat Maxwell saam met Epstein aan seksuele boodskappe, groepseks en mishandeling deelgeneem het.

Menninger het verder gesê Jane gebruik haar jare se ondervinding as ʼn aktrise in ʼn sepie om die drama van haar getuienis te verhoog.

Ghislaine Maxwell (links) en Jeffrey Epstein (regs). (Foto’s: Laura Cavanaugh/Handout/ verskeie bronne/AFP)

Alison Moe, nog ʼn prokureur, het vir Jane gevra of sy “besig was om toneel te speel”.

“Nee,” het Jane geantwoord, en bygevoeg dat sy tydens haar eerste onderhoud met wetstoepassers dit moeilik gevind het om vir vreemdelinge die “mees skandelike, diepste geheime wat ek my lewe lank ronddra” te vertel en dat sy nie al die besonderhede verskaf het nie.

“Dit is iets waarvan ek my lewe lank weghardloop. Ek is moeg daarvoor,” het sy bygevoeg.

Volgens Jane het sy vir Epstein en Maxwell in 1994 by ʼn somer-kunstekamp in Michigan ontmoet toe sy slegs 14 jaar oud was.

Jane het gesê dat sy geen geldelike baat gaan vind deur te getuig nie en gesê sy het nie ʼn hangende siviele saak het nie. Sy het reeds $5 miljoen (sowat R80 miljoen) van die Epstein-fonds ontvang. Daardie bedrag het op $2,9 miljoen (sowat R45 miljoen) neergekom nadat haar regskoste betaal is.

Bronne: BBC, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie Smartie ·

Baldwin kan nou sê wat hy wil, maar die oomblik as jy in beheer is van ‘n voorwapen, is jy verantwoordelik om toe te sien dat jy nie nalatig optree nie. Movie of te not. Ek dink nie wetgewing selfs in die VSA laat toe dat jy maar aanvaar dat ‘n wapen veilig is as jy dit ontvang nie. Jy neem beheer en jy is aanspreeklik. Hoekom het hy nie die wapen oopgemaak en gekyk waarmee dit gelaai is nie? Nalatigheid. Hy behoort vir strafbare manslag vervolg te word. Maar omdat hy ‘n Hollywood ster is, sal dit sekerlik eindig in ‘n siviele geding waar hy betaal en niks oorkom nie.

Vrijburger ·

Sy storie is gelykstaande aan my ouma se: “Die duiwel kan ‘n geweer laai”. Nee, dit is bloot nalatigheid.

Ek het net simpatie met die slagoffers, nie met Baldwin nie – gegewe sy gedrag en opmerkings in die Dick Cheney jagongeluk.

Patch ·

Ek het video’s gesien van die ene Travis Scott se konsert waar daar totale chaos geheers het en waar hy hom min gesteur het aan wat besig is om te gebeur en dan nog mense aangehits het. Dan is hy skantig “absoluut verpletter” deur wat gebeur het. Hy het ‘n “birds eye view” gehad van die skare onder hom, hoe kon hy nie sien dinge is besig om hand uit te ruk en die konsert gestop het nie of dan die organiseerders of sekuriteit voor die verhoog. Jy kan duidelik hoor hoe mense skree om hulp en skreuend pleit dat hulle die konsert moet stop. Ek was geskok om daarna te kyk. Ek kan nie glo dat hulle hul blind gehou het vir wat plaasgevind het nie.

SlinkseKoljander ·

Ja Baldwin, natuur sal jy weer “act” jou lewe gaan moes oor geld. Nou het die geweer van self af gegaan, altyd n verskoning en nooit sal hy die blaam vat.

Mauritz ·

Hy het nooit die sneller getrek nie. Hy het bloot die hamer van die geweer teruggetrek en dit toe weer gelos – Sy beskrywing. As die wapen in korrekte werkende toestand was, sou dit slegs kon vuur indien die sneller getrek was tydens of net na die loslaat an die hamer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.