Hollywood: Banksy-kunswerk haal miljoene; eiendomsmagnaat (78) lewenslank gevonnis vir moord

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Eiendomsmagnaat (78) lewenslank gevonnis vir moord

Robert Durst in die hof in Los Angeles. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Susan Berman. (Foto: Myung J. Chun-Pool/Getty Images/AFP)

Die New Yorkse eiendomsmagnaat Robert Durst is Donderdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis sonder die opsie vir parool vir die moord op sy beste vriendin meer as twee dekades gelede.

Durst (78) is in die hooggeregshof in Los Angeles skuldig bevind aan moord nadat hy in Desember 2000 Susan Berman by haar huis in die agterkop geskiet het.

Die skietery was glo in ʼn poging om Berman te weerhou om hom te inkrimineer in die heropening van die ondersoek na sy vrou, Katie Durst, se verdwyning in 1982. Berman het glo ʼn valse alibi vir Durst verskaf toe Katie verdwyn het, het aanklaers gesê.

Durst het getuig dat hy nie een van die twee vroue vermoor het nie, maar tydens kruisverhoor het hy gesê hy sou lieg as hy moes.

Aanklaers het ook bewysstukke gelewer dat hy in 2001 met opset ʼn buurman in Galveston, Texas vermoor het, maar dat hy vrygespreek is op aanklag van moord nadat hy getuig het dat hy die man uit selfverdediging geskiet het.

Durst is die kleinseun van Joseph Durst, wat die Durst Organisation, een van Manhattan se grootste kommersiële eiendomsfirmas, gestig het. Sy pa, Seymour, het die leisels van die maatskappy oorgeneem en het later beheer aan sy jonger broer, Douglas, oorgegee.

Robert Durst is glo ʼn fortuin van $100 miljoen (sowat R1,4 miljard) werd. Volgens sy prokureur beplan hulle om te appelleer.

Banksy-kunswerk verkoop weer vir miljoene

Banksy se ‘Love in the Bin’ is vir miljoene verkoop op ‘n veiling by Sotheby’s in Londen. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

ʼn Banksy-kunswerk wat spontaan opgesnipper is tydens ʼn vorige veiling, is vir ʼn rekordbedrag van $21 miljoen (sowat R324 miljoen) verkoop.

Wat oorgebly het van die kunstenaar se Girl with Balloon-kunswerk, getiteld Love is in the Bin, is Donderdag deur Sotheby in Londen vir $21 miljoen verkoop.

Die veiling het slegs tien minute geduur. Na afloop van die veiling het afslaer Oliver Barker geskerts dat hy “verlig was die kunswerk is nog daar”.

Voordat die veiling geopen is, het Barker gesê die kunswerk het ʼn “onverwagse stuk visuele kuns” geraak toe dit drie jaar gelede in dieselfde veilingkamer opgesnipper is nadat dit aan ʼn private Europese belegger verkoop is.

Banksy steek die draak met die kunswêreld met Love in the Bin. Sotheby se voorsitter van kontemporêre kuns, Alex Branczik, het gesê die opsnipper-toertjie “het nie soseer die kunswerk vernietig deur dit op te snipper nie, maar het eerder ʼn nuwe een geskep”.

Oomblikke nadat Girl with Balloon verkoop in 2018 is, het alarms afgegaan en die skilderdoek het deur ʼn snippermasjien geval wat aan die onderkant van die werk ingebou is.

Die anonieme Europese vrou wat die kunswerk gekoop het, het gesê: “Eers was ek geskok, maar toe besef ek ek sou opeindig met my eie stukkie kunsgeskiedenis.”

Geheime oor Brittany Murphy onthul in nuwe dokkie

Brittany Murphy en haar man, Simon Monjack, op die Prada Los Angeles-vertoning van ‘Trembled Blossoms’ by die Prada Beverly Hills Epicenter in Maart 2008. (Foto: David Livingston/Getty Images)

Byna 12 jaar ná die dood van die Clueless-aktrise Brittany Murphy, deel haar geliefdes besonderhede oor haar private lewe – insluitend haar geheimsinnige verhouding met haar man Simon Monjack – in ʼn HBO Max-dokumentêr getiteld What Happened, Brittany Murphy?

Die dokumentêr bestaan uit twee dele en is vervaardig deur Blumhouse Television. Dit bevat beeldmateriaal en onderhoude met Murphy se nabye vriende, insluitend aktrises Kathy Najimy en Lisa Rieffel, en diegene wat saam met haar gewerk het in die maande voor haar skielike dood op 32 in 2009.

Sedertdien het mense gespekuleer oor die oorsaak van die ster se onverwagse dood, en die lykskouer se verslag blatant geïgnoreer wat bevind het dat haar dood ʼn ongeluk was wat deur longonsteking, bloedarmoede en verskeie dwelms veroorsaak is.

Samesweringteoretici blameer Monjack dat hy sy vrou van die wêreld geïsoleer het terwyl ander die vinger wys na giftige muf wat glo hulle huis op Rising Glen Road in Los Angeles besmet het.

Monjack se voormalige verloofde, Elizabeth Ragsdale, verskyn ook in die dokumentêr. Sy vertel onder meer hoe Monjack haar verlaat het toe sy swanger was en dat hy jare later, toe hy en Murphy getroud is, aangebied het om vir haar ʼn huis te koop.

“Ek weet waarom sy vir hom geval het. Hy het sy towerspreuk oor haar uitgespreek en dit het gewerk, net soos met my,” sê Ragsdale.

Bronne: BBC, E! News, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.