Hollywood: Beckhams se herehuis beroof; breinkanker eis Britse popster

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Beckhams se herehuis beroof

David en Victoria Beckham. (Foto: Valery Hache/AFP)

Die sokkerster David Beckham en sy popster- en mode-ontwerpersvrou, Victoria, se herehuis in Londen, Brittanje, is beroof terwyl hulle en hul tienjarige dogter, Harper Seven, in die huis was.

Dié herehuis in Kensington is tussen 20:30 en 23:30 op 28 Februarie beroof. Die nuus van die rooftog het egter nou eers aan die lig gekom.

Die polisie het die voorval bevestig. ʼn Aantal items is uit die huis gesteel, maar geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie en die ondersoeke duur voort.

David het in 2012 as sokkerspeler uitgetree, maar het sedertdien eienaar van die ligaklub Miami CF geword. Hy is ook werksaam as Unicef-ambassadeur.

Victoria het in die 1990’s bekendheid verwerf as Posh Spice in die popgroep Spice Girls en het sedertdien haar modehandelsmerk van krag tot krag laat gaan.

Breinkanker eis Britse popster

Tom Parker. (Foto: Facebook/Tom Parker)

Tom Parker, die 33-jarige ster van die Britse popgroep The Wanted, het Woensdag weens terminale breinkanker gesterf.

Hy het in Oktober 2020 die nuus met sy aanhangers gedeel dat hy ʼn breingewas het waarop daar nie geopereer kan word nie.

The Wanted het die nuus van Parker se afsterwe bekend gemaak en gesê hulle is “verpletter”. Parker se familie was aan sy sy langs sy sterfbed.

Parker se vrou, Kelsey Hardwick, het op Instagram geskryf hulle familie se “harte is gebreek”. Sy en Parker het twee jong kinders, ʼn dogtertjie genaamd Aurelia Rose en ʼn seun genaamd Bodhi.

Die egpaar is in 2018 getroud.

“Tom was die middelpunt van ons wêreld. Ons kan ons nie ʼn lewe sonder sy aansteeklike glimlag en energieke teenwoordigheid indink nie,” het Hardwick geskryf.

“Ons is werklik dankbaar vir die liefde en ondersteuning wat ons ontvang en vra dat almal sal verenig om Tom se lig te laat skyn vir sy pragtige kinders. Hy het tot die einde geveg en ek is oneindig trots op hom.”

Betty White se strandhuis te koop

Betty White by die 70ste Emmy-toekennings by die Microsoft-teater in Los Angeles, Kalifornië (17 September 2018) (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die ontslape aktrise, komediant en Amerikaanse ikoon Betty White se strandhuis by Carmel-by-the-Sea in Monterey, Kalifornië, is in die mark vir $7,9 miljoen (sowat R115 miljoen).

White is op 31 Desember verlede jaar oorlede, net ʼn paar dae voor haar 100ste verjaarsdag.

White en haar man, Allen Ludden, het die drieverdieping huis op die waterfront saam gebou, maar hy is in 1981 oorlede kort nadat die huis voltooi is.

Die eiendom het onder andere vier slaapkamers, vier badkamers en ʼn panoramiese uitsig oor die oseaan vanuit byna elke kamer in die huis.

White en Ludden het die grond van die eiendom in 1978 vir $170 000 (sowat R2,4 miljoen) aangekoop voordat die huis met behulp van argitek Richard Hicks gebou is.

Kyk hier na die huis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.