Hollywood: Céline Dion stel konserte uit; Tony Bennett (95) maak geskiedenis

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale nuus.

Céline Dion stel konsertreeks uit weens ‘swak gesondheid’

Céline Dion in September 2018 in Quebec, Kanada. (Foto: Alice Chiche / AFP)

Die Kanadese sangsensasie Céline Dion het haar opkomende konsertreeks in Las Vegas, VSA, uitgestel en sê in ʼn verklaring sy ly aan wat sy beskryf as “ernstige en aanhoudende spierspasmas”.

Die sangeres (53) se konsertreeks sou volgende maand by die Resorts World Las Vegas afskop, maar sy kon glo weens haar swak gesondheid nog nie repeteer nie.

Die konsertdatums, wat oorspronklik van 5 tot 20 November 2021 sou strek, is uitgestel na 19 Januarie tot 5 Februarie 2022.

“Ek is gebroke hierdeur,” het Dion gesê. “Ek en my span werk al die afgelope agt maande aan die nuwe vertoning en om nie in November te kan open soos wat ons beplan het nie, maak my onbeskryflik hartseer.”

Sy het gesê sy voel asof sy haar span in die steek laat. “Ek voel ook veral jammer dat ek my aanhangers teleurstel, wat planne beraam het om na Las Vegas toe te kom. Ek moet egter nou daarop fokus om beter te word. Ek wil hierdeur kom so gou as wat ek kan.”

“Niks is belangriker as jou welstand nie,” het Scott Sibella, president van Resorts World Las Vegas, aan Dion gesê. Die konserte sou open in ʼn nuwe teater by dié venue, wat spog met die stad se grootste en langste verhoog.

Dion se Courage-wêreldtoer sal glo steeds soos beplan op 9 Maart volgende jaar afskop.

Tony Bennett (95) haal Guinness-wêreldrekords

Tony Bennett en Lady Gaga op die 60ste jaarlikse Grammy-musiektoekennings in New York in Januarie 2018. (Foto: Christopher Polk / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Intussen het Lady Gaga Donderdag na die Dolby Live-teater by die Park MGM in Las Vegas teruggekeer – 652 dae sedert sy laas in dié teater opgetree het.

Sy het op 1 Oktober haar tweede jazz-album saam met Tony Bennett, getiteld Love for Sale, uitgereik en 20 liedjies, waaronder “Luck be a lady”, “Bang bang (my baby shot me down)”, “Let’s do it (let’s fall in love)”, “Do I love you” en “You’re the top”, gesing.

Dié nuwe album, wat die musiek van jazz-legende Cole Porter vereer, het gesorg dat Bennett die Guinness-wêreldrekords haal vir die oudste kunstenaar wat nuwe materiaal uitreik. Volgens Guinness was Bennett op die tydstip van die uitreiking 95 jaar en 60 dae oud.

Gaga (35) het gesê dat sy ten spyte van haar en Bennett se ouderdomsverskil van 60 jaar inspirasie daarin vind om saam met dié senior minnesanger op te tree.

“Ek sien ʼn jong seun elke keer wanneer ek saam met hom sing, en dit maak die ervaring van sang baie bevrydend. Daar is terselfdertyd soveel wysheid in al sy jare,” het Gaga in ʼn video deur Interscope Records gesê.

Bennett en Gaga het voorheen die album getiteld Cheek to cheek uitgereik nadat hulle duet “The lady is a tramp” ʼn treffer geword het.

Hollywood-staking ter elfder uur afgeweer

ʼn Staking deur sowat 60 000 ontevrede vervaardigers in die rolprent- en televisiebedryf in Hollywood is Saterdag ter elfder uur afgeweer. (Foto: Mark Ralston/AFP)

ʼn Staking deur sowat 60 000 ontevrede vervaardigers in die rolprent- en televisiebedryf in Hollywood is Saterdag ter elfder uur afgeweer nadat ʼn ooreenkoms oor “buitensporige werksure en onleefbare lone” bereik is.

Die International Alliance of Theatrical Stage Employees (IATSE), ʼn vakbond wat onder meer kameraoperateurs, grimeerkunstenaars en klanktegnici insluit, het gesê onderhandelaars het Saterdag ʼn nuwe driejaarkontrak beding, kort voordat hulle Maandag sou staak.

“Dit is ʼn Hollywood-einde,” het Matthew Loeb, president van die vakbond, in ʼn verklaring gesê. “Ons lede het sterk gestaan; hulle is taai en verenig.”

Die werkers moet nog stem om die ooreenkoms goed te keur, maar die staking is afgelas met die tentatiewe ooreenkoms, wat ernstige terugslae vir ʼn bedryf wat pas terug op sy voete is ná sluitings weens die pandemie vermy het.

Jarryd Gonzales, woordvoerder vir die Alliance of Motion Picture and Television Producers, wat die ateljees en ander vermaakmaatskappye bygestaan het tydens die onderhandelings, het die ooreenkoms aan Associated Press bevestig.

“Goed so, IATSE. Moenie vergeet dat ons agter julle staan wanneer julle op ons knoppies wil druk nie,” het Patton Oswald, bekende akteur en komediant, op Twitter gesê.

Bronne: The Guardian, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.