Hollywood: Chrissy wil Oprah-onderhoud doen; Nederlandse prinses weier toelaag van miljoene

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Chrissy wil Oprah-onderhoud doen

Chrissy Teigen woon die Vanity Fair Oscar-partytjie by in Beverly Hills, Kalifornië in 2020. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse model Chrissy Teigen, wat onlangs in die sop beland het oor boeliegedrag teenoor ander bekendes op die sosialemediaplatform Twitter, wil haar hart teenoor Oprah Winfrey uitstort.

Die 35-jarige model, wat met die sanger John Legend getroud is en twee jong spruite het, het in ʼn bloginskrywing om verskoning vir haar gedrag op dié platform gevra.

Teigen het geskryf sy “voel die verpletterende gewig van spyt” oor dinge wat sy voorheen kwytgeraak het.

Sy het in Mei vanjaar in ʼn reeks Twitter-inskrywings om verskoning gevra aan die televisiepersoonlikheid Courtney Stodden. Stodden (26) het in April 2021 verklaar dat sy nie-binêr is en dus nou “hulle” as enkelvoud-voornaamwoord gebruik.

Stodden was 16 jaar oud toe hulle in 2011 boodskappe van Teigen ontvang het wat hulle onder meer aangemoedig het om hulle eie lewe te neem.

Dit was in dié tydgreep dat Stodden bekend geraak het as die 16-jarige bruid van die akteur Doug Hutchinson, wat 50 jaar oud was ten tyde van hulle troue.

Stodden het die model se openbare verskoning oor dié boodskappe aanvaar, maar het gesê dit kan net ʼn poging wees om die skade aan Teigen se reputasie te beperk.

Volgens Teigen se bloginskrywing reik sy nou ook in privaat gesprekke na mense uit wat sy beledig het.

“Daar is eenvoudig net geen verskoning vir my aaklige Twitter-gedrag nie. My teikens het dit nie verdien nie. Niemand verdien dit nie. Baie van hulle het empatie, vriendelikheid, begrip en ondersteuning nodig gehad – nie my gemeenheid, verdoesel as soort van gemaklike, edgy humor nie.

“Ek was ʼn trol, punt. En ek is jammer.”

Chrissy Teigen en haar man, John Legend, en hulle kinders Luna en Miles. (Foto: Instagram/Chrissy Teigen)

Teigen het destyds ook onder meer op Twitter gesê die aktrise Lindsay Lohan maak haarself fisiek seer uit jaloesie en die realiteitster Farrah Abraham het haar ook van aanlyn boeliery in 2013 beskuldig.

Bronne naby aan die model het aan Rob Shuter op sy Naughty But Nice-podsending gesê Teigen word aangeraai om uit die openbare oog te bly, maar dat sy beplan om ʼn diepgaande onderhoud met Oprah Winfrey te doen.

“Chrissy is in gesprek met Oprah om ʼn Meghan Markle-tipe onderhoud te voer en haar kant van die storie te vertel. Chrissy is ʼn vegter en glo dat sy so ʼn goeie kommunikeerder is dat daar nie ʼn gemors is waaruit sy haarself nie kan praat nie.

“Elke groot nuusbron in die wêreld het vir Chrissy genader oor ʼn eksklusiewe onderhoud voor die kameras, maar Oprah is haar eerste keuse. As Oprah vir Chrissy kan vergewe, kan die nasie ook,” het die bron gesê.

Meghan Markle en haar man, die Britse prins Harry, het in Maart vanjaar ‘n onderhoud met Winfrey gevoer waarin hulle die eerste keer in die openbaar gepraat het nadat hulle amptelik en permanent van hul koninklike pligte onthef is.

Teigen beoog glo om ‘n soortgelyke onderhoud met Winfrey te voer. Teigen en Winfrey se kampe kon nie vir kommentaar bereik word oor die beweerde moontlike onderhoud nie.

Nederlandse prinses sê nee vir toelaag van miljoene

Nederland se koning Willem-Alexander en sy oudste dogter, prinses Amalia, poseer in die tuin van die Paleis ten Bosch in Den Haag op 17 Julie 2020, op ‘n tradisionele fotosessie met die aanvang van die somervakansie. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP/Netherlands OUT)

Prinses Amalia-Catherina van Nederland, oudste dogter en troonopvolger van die Nederlandse koning Willem-Alexander en sy vrou, koningin Maxima, het haar reg op ʼn stewige jaarlikse toelaag van die hand gewys.

Prinses Amalia het verlede Vrydag ʼn handgeskrewe brief aan die Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, gestuur waarin sy hom inlig oor haar besluit om die toelaag van €1,6 miljoen (sowat R28 miljoen) van die hand te wys totdat sy haar koninklike pligte opneem.

“Op 7 Desember 2021 sal ek 18 jaar oud word en volgens die wet sal ek ʼn toelaag ontvang,” het prinses Amalia geskryf in die brief wat deur die Nederlandse publikasie NOS geplaas is.

“Ek vind dit ongemaklik so lank as wat ek niks in ruil daarvoor doen nie, en dít terwyl baie ander studente ʼn veel moeiliker tyd deurmaak, veral in die pandemie.”

Prinses Amalia het bygevoeg dat sy van voorneme is om ʼn gapingsjaar te neem voordat sy met haar voorgraadse studie begin. Sy het ook gesê sy gaan die amper €400 000 waarop sy geregtig is as student terugbetaal en sal nie van die €1,6 miljoen gebruik maak totdat sy nie “hoë koste aangaan” in haar rol as prinses van Oranje nie.

Die Nederlandse koninklike gesin arriveer by die Royal Theatre Carré in Amsterdam, op 12 Mei 2021, ter viering van die koningin se 50ste verjaardag. Van links na regs is prinses Ariane, prinses Alexis, koningin Maxima, koning Willem-Alexander en prinses Amalia. (Foto: Evert Elzinga/ANP/AFP/Netherlands OUT)

Prinses Amalia het haar finale eksamen aan die Christelijk Gymnasium Sorghvliet in Den Haag verlede week geslaag en cum laude gegradueer.

In egte Nederlandse tradisie het sy die landsvlag saam met haar rugsak gehys in ʼn video wat op die koninklike familie se sosialemediaplatforms gedeel is.

Op Koningsdag vanjaar, wat in April geskied ter viering van koning Willem-Alexander se verjaardag, het prinses Amalia haar planne vir ʼn gapingsjaar bekend gemaak.

“Ek wil ʼn bietjie reis en die wêreld verken. Ek wil dinge doen wat ek nie oor 20 jaar sal kan doen nie,” het sy destyds volgens Netherlands News Live gesê.

Bronne: People.com, BBC.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack

Die Nederlandse koningsgesin is ‘n voorbeeld van nugtere en sobere ingesteldheid teenoor die uitspattige en losbandige Britse koninglikes.