Hollywood: Depp kry bloedneus in hof; swanesang vir Tina Turner

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Depp kry weer bloedneus in hof

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

Die Amerikaanse akteur Johnny Depp is toestemming geweier om in die hooggeregshof te appelleer teen ʼn bevinding dat hy sy eksvrou Amber Heard aangerand het en haar “laat vrees het vir haar lewe”.

In November verlede jaar, drie maande na afloop van die hoëprofielhofsaak, het die hof Depp se bewering dat die Britse publikasie The Sun in 2018 lasterlik was in ʼn berig oor die hofsaak deur na hom as ʼn “vroueslaner” te verwys, van die hand gewys.

Depp het die News Group Newspapers (NGN), uitgewer van The Sun, en sy redakteur, Dan Wootton, gedagvaar vir laster oor die rubriek waarin daar ook verwys word na “oorweldigende bewyse” dat hy sy 34-jarige eksvrou deur die loop van hul verhouding verskeie kere aangerand het.

Depp (57) ontken Heard se aantygings ten sterkste en is nie van ʼn misdaad aangekla nie. In die siviele saak het regter Andrew Nicol egter bevind die berig was “wesenlik waar”.

Die Pirates of the Caribbean-ster het in Maart toestemming gevra om te appelleer teen bevinding in die saak tussen hom en Heard.

Sy regspan het aangevoer dat Depp nie ʼn regverdige verhoor gehad het nie en dat hulle “nuwe bewyse” het oor Heard, soos dat sy onder meer gejok het dat sy die volle $7 miljoen (sowat R105 miljoen) wat sy in die egskeidingskikking gekry het, aan liefdadigheid geskenk het.

Die appèlhof het egter Donderdag Depp se aansoek van die hand gewys en gesê die oorspronklike verhoor was “volledig en regverdig” en dat die regter “grondige redes vir sy beslissing gegee het”.

Nadat die uitspraak gelewer is, het Depp se prokureur gesê daar was “duidelike en objektiewe redes” om die regter se beslissing te betwyfel en dat die akteur nou ʼn afsonderlike lastersaak in die VSA teen Heard wil aanhangig maak.

ʼn Woordvoerder vir Heard sê sy was “tevrede, maar nie verras nie” deur die regter se besluit.

Bekroonde aktrise (80) sterf

Jessica Walter in 2018. (Foto: Lisa O’Connor/AFP)

Die bekroonde Amerikaanse aktrise Jessica Walter het in die ouderdom van 80 gesterf. Haar familie het die nuus bekend gemaak.

“Dit is met ʼn swaar hart dat ek die afsterwe van my geliefde ma bevestig,” het Brooke Bowman, Walter se dogter, gesê.

“’n Werkende akteur vir meer as ses dekades; haar grootste plesier was om vir ander vreugde te bring deur stories te vertel, voor en agter die skerms.”

Walter is bekend vir haar rol as die kil matriarg Lucille Bluth in Arrested Development, die komediereeks uit die 2000’s. Sy het in 1975 ook ʼn Emmy-toekenning gewen vir haar rol as speurder in die polisiedrama Amy Prentiss.

Sy het ook Golden Globe-benoemings ontvang vir die rolprente Grand Prix (1966) en Play Misty for Me (1971).

“Terwyl haar nalatenskap vir altyd sal voortleef deur haar werk, sal sy ook deur vele onthou word vir haar geesdrif, flair en algehele joie de vivre,” het Bowman gesê.

Volgens Deadline het Walter in haar slaap gesterf by haar huis in New York in die VSA.

Tina Turner groet met nuwe dokkie

ʼn Dokumentêr getiteld Tina, wat handel oor die lewe van die ikoniese sangeres Tina Turner (81), sien die naweek die lig.

Erwin Bach, voormalige musiekvervaardiger en Turner se man van die afgelope agt jaar, het gesê die sangeres “groet haar aanhangers” met dié dokumentêr.

Volgens Bach, met wie Turner sedert 1986 in ʼn verhouding is en eers in 2013 getroud is, wil die sangeres “afsluiting kry”.

Regisseur Dan Lindsay het gesê die sangeres het ʼn visie gehad dat die dokumentêr haar “finale woord” moet wees.

“Ek waardeer al die liefde vir my, maar ek is klaar, ek is moeg en ek wil net aftree,” het Lindsay vir Turner aangehaal.

Tina het twee dele en vertel die verhaal van haar pad na bekendheid en haar gewelddadige huwelik met Ike Turner. Sy het haar in die 1980’s as rock-ikoon gevestig.

Sy het onlangs memoires oor haar lewe gepubliseer en ʼn musiekblyspel oor haar lewe gemaak, al toer sy sedert 2009 nie meer nie.

Tina sal die naweek op HBO in die VSA en op Sky Documentaries in Brittanje uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.