Hollywood: Dié stories het vanjaar ons lesers aangegryp

Maroela Media bied weekliks ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus en dié vyf berigte het vanjaar Maroela-lesers se belangstelling die meeste geprikkel:

Maart 2021

Kathy Jacobs (57) in Sports Illustrated. (Foto: Facebook/Sports Illustrated Swimsuit)

Akteur van verkragting beskuldig

Die Amerikaanse akteur Armie Hammer is daarvan beskuldig dat hy ʼn vrou in 2017 in Los Angeles gewelddadig verkrag het.

Hammer (34) is bekend vir sy rolle in flieks soos RebeccaCall Me by Your Name en The Social Network.

Die vrou, ʼn 24-jarige bekend slegs as Effie, het die aantygings tydens ʼn virtuele mediakonferensie gemaak. Hammer (34) het die aantygings ontken.

Bikini-model (57) maak opslae

Die 57-jarige Kathy Jacobs het vanjaar saam met modelle die helfte jonger as sy in eina-klein bikini’s vir die tydskrif Sports Illustrated se jaarlikse swemdrag-uitgawe gepryk.

Jacobs het die Sports Illustrated Swim Search-kompetisie gewen. Sy is reeds in Julie verlede jaar aan Sports Illustrated-lesers bekend gestel as ʼn nuweling.

Die supermodel Christie Brinkley is die enigste ander model ouer as Jacobs wat al in Sports Illustrated verskyn het.

Lees meer hier.

April 2021

Britse aktrise neem weer Zimbabwiese naam aan

Thandiwe Newton (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die Britse aktrise Thandie Newton het ná dekades in Hollywood die oorspronklike spelling van haar Zimbabwiese doopnaam, Thandiwe, aangeneem.

Newton, dogter van ʼn Britse laboratoriumtegnikus en ʼn Zimbabwiese prinses, het aan die tydskrif Vogue gesê die spelling van haar naam, wat “geliefd” in dié Afrikaland se Shona-taal beteken, is verander toe sy in 1991 as 16-jarige aktrise haar eerste rol in die rolprent Flirting gekry het.

Die 48-jarige Westworld-ster het dit nou terug verander na Thandiwe.

Kortfliek met boodskap oor dieremishandeling gemaak

Rolprentmakers en akteurs in Hollywood het hande gevat met die Humane Society International om ʼn stop-aksie-animasiekortfliek, Save Ralph, te vervaardig.

Dié kortfliek het ʼn kragtige boodskap teen die toetsing van kosmetiese produkte op diere dwarsoor die wêreld. Hoewel die praktyk in meer as 40 lande verbied is, is dit steeds wettig in die meeste lande en is daar selfs ʼn oplewing in sommige streke, met duisende diere wat blootgestel word aan lyding en die dood.

Die fliek is in Portugees, Spaans, Frans en Viëtnamees uitgereik.

Harry Potter-ster sterf

Die Britse akteur Paul Ritter, wat onder meer in 2009 in Harry Potter and the Half-Blood Prince die rol van Eldred Worple vertolk het, is Maandag dood.

Hy was 54. Die akteur het ʼn breingewas gehad.

Lees meer hier.

Oktober 2021

Céline Dion stel konsertreeks uit weens ‘swak gesondheid’

Céline Dion (Foto: Charles Sykes/Invision/AP)

Die Kanadese sangsensasie Céline Dion het haar komende konsertreeks in Las Vegas, VSA, uitgestel en sê in ʼn verklaring sy ly aan wat sy beskryf as “ernstige en aanhoudende spierspasmas”.

Die sangeres (53) se konsertreeks sou in November by die Resorts World Las Vegas afskop, maar sy kon glo weens haar swak gesondheid nog nie repeteer nie.

Dion se Courage-wêreldtoer sal glo steeds soos beplan op 9 Maart volgende jaar afskop.

Tony Bennett (95) haal Guinness-wêreldrekords

Lady Gaga het op 1 Oktober haar tweede jazz-album saam met Tony Bennett, Love for Sale, uitgereik.

Dié nuwe album met die musiek van jazz-legende Cole Porter, het gesorg dat Bennett die Guinness-wêreldrekords haal vir die oudste kunstenaar wat nuwe materiaal uitreik. Volgens Guinness was Bennett op die tydstip van die uitreiking 95 jaar en 60 dae oud.

Bennett en Gaga het voorheen die album getiteld Cheek to Cheek uitgereik nadat hulle duet “The Lady Is a Tramp” ʼn treffer geword het.

Hollywood-staking ter elfder ure afgeweer

ʼn Staking deur sowat 60 000 ontevrede vervaardigers in die rolprent- en televisiebedryf in Hollywood is ter elfder ure afgeweer nadat ʼn ooreenkoms oor “buitensporige werksure en onleefbare lone” bereik is.

Die International Alliance of Theatrical Stage Employees (IATSE), ʼn vakbond wat onder meer kameraoperateurs, grimeerkunstenaars en klanktegnici insluit, het gesê onderhandelaars het ʼn nuwe driejaarkontrak beding kort voordat hulle sou staak.

Lees meer hier.

November 2021

Taylor Swift, The Weeknd maak Billboard-geskiedenis

“All Too Well (Taylor’s Version)”, ʼn snit van tien minute en 13 sekondes, het die 50 jaar oue treffersnit, “American Pie” deur Don McClean onttroon as die langste no. 1-snit van alle tye op die Billboard-treffersparade.

“American Pie”, wat agt minute en 42 sekondes lank is, was voorheen die langste no. 1-treffer sedert dit in Januarie 1972 uitgereik is.

Intussen het die Kanadese popster The Weeknd geskiedenis gemaak met sy treffersnit “Blinding Lights”, wat die liedjie geword het wat al vir die langste tydperk die no. 1-posisie op die Billboard-treffersparade beklee.

“Blinding Lights” is in November 2019 uitgereik en is al vir 90 weke in die no. 1-posisie. Dié snit onttroon Chubby Checker se 1960’s-treffer “The Twist”.

Die Billboard-treffersparade is reeds die afgelope 63 jaar ʼn weerspieëling van die wêreld se gewildste radiotreffers.

Twaalf aangekla ná Kim K-rooftog in Parys

Kim Kardashian. (Foto: Invision/AP)

Twee regters het 12 mense aangekla in verband met ʼn rooftog in 2016 waartydens juwele ter waarde van bykans $10 miljoen (sowat R160 miljoen) van die televisiepersoonlikheid Kim Kardashian in ʼn Paryse hotel in Frankryk beroof is.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van roof met ʼn wapen in ʼn georganiseerde groep, ontvoering en gedwonge opsluiting, of strafregtelike verbintenis. Die beskuldigdes is nog nie geïdentifiseer nie.

Vyf mans het in die oggendure van 3 Oktober 2016 toegang tot Kardashian se hotelkamer verkry deur die portier met ʼn wapen te dreig, te boei en hom te dwing om die modemagnaat se deur oop te maak, het die Franse departement van binnelandse sake gesê.

Kardashian was tydens die voorval in die Franse hoofstad vir die Paryse modeweek.

Dokkie-reeks oor The Beatles binnekort te sien

Peter Jackson, regisseur van die nuwe The Beatles- dokumentêre reeks wat op Disney+ te sien is, het meer as 50 uur lange uittreksels laat restoureer uit die The Beatles-dokumentêr, Let It Be, wat in 1970 uitgereik is.

Get Back, die nuwe dokkie-reeks, laat die kollig val op die verhouding tussen lede Paul McCartney en John Lennon voordat die groep in 1970 uitmekaar is, en word aangebied in drie dele wat altesaam sowat sewe uur lank is.

Lees meer hier.

Desember 2021

Families van stormloopslagoffers sê nee vir begrafnisgeld

Travis Scott. (Foto: Facebook)

Meer as die helfte van die families van die Astroworld-stormloopslagoffers het die kletsrymer Travis Scott se aanbod om vir die oorledenes se begrafnisse te betaal, van die hand gewys.

Dit sluit in die familie van die negejarige Ezra Blount, die jongste van die tien konsertgangers wat gesterf het nadat hulle op 5 November vanjaar Scott se konsert in Houston, Texas, bygewoon het.

Scott het dié aanbod gemaak te midde van talle regsgedinge oor die tragedie. Die prokureur van die 14-jarige John Hilgert het Scott se gebaar as “vernederend en onvanpas” beskryf.

Talle konsertgangers is beseer toe hulle ʼn optrede deur Scott by die Astroworld-musiekfees in Houston bygewoon het. Nagenoeg 50 000 konsertgangers het dié aand byeengekom vir Scott se optrede toe gretige aanhangers van agter af vorentoe na die verhoog gedruk en chaos veroorsaak het.

Baldwin se loopbaan dalk “beëindig” oor skietvoorval

Die akteur Alec Baldwin (63) het erken dat sy akteursloopbaan moontlik verby kan wees ná die skietvoorval waarin die kinematograaf Halyna Hutchins (42) op die stel van die rolprent Rust gesterf het.

Hy het ook gesê hy het “nie die sneller getrek nie”. “Iemand het skerppunt-ammunisie in die geweer gesit. Ek weet dit was nie ek nie.”

Hutchins en Joel Souza (48), die regisseur, is in die voorval raakgeskiet. Hutchins is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal gevlieg, maar het aan haar wonde beswyk, terwyl Souza met ʼn ambulans vervoer is. Hy is later uit die hospitaal ontslaan.

Ghislaine Maxwell-slagoffer se getuienis in twyfel getrek

Die verdediging in Ghislaine Maxwell se sekshandelsaak het gepoog om ongerymdhede in die getuienis van die beweerde slagoffer te vind wat aanvoer dat sy seksueel misbruik is deur die erfgenaam en Jeffrey Epstein toe sy 14 jaar oud was.

Die beweerde slagoffer, wat slegs in die hof as “Jane” bekend staan, is die eerste van vier wat na verwagting in Maxwell (59) se hofsaak gaan getuig.

Maxwell word daarvan beskuldig word dat sy minderjarige meisies vir Epstein gewerf en seksueel voorberei het. Epstein is twee jaar gelede in die tronk dood.

Maxwell is in aanhouding by die Metropolitaanse aanhoudingsentrum in Brooklyn. Sy het onskuldig gepleit op ses aanklagte van die werwing en vervoer van minderjariges vir seks. ʼn Lewenslange tronkvonnis staar haar in die gesig.

Lees meer hier.

Lees alle vorige Hollywood-berigte van 2021 hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.