Hollywood: ‘Friends’-akteur verbreek verlowing; nóg aanklagte teen Hillsong-pastoor

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Friends-akteur verbreek verlowing

Matthew Perry. (Foto: Noam Galai/Getty Images vir “A Doll’s House Part 2″/AFP)

Matthew Perry, bekend vir sy rol as Chandler in die ikoniese sitkom Friends, en die talentbestuurder en vervaardiger Molly Hurwitz het hulle verlowing ná ses maande verbreek.

Perry (52) en Hurwitz (29) het in 2018 begin uitgaan en het in November verlede jaar hul verlowing aangekondig.

“Soms werk dinge net nie uit nie en hierdie is een van hulle,” het Perry in ʼn verklaring aan E! News gesê.

“Ek wens vir Molly die beste toe.”

Perry het nog nie die verbrokkeling van die verhouding in die sosiale media bespreek nie en Hurwitz se Instagram-profiel is privaat.

Perry het einde Mei saam met sy medesterre Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc en David Schwimmer in die lankverwagte Friends-reünieprogram verskyn.

Hillsong-pastoor aangekla van seksuele wangedrag

Carl en Laura Lentz. (Foto: Charley Gallay/Getty Images for Pure Flix/AFP)

Sewe maande nadat die Amerikaanse pastoor Carl Lentz afgedank is by die megakerk Hillsong, het nuwe bewerings oor wangedrag teen hom aan die lig gekom.

Lentz, wat die Hillsong-pastoor in New York was voor sy afdanking, is bekend vir sy vriendskappe met A-lys-bekendes. Hy is in November verlede jaar afgedank nadat dit onder meer aan die lig gekom het dat hy ontrou was aan sy vrou.

Leona Kimes, ʼn medepastoor van Boston en wat vroeër as ʼn oppasser vir Lentz en sy gesin gewerk het, beweer nou sy was “blootgestel aan manipulasie, beheer, boeliery, magsmisbruik en seksuele misbruik” in Lentz se huis oor ʼn tydperk van sewe jaar.

Kimes het op 31 Mei ʼn essay getiteld “Writing my voice back” op Medium gepubliseer. In die skrywe noem sy hom nie op die naam nie, maar ʼn verklaring aan Religion News Service het bevestig Kimes het na Lentz verwys.

“Ek het vasgevang en gemuilband gevoel. Ek het so skaam gevoel en ek is aangesê om niks vir enigiemand te vertel nie,” het Kimes gesê.

ʼn Regsverteenwoordiger vir Lentz en sy vrou, Laura, het aan Religion News Service gesê hulle “albei ontken die bewerings ten sterkste en het onwrikbare bewyse dat die gebeurtenisse nie plaasgevind het soos wat dit beskryf word nie.”

In haar essay beskryf Kimes haar werkomgewing saam met Lentz en sy gesin voordat sy Boston toe getrek het waar sy nou as pastoor saam met haar man dien.

Terwyl sy vir sewe jaar as ʼn oppasser vir die Lentz-gesin gewerk het, het sy nie net na die drie kinders omgesien nie, maar ook die huis skoongemaak en verskeie take vir hulle verrig.

Sy sê ook hoewel sy “vreugdevolle tye” ervaar het, was daar ook tye van “ongelooflike pyn”.

“Die grense tussen persoonlik en professioneel is vroeg reeds oorskry en ʼn ongesonde band en gehegtheid is gevorm.”

Carl Lentz. (Foto: Facebook/Carl Lentz)

Kimes beweer die “seksuele misbruik het klein begin” en gesê Lentz sou opmerkings oor haar voorkoms maak.

“My pastoor sou na my kyk en sê: ‘Meisie, jy lyk goed. Was jy in die gimnasium?’ Daar was baie flankeerdery wat plaasgevind het.”

Sy het ook oor ʼn voorval in ʼn borrelbad saam met sy kinders geskryf. “Hy het ingeklim en hom naby aan my geposisioneer sodat sy hande my bene kon streel. Soortgelyke gevalle het meer gereeld plaasgevind.”

Volgens Kimes het sy en Lentz nooit seks gehad nie en het nooit gesoen nie, maar is sy fisiek geskend deur sy “ongevraagde en herhaaldelike seksuele aanraking” van haar geslagsdele.

“Ek het gevries. Elke keer het ek gevries.”

Kimes het bygevoeg dat Lentz se “onvanpaste betasting en suggestiewe teksboodskappe” deur albei die hoofpastore aangeroer is op twee verskillende tye gedurende haar tyd in die Lentz-gesin se huis.

Sy beweer sy is albei kere “geblameer en stilgemaak”.

Hillsong-stigters Brian en Bobbie Houston het na afloop van Kimes se bewerings in ʼn verklaring gesê hulle is “toegewyd daaraan om te leer hoe om soortgelyke trauma te identifiseer en betekenisvolle ondersteuning te bied aan enigiemand wat dit ervaar het”.

“Ná die afdanking van die voormalige hoofpastoor van Hillsong East Coast, was dit duidelik dat die kwessies beduidend is en weens ons bekommernisse het ons ʼn onafhanklike en lang ondersoek van stapel gestuur na die kultuur van al vier ons Hillsong East Coast-bedienings,” lui die verklaring.

“In die proses om duidelikheid te kry was dit baie ontstellend om van Leona Kimes se ervaring te hoor. Ons het Leona se privaatheid en haar diep persoonlike storie gerespekteer. Sy het nou besluit om dit te deel sodat sy en haar man vorentoe kan beweeg as ʼn familie.”

Hillsong, wat in 1983 gestig is, het bekend geraak vir sy jong gevolg en aanbiddingsmusiek. Oor die jare het dit ʼn reeks bekendes gelok, onder wie Kendall en Kylie Jenner, Kourtney Kardashian en Chris Pratt.

Lentz het onder meer die Kanadese popster Justin Bieber in 2015 gedoop.

Bron: E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Die Woord noem pertinent dat vervolging van Godsmanne in die eindtyd gaan gebeur. En hier is maar net nog ‘n voorbeeld wat toon, dat die Woord waar is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.