Hollywood: ‘Friends’ se David, Jen glo nié ʼn paartjie; enigste Hitchcock-kind (93) sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Friends se David, Jen glo nié ʼn paartjie

Jennifer Aniston. (Foto: Instagram/Jennifer Aniston)

Die Friends-medesterre David Schwimmer en Jennifer Aniston is glo nié ʼn paartjie nie, ten spyte van gerugte wat sedert verlede week aanlyn versprei word.

Nadat die skinderblad Closer vroeër vandeesweek berig het dat dié twee medesterre in ʼn verhouding is, het Schwimmer (54) se verteenwoordiger aan die Britse koerant The Sun gesê daar “steek geen waarheid” in die gerugte nie.

Schwimmer se verteenwoordiger het nie op People se versoek om kommentaar gereageer nie.

In Mei vanjaar het Schwimmer en Aniston op die lankverwagte Friends-reünie onthul dat hulle destyds van die stel af vir mekaar ogies gemaak het. Schwimmer en Aniston het die rolle van die verliefde paartjie Ross Geller en Rachel Green vertolk.

James Corden, aanbieder van die Friends-reünie, het gevra of die rolverdeling enige romantiese gevoelens vir mekaar ontwikkel het in die regte lewe.

Toe Aniston voorstel dat Schwimmer die vraag antwoord, het hy erken dat hy “smoorverlief” was op Aniston.

“Op ʼn stadium was ons gek oor mekaar, maar dit was soos twee skepe wat verby mekaar gegaan het, want een van ons was altyd in ʼn verhouding en ons het nooit die grense oorskry nie. Ons het dit gerespekteer,” het Schwimmer op die reünie gesê.

David Schwimmer. (Foto: AMANDA EDWARDS / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Aniston (52) het verduidelik dat hulle al hulle gevoelens vir mekaar deur hulle bekende karakters “gekanaliseer” het.

“Ek onthou hoe ek op ʼn keer vir David gesê het ek hoop nie ons eerste soen gaan op nasionale televisie wees nie. En sowaar was die eerste keer in die [Central Perk-] koffiewinkel.”

Schwimmer was van 2010 tot 2017 getroud met Zoe Buckman, saam met wie hy ʼn 10-jarige dogter, Cleo het.

Aniston was van 2000 tot 2005 getroud met Brad Pitt en is later getroud met Justin Theroux, maar hulle is in 2018 weer geskei ná ʼn huwelik van twee jaar en byna sewe jaar saam.

Aniston het in Junie vanjaar op The Howard Stern Show in ʼn gesprek met medesterre Courteney Cox en Lisa Kudrow benadruk dat sy en Schwimmer nooit op hulle gevoelens vir mekaar gereageer het nie.

“Ons was in verhoudings en dit was nooit die regte tyd nie en dit sou nooit uitgewerk het nie,” het sy gesê.

Kritiek oor Depp op feeste vereer word

Johnny Depp (Foto: Wikipedia)

Twee groot Europese rolprentfeeste word wyd gekritiseer nadat hulle aangekondig het dat die Amerikaanse akteur Johnny Depp vereer sal word op hulle komende geleenthede.

Depp, wat ʼn lastersaak verloor het oor ʼn artikel waarin hy as ʼn “vroueslaner” beskryf is, sal later vandeesmaand op die Karlovy Vary-rolprentfees in die Tsjeggiese Republiek vereer word.

Hy sal ook in September die Donostia-toekenning op die San Sebastian-rolprentfees in Spanje ontvang.

Depp het destyds ontken dat hy sy eksvrou, Amber Heard, aangerand het, maar ʼn hooggeregshof het verlede jaar beslis dat The Sun se beriggewing “wesenlik waar” is. Dit was nie ʼn kriminele verhoor nie.

Die Women’s Aid Federation sê dit is “disrespekvol” teenoor slagoffers van mishandeling. Nog ʼn organisasie, die Solace Women’s Aid, sê dié toekennings is “misleidend” en “beledigend”.

Die San Sebastian-rolprentfees in die noorde van Spanje het Maandag aangekondig dat Depp sy “hoogste eretoekenning” op 22 September sal ontvang.

Die fees noem Depp “een van kontemporêre rolprente se mees talentvolle en veelsydigste akteurs” met ʼn reputasie dat hy karakters vertolk wat “nie pas nie”.

Die Karlovy Vary-rolprentfees in die Tjeggiese Republiek het Dinsdag gesê hy sal Depp se “langdurige loopbaan en blywende nalatenskap” vereer.

Hy is ook as ʼn “veelvlakkige kunstenaar” en “’n ikoon van kontemporêre rolprente” beskryf. Die fees sal van 20 tot 28 Augustus plaasvind.

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

Sophie Francis-Cansfield, veldtog- en beleidbestuurder van Women’s Aid, het gesê: “Wanneer ʼn oortreder gevier word, laat dit hulle toe om steeds sukses te behaal en openbare goedkeuring stel voor dat mishandeling aanvaarbaar is en nie van belang is nie.

“Slagoffers moet geglo en ondersteun word. Dit is belangrik dat slagoffers weet dat hulle ervarings ernstig opgeneem word en dat mishandeling nie langer geduld gaan word nie.”

Depp se loopbaan het egter ʼn knou gekry sedert sy onsuksesvolle poging om The Sun vir laster te dagvaar. Die 58-jarige akteur is vervang as die karakter Grindelwald in die Fantastic Beasts-rolprentfrachise, en nog ʼn fliek getiteld Minamata, het nog nie ʼn uitreikingsdatum in Amerika vasgemaak nie.

Andrew Levitas, regisseur van Minamata, het in ʼn brief wat deur Deadline gepubliseer is gesê die MGM-ateljee is “bekommerd” oor Depp se betrokkenheid by die fliek.

“’n Akteur se persoonlike sake kan ʼn negatiewe weerspieëling op die fliek hê,” het Levitas gesê.

Enigste Hitchcock-kind (93) sterf

Pat Hitchcock in 2005. (Foto: IMDb)

Pat Hitchcock, die enigste kind van die legendariese regisseur Alfred Hitchcock, is in die ouderdom van 93 dood.

Die aktrise het Maandag by haar huis in Thousand Oaks, Kalifornië, gesterf. Haar dogter, Katie O’Connell-Fiala, het die nuus aan The Hollywood Reporter en Variety bevestig. Die oorsaak van haar dood is nie bekend gemaak nie.

Pat het in verskeie rolprente verskyn, insluitend haar pa se flieks Stage fright (1950), Strangers on a train (1951) en Psycho (1960).

“Ek wens ek het geglo in nepotisme. Ek sou baie meer gereeld gewerk het,” het Pat in 1984 aan The Washington Post gesê terwyl sy haar rolle in haar pa se flieks bespreek het.

“Maar hy het nooit iemand deelgemaak van sy flieks tensy hy geglo het hulle is reg vir die rol nie,” het sy destyds gesê.

“Hy het nooit die storie verander om ʼn ster of akteur te pas nie. Ek het baie geskimp by sy assistent, maar het nooit baie ver daarmee gekom nie. Sy sou my naam noem en hy sou sê: ‘Sy is nie reg daarvoor nie’, en dit sou die einde wees daarvan.”

Die Britse regisseur Alfred Hitchcock stap saam met sy vrou, Alma Reville, en hulle dogter Pat Hitchcock op die Queen Mary by Southampton, Brittanje, voordat hulle na Amerika vertrek het op 4 Maart 1939. (Foto: AFP)

Pat het ook in die flieks The Case of Thomas Pyke, Skateboard, Six Characters in Search of an Author en Ladies of the Corridor verskyn. Op die kassie het sy in reekse soos Suspense, Suspicion, My Little Margie, Matinee Theatre, The Life of Riley en Alfred Hitchcock Presents verskyn.

Pat se ma was die draaiboekskrywer en regisseur Alma Reville. Pat is in Julie 1928 in Londen gebore en in 1939 het die familie na Los Angeles verhuis. Pat het kort daarna haar debuut in Broadway-produksies soos Solitaire (1942) en Violet (1944) gemaak.

Sy het ook vir die Alfred Hitchcock’s Mystery Magazine geskryf en was die medeskrywer van haar ma se biografie, Alma Hitchcock: The woman behind the man, saam met Laurent Bouzereau.

Pat het haar loopbaan as aktrise laat vaar toe haar kinders gebore is. Sy word oorleef deur haar en haar man, Joseph E. O’Connell Jr. se dogters, Mary Stone, Tere Carrubba en Katie O’Connell-Fiala. Joseph het in 1994 gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Janine

Ek wil huil oor J.A. se gesig! WAT het jy gedoen? :'(