Hollywood: ‘Friends’-ster skryf memoires; jongste Marvel-fliek laat kritici koud

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Friends-ster skryf memoires oor verslawing

Matthew Perry. (Foto: Noam Galai/Getty Images vir “A Doll’s House Part 2″/AFP)

Die Friends-ster Matthew Perry, bekend vir sy rol as Chandler Bing, is gereed om hart oop te maak oor sy stryd teen dwelm- en drankmisbruik in sy memoires wat eersdaags die lig sal sien.

Flatiron Books het Donderdag aangekondig hy het die regte tot die akteur se debuutroman verkry. Volgens die uitgewer sal Perry se boek ʼn “agter-die-skerms-blik gee op die klankverhoog van die suksesvolste sitkom van alle tye, terwyl hy hart oopmaak oor sy stryd teen verslawing”.

Sy memoires sal glo “openhartig en selfbewus” asook “onkreukbaar eerlik en snaaks” wees.

Dit sal die eerste keer wees dat een van die sterre van Friends memoires uitreik, wat beteken daar is nog baie stories vir aanhangers van die sitkom om te hoor.

“Dit is die boek waarvoor Friends-aanhangers gewag het,” het Flatiron Books laat hoor.

Perry gesels lankal openlik oor sy stryd teen dwelmverslawing wat glo posgevat het nadat die pynmedikasie Vicodin vir hom voorgeskryf is ná hy in 1997 beserings in ʼn jetski-ongeluk opgedoen het.

Hy kon steeds daarin slaag om ʼn suksesvolle loopbaan as akteur te behou, en het benewens Friends ook in rolprente soos Fools Rush In gespeel.

Hy het in 2002 aan The New York Times gesê hy het soms werk toe gegaan met “’n verskriklike babelas”.

Die bekende rolverdeling van ‘Friends’. Voor van links na regs is Courteney Cox, Jennifer Aniston en Lisa Kudrow. Agter is Matthew Perry, Matt LeBlanc en David Schwimmer. (Foto: Verskaf)

“Dit is baie sleg om so goor te voel en boonop te moet werk én snaaks te moet wees,” het hy gesê.

Sy medesterre in Friends het dikwels agtergekom dat hy nie homself is nie. Lisa Kudrow, wat die rol van Phoebe Buffay vertolk, het aan dieselfde publikasie gesê: “Wanneer Matthew siek was, was dit nie pret nie. Ons het hulpeloos op die kantlyn toegekyk. Ons het seergekry.

“Matthew is een van die snaaksste mense wat ek nog ooit in my lewe ontmoet het. Hy is sjarmant en skreeusnaaks. Ons het uit ons mae gelag vir Matthew.”

Perry het tydens die Friendsreünieprogram, wat vroeër vanjaar deur HBO Max uitgesaai is, erken dat hy “ongelooflike druk ervaar het” om die gehoor te laat lag.

“Dit het met tye vir my gevoel asof ek sal sterf as die gehoor nie lag nie. As ek nie die reaksie gekry het wat ek wou hê nie, het ek beheer verloor.”

Sy memoires het nog nie ʼn titel nie en sal glo later in 2022 op die rakke verskyn.

Benoemings vir AMA’s bekend gemaak

Olivia Rodrigo. (Foto: Facebook)

Die benoemings vir vanjaar se American Music Awards is Donderdag bekend gemaak. Die gesogte musiektoekenningsgeleentheid sal op Sondag 21 November plaasvind.

Die jong sangeres Olivia Rodrigo is ʼn voorloper met sewe benoemings. Haar debuutalbum getiteld Sour is vroeër vanjaar uitgereik.

Sy is onder meer vir kunstenaar van die jaar benoem, en sal teen musikante soos Taylor Swift, Ariana Grande, BTS, Drake, en The Weeknd in dié kategorie meeding.

Taylor Swift is met 32 toekennings tans die rekordhouer vir die kunstenaar wat die meeste AMA’s ingeoes het.

The Weeknd het ses benoemings ontvang, terwyl Bad Bunny, Doja Cat en Giveon elkeen vyf benoemings ontvang het.

Die countrysanger Morgan Wallen, wat in Februarie afgeneem is waar hy ʼn rassistiese opmerking maak en later daarvoor om verskoning gevra het, is vir twee toekennings benoem. Volgens MRC Live & Alternative, die produksiemaatskappy wat die toekenningsgeleentheid aanmekaar sit, sal hy egter nie deel vorm van die geleentheid nie.

“Morgan Wallen is ʼn benoemde gebaseer op trefferparades. Sy gedrag is egter nie belyn met ons kernwaardes nie en daarom sal ons hom in geen kapasiteit by die vertoning insluit nie.”

Nuwe kategorieë vanjaar sluit in gunsteling‑“trending”‑liedjie, gunsteling‑gospelkunstenaar en gunsteling‑ Latynse duo of groep.

Marvel se jongste fliek laat kritici koud

Die rolverdeling van ‘Eternals’. Gemma Chan, Kumail Nanjiani, Kit Harington, Salma Hayek en Angelina Jolie is onder meer in dié Marvel-fliek te sien. (Foto: Facebook/Eternals)

Hoewel groot gehore nog nie na die rolprent Eternals kon kyk nie, het rolprentkritici wêreldwyd gemengde gevoelens oor Marvel Studios se 26ste uitreiking.

Dié fliek, met Hollywood-sterre soos Gemma Chan, Kumail Nanjiani, Kit Harington, Salma Hayek en Angelina Jolie, begin volgende week in fliekteaters landswyd draai.

Dit het tot dusver die laagste gradering van enige Marvel-fliek uit die Marvel Cinematic Universe gekry, met ʼn gradering van slegs 63% op Rotten Tomatoes.

Thor: The Dark World was voorheen die Marvel-fliek met die laagste gradering van 66%.

Dit is egter moontlik dat die gradering kan verander namate fliekgangers die fliek te sien kry. Volgens Leah Greenblatt, fliekkritikus vir Entertainment Weekly, laat Oscar-bekroonde regisseur Chloe Zhao ʼn “stempel wat moeilik is om mis te kyk in die fliek se bestendige drumpel van melancholie en sy dieper, vreemder karakterboë.”

Kritikus Matt Ramos het op Twitter geskryf: “Dit is ʼn pragtige fliek met ʼn ongelooflike rolverdeling en karakters wat ʼn komplekse storie vertel, maar die storie is uiteindelik te groot vir homself. Ek voel hulle kon dit in twee dele ingedeel het. Ek het daarvan gehou, maar was nie mal daaroor nie.”

In die rolprent verskyn die Eternals, ʼn onsterflike uitheemse ras, weer nadat hulle duisende jare weggekruip het om die aarde te beskerm teen hul bose eweknieë, die Deviants.

Kyk hier na die lokprent vir Eternals:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.