Hollywood: George Clooney begin kunsteskool; R Kelly na NY verskuif voor verhoor

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se internasionale vermaaknuus.

George Clooney begin kunsteskool

George Clooney. (Foto: Willy Sanjuan/Invision/AP, File)

Die Hollywood-akteur George Clooney gaan ʼn kunsteskool in Los Angeles open. Clooney werk saam met ʼn groep mede-akteurs, onder wie Don Cheadle en Kerry Washington, en die Los Angeles Unified School District (LAUSD) om die skool die lig te laat sien.

Die skool, wat sal fokus op onderrig en praktiese opleiding in die kunste en rolprentvervaardiging, beloof om ʼn gaping in werksgeleenthede in die kunstebedryf vir mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe te vul.

Die beplande skool sal ʼn magneet wees, wat beteken dat studente van oor die distrik kan aansoek doen.

Die nuwe skool, wat Roybal School of Film and Television Production sal heet, sal in die herfs van 2022 open as ʼn loodsprogram vir gr. 9- en gr. 10-studente en sal binne die Edward R Roybal Learning Center geleë wees.

Die program sal na verwagting binne die volgende twee jaar uitbrei na gr. 11 en gr. 12 en sal later meer skole insluit.

Die kurrikulum, wat deur opvoeders van die LAUSD en rolspelers in die kunstebedryf saamgestel sal word, is nog in ʼn vroeë ontwikkelingsfase.

George en Amal Clooney. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Clooney en dié rolspelers reik tans uit na ateljees, talentagentskappe en ander vennote om betrokke te raak deur vrywilligers, internskappe, finansiering en toerusting soos kameras te verskaf.

Volgens The Los Angeles Times is die fokus van die program op “onder die lyn”-projekte vir die rolprent- en televisiebedryf, wat geskiedkundig deur wit mense oorheers is.

“Ons mikpunt is om die diversiteit van ons land beter uit te beeld. Dit beteken om vroeg te begin. Dit beteken om hoërskoolprogramme te skep wat jong mense leer oor kameras, redigering, visuele effekte en klank, asook al die werksgeleenthede wat die bedryf kan bied,” het Clooney in ʼn verklaring aan Variety gesê.

“Dit beteken internskappe wat lei tot goedbetaalde loopbane. Dit beteken om te verstaan dat ons almal saam hierin is.”

Die stigtingsraad van die Edward R Roybal Learning Center sluit in Nicole Avant, Tim Bevan, Eric Fellner, Grant Heslov, Eva Longoria, Bryan Lourd en ander suksesvolle mense uit die kunstebedryf.

Die LAUSD het ook verlede week ʼn samewerkingsooreenkoms met Dr. Dré en musiekvervaardiger Jimmy Iovine aangekondig om ʼn hoërskool in Los Angeles te begin wat op sake, tegnologie en entrepreneurskap fokus.

Indiana Jones-ster op stel beseer

Harrison Ford in 2013 op die première van die fliek ‘Paranoia’ in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Emiley Schweich/Everett Collection)

Harrison Ford, ster van die Indiana Jones-rolprentfranchise, het ʼn skouerbesering opgedoen op die stel van die vyfde aflewering van dié rolprentreeks.

Die akteur het intussen ʼn kort breuk geneem van die verfilming sodat hy kan herstel. Regisseur James Mangold gaan egter voort met die verfilming sonder die akteur.

Die omvang van Ford se besering is nie bekend nie, maar dit is beswaarlik die eerste keer dat hy hom op die stel van ʼn rolprent beseer.

Ford het ʼn ernstige rugbesering opgedoen op die stel van Indiana Jones and the Temple of Doom (1984) en ʼn beenbesering op die stel van Star Wars: The Force Awakens (2015).

Die produksie van Indiana Jones 5 het vroeër vandeesmaand in Brittanje begin. Besonderhede vir die fliek is nog nie gegee nie, behalwe dat die 78-jarige Ford weer die skoene van die fedora-draende argeoloog vol staan.

Phoebe Waller-Bridge en Mads Mikkelsen sal in die jongste aflewering te sien wees.

R Kelly na New York verskuif voor verhoor

R Kelly in 2013 op ‘n mediakonferensie in Suid-Afrika tydens sy ‘Single Ladies’-wêreldtoer. (Foto: Morné J. Kruger/Facebook)

Die sanger R Kelly is van ʼn tronk in Chicago na ʼn tronk in New York verskuif voordat die hofverhoor oor sy beweerde seksuele misdrywe ʼn aanvang sal neem.

Volgens die Federal Bureau of Prisons se webwerf word Kelly nou by die Metropolitan Detention Center (MDC) in Brooklyn aangehou.

Die kunstenaar gebore Robert Sylvester Kelly is in Julie 2019 op aanklag van mensehandel in hegtenis geneem. Hy word daarvan beskuldig dat hy jong meisies gewerf het vir seks terwyl hy getoer het.

Klagte van rampokkery, seksuele uitbuiting van ʼn kind, ontvoering, omkopery en dwangarbeid staar Kelly (54) ook onder meer in die gesig.

Kelly het onskuldig gepleit op al die aanklagte en ʼn jurie sal vanaf 9 Augustus saamgestel word.

Die sanger, bekend vir treffers soos “I believe I can fly”, het ʼn dekade lange geskiedenis van bewerings van misbruik, veral van minderjarige meisies.

Bronne: The Los Angeles Times, Variety.com, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.