Hollywood: Gesogte musiek-, modepryse uitgedeel; nuwe ‘Downton Abbey’-fliek op pad

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

CMA-wenners aangewys

Keith Urban tree op by die Country Music Awards in Nashville, Tennessee. (Foto: Terry Wyatt / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die wenners van vanjaar se Country Music Awards (CMA) is Woensdagaand by die Bridgestone Arena in Nashville, Tennessee, aangekondig.

Die country-superster en beoordelaar van American Idol, Luke Bryan, was die seremoniemeester van die 55ste aanbieding van dié gesogte musiektoekenningsgeleentheid.

Chris Stapleton en Eric Church het elkeen vyf benoemings gehad en albei is benoem in die kategorieë vir kunstenaar van die jaar en manlike sanger van die jaar.

Stapleton het egter met die beeldjies vir manlike sanger van die jaar, album van die jaar, enkelsnit van die jaar en liedjie van die jaar vir “Starting over” huis toe gegaan.

“Ek wil graag elkeen wat na die liedjie luister en elkeen wat na musiek luister, bedank. Dit is altyd ʼn groot eer om ʼn toekenning vir jou album te wen. Ons werk baie hard om albums te maak – ons glo in albums,” het Stapleton gesê.

Carly Pearce het die toekenning vir beste vroulike sanger gewen en het in ʼn emosionele toespraak gesê country-musiek het haar “gered”.

Luke Combs het met die gesogte kunstenaar van die jaar-prys weggestap. “Ek verdien nie om te wen nie, maar ek is baie bly ek het,” het Combs gesê.

Die program was propvol vertonings deur sterre soos Gabby Barrett, wat vir vier toekennings benoem was, Blake Shelton, Jennifer Hudson, Jimmie Allen, Keith Urban, Jason Aldean en Carrie Underwood.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

Groot mode-oomblikke op CFDA-toekennings

Anya Taylor-Joy woon die 2021 CFDA mode-toekennings by The Pool Room in New York by. (Foto: Dimitrios Kambouris / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die Council of Fashion Designers of America (CFDA) het ook Woensdag toekennings aan ʼn hele rits bekendes uitgedeel.

Dié gesogte toekennings vereer diegene wat ʼn innoverende en uitmuntende bydrae tot die modebedryf gemaak het.

Die geleentheid het by The Pool Room in New York, VSA, plaasgevind. Emily Blunt, die bekroonde Britse aktrise bekend vir haar rolle in onder meer Mary Poppins Returns en The Girl on the Train, was die seremoniemeester by die geleentheid.

Tom Ford, mode-ontwerper en voorsitter van die CDFA, het gesê Blunt se “tydlose styl” het haar die perfekte keuse gemaak om as aanbieder van vanjaar se geleentheid op te tree.

“Die wonderlike ding van Emily is dat sy gaaf en talentvol is. Ek het groot bewondering vir haar.”

Die aktrises Zendaya, wat in The Greatest Showman te sien was, en Anna Taylor-Joy, wat die hoofrol in die Netflix-reeks The Queen’s Gambit vertolk het, het onderskeidelik eretoekennings vir mode-ikoon van die jaar en gesig van die jaar ontvang.

Swaargewig-ontwerpers soos Mary-Kate en Ashley Olson, Marc Jacobs, Rick Owens, Off-White en Louis Vuitton se Virgil Abloh, Miuccia Prada en Valentino se Pierpaolo Piccioli, asook nuwelinge soos Edvin Thompson van Theophilio, Maisie Schloss van Maisie Wilen en Jerry Lorenzo van Fear of God is in verskeie kategorieë benoem.

Nuwe ‘Downton Abbey’-fliek eersdaags te sien

‘Downton Abbey: A New Era’ begin in Maart 2022 in fliekteaters wys. (Foto: Facebook/Downton Abbey)

Die Crawleys herenig binnekort danksy ʼn opvolgrolprent van Downton Abbey.

Die fliek, wat in Maart volgende jaar sal begin draai, is getiteld Downton Abbey: A new era. In ʼn kort voorskou van die fliek, wat pas uitgereik is, kry kykers ʼn blik van die Crawleys se herehuis.

Die familie klou steeds vas aan die groot landgoed en Lady Mary (vertolk deur Michelle Dockery) en Lady Edith (vertolk deur Laura Carmichael) kan gesien word waar hulle sy aan sy by ʼn groot saal instap.

Terwyl aanhangers ʼn troue van Downton-personeel Daisy (Sophie McShera) en Andy (Michael Fox) verwag het, wys die nuwe lokprent dat Tom Branson (Allen Leech) weer trou beloof aan Lucy Smith (Tuppence Middleton), Lady Maud Bagshaw (Imelda Staunton) se buite-egtelike dogter.

Toe kykers laas die Crawleys in die 2019-rolprent gesien het, was dit 1927, en die familie het die koning en koningin by hulle aan’t huis op die platteland van Yorkshire gehad. Maggie Smith se geliefde karakter, die Dowager Countess, was siek en op haar sterfbed.

Haar laaste versoek was dat haar kleindogter die leisels van Downton oorneem en in nuwe foto’s uit Downton Abbey: A new era, blyk dit dat Mary dié belofte vervul.

Kyk hier na die lokprent:

Bronne: Vogue.com, E! News, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.