Hoe lyk Hollywood: Harry Styles stop die verkeer; vroue word vereer

Maroela Media bring jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Harry Styles se “Crosswalk Concert”

Harry Styles. (Foto: Facebook/Harry Styles)

Harry Styles. (Foto: Facebook/Harry Styles)

Die popsanger en hartebreker Harry Styles het vandeesweek die verkeer tot stilstand gebring by die voetoorgang voor die CBS-ateljee in Los Angeles tydens Woensdag se episode van The Late Late Show met James Corden.

Hoewel Styles aanvanklik nie van die idee gehou het nie, het Corden hom uiteindelik oortuig. “Die hele straat toemaak vir my om ʼn konsert te hou? Dis ongelooflik,” het Styles gesê.

Corden het tong in die kies verduidelik dat hulle slegs die straat sal toemaak wanneer die lig rooi is. “Jy sal toegang hê tot die oorgang vir 30 sekondes op ʼn slag, saam met almal wat dit wil gebruik.”

Styles, wat bekendheid verwerf het as deel van die popgroep One Direction, se tweede solo‑album, Fine Line, is vandag bekendgestel.

 

Survivor-deelnemer verwyder van spel

Dan Spilo. (Foto: Facebook/Survivor)

Dan Spilo. (Foto: Facebook/Survivor)

Vir die eerste keer in die Amerikaanse realiteitsreeks Survivor se geskiedenis, is een van die deelnemers uit die reeks verwyder ná bewerings van wangedrag.

Dan Spilo, ʼn 48-jarige talentagent, is die eerste deelnemer wat gevra is om die eiland te verlaat in dié uiters gewilde televisie-realiteitsreeks se 39 seisoene.

Spilo loop sedert die begin van die reeks deur onder beskuldigings deur vroulike deelnemers dat hy op ʼn onvanpaste wyse aan hulle geraak het.

Ná afloop van Woensdagaand se episode het die program op die skerm aangekondig dat Spilo nie na die reeks sal terugkeer nie.

“Dan is uit die spel verwyder ná nóg ʼn insident wat nie op kamera vasgevang is nie en waarby daar nie ʼn ander speler betrokke was nie,” het die aankondiging gelui. CBS en Spilo het nie verder kommentaar oor die saak uitgereik nie.

Die reeks se aanbieder, Jeff Probst, het Spilo se vertrek aan Entertainment Weekly bevestig. “In hierdie situasie, uit respek vir privaatheid en vertroulikheid, kan ek egter nie meer as dit sê nie.”

Probst het bygevoeg dat Spilo “nie gelukkig was daarmee” om die reeks te verlaat nie. “Nadat ons dit deurgepraat het, het Dan kalmeer en die reeks op ʼn respekvolle manier verlaat.”

Vroue in Hollywood word vereer

Reese Witherspoon tydens die toekenningsgeleentheid saam met haar dogter, Ava Phillippe, seun Deacon Phillippe en haar man, Jim Toth. (Foto: Instagram/Reese Witherspoon)

Reese Witherspoon tydens die toekenningsgeleentheid saam met haar dogter, Ava Phillippe, seun Deacon Phillippe en haar man, Jim Toth. (Foto: Instagram/Reese Witherspoon)

Dit blyk dat die skoner geslag besig is om Hollywood oor te neem.

Reese Witherspoon, wat tans te sien is in die Apple-reeks The Morning Show teenoor Jennifer Aniston en Steve Carrell, is Woensdag vereer met die Sherry Lansing Leadership-toekenning. Dié gesogte toekenning is tydens die Hollywood Reporter se “Women in Entertainment”-ontbytdinee in Los Angeles oorhandig.

Die toekenning is vernoem na Sherry Lansing, die voormalige hoof van Paramount Pictures wat die eerste vroulike hoof van ʼn ateljee in Hollywood was.

Charlize Theron, John Legend, Mindy Kaling en Maggie Rogers het ook dié geleentheid bygewoon.

Die sangeres en liedjieskrywer Taylor Swift is op die vooraand van haar 30ste verjaarsdag tydens Billboard se Vroue in Musiek-geleentheid aangewys as “Woman of the Decade”.

Swift het tydens haar toespraak ander vroue in die musiekbedryf toegespreek. “Hoekom doen ons so goed? Want ons móét vinnig groei. Ons móét so hard werk. Ons móét bewys dat ons dit verdien,” het sy gesê.

Taylor Swift is aangewys as Billboard se 'Woman of the Decade'. (Foto: Facebook/Taylor Swift)

Taylor Swift is aangewys as Billboard se ‘Woman of the Decade’. (Foto: Facebook/Taylor Swift)

“Ons móét al ons vorige prestasies oortref. Vroue in musiek, op die verhoog en agter die skerms, word nie toegelaat om op hul louere te rus nie. Ons word gebind aan hoër, en met tye onmoontlike, standaarde. Dit blyk dat my mede‑ vroulike kunstenaars hierdie uitdaging aanvaar het. Dit lyk of die druk wat ons kon kneus, ons eerder in diamante verander het. En wat ons nie doodgemaak het nie, het ons inderdaad sterker gemaak.”

Die 16-jarige tieneraktivis Greta Thunberg is Woensdag as Time-tydskrif se “Person of the Year” aangewys.

Thunberg het die gesig van die jeug se klimaatbeweging geword en het die afgelope jaar en ʼn half groot skares gelok met haar teenwoordigheid by betogings en konferensies. Sommige mense verwelkom haar aktivisme, insluitend haar toesprake waar sy wêreldleiers uitdaag om aardverwarming te keer, maar ander veroordeel haar aanvallende geaardheid.

Bronne: E News, Hollywood Reporter, San Diego Union Tribune

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.