Hollywood: ‘How I Met Your Father’ gemaak; raadslid (88) geskors oor rassisme

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

How I Met Your Father-hoofrol aangekondig

Hilary Duff. (Foto: Instagram)

Aanhangers van die komediereeks How I Met Your Mother ken die bekende frase “Have you met Ted?”, met verwysing na die hoofkarakter Ted Mosby. In die opvolgreeks, How I Met Your Father, sal kykers aan die frase “Have you met Sophie?” gewoond moet raak.

Die hoofrol van Sophie sal vertolk word deur Hilary Duff, die blondekopaktrise wat as kind bekendheid verwerf het vir die Amerikaanse tienerreeks Lizzie McGuire. ʼn Nuwe Lizzie McGuire-reeks sou verlede jaar op Disney Plus herleef, maar is skielik gekanselleer te midde van verfilming.

How I Met Your Father sal vervaardig word deur Isaac Aptaker en Elizabeth Berger, bekend vir reekse soos This is Us, Love en Victor, asook Carter Bays en Craig Thomas wat die oorspronklike How I Met Your Mother-reeks gemaak het.

Duff sal ook as vervaardiger optree. Die reeks sal tien episodes bevat en deur die stromingsdiens Hulu vertoon word.

“ʼn Paar jaar van nou af vertel Sophie vir haar seun die verhaal van hoe sy sy pa ontmoet het,” verduidelik Hulu.

Die plakkaat vir die oorspronklike reeks van ‘How I Met Your Mother’.

“Die storie neem ons ʼn paar jaar terug na 2021 waar Sophie en ʼn groep hegte vriende vasstel wie hulle is, wat hulle uit die lewe wil hê en hoe jy liefde vind in ʼn era met afspraak-apps en eindelose opsies.”

Duff het ʼn video op Instagram gedeel waarin sy die nuus van haar jongste rol verklap het. “Ek was baie gelukkig dat ek in my loopbaan ʼn paar wonderlike karakters kon speel en sien uit daarna om die rol van Sophie te vertolk,” het sy gesê.

“As ʼn groot aanhanger van How I Met Your Mother, voel ek geëerd en selfs ʼn klein bietjie senuweeagtig dat Carter en Craig my vertrou met die opvolgreeks van hulle ‘baba’. Isaac en Elizabeth is briljant en ek kan nie wag om saam met hulle te werk nie.”

Meer as 200 episodes van How I Met Your Mother is nege seisoene lank van 2005 tot 2014 op CBS uitgesaai. Josh Radnor, Cobie Smulders, Neil Patrick Harris, Jason Segel en Alyson Hannigan is in die reeks te sien. Bob Saget verleen die stem aan die storieverteller, ʼn ouer weergawe van Radnor se karakter, Ted Mosby.

Huldeblyke stroom in vir liedjieskrywer

Jim Steinman en Meat Loaf woon die Songwriters Hall of Fame se geleentheid by op 14 Junie 2012 in New York. (Foto: Larry Busacca/Getty Images for Songwriters Hall Of Fame/AFP)

Huldeblyke stroom in van oor die wêreld vir liedjieskrywer en vervaardiger Jim Steinman, wat Maandag in die ouderdom van 73 dood is.

Steinman het onder meer treffers soos Bonnie Tyler se “Total Eclipse of the Heart” en Celine Dion se “It’s All Coming Back To Me Now” geskryf.

Tyler het aan die BBC gesê: “Hy was ʼn lieflike, snaakse, gawe, ondersteunende, diep-omgee-persoon, asook ʼn ongelooflike liedjieskrywer met van die mees ikoniese liedjies.”

Steinman het ook aan die 1996-musiekblyspel Whistle Down The Wind saam met Andrew Lloyd Webber gewerk, wat hom as “uniek” beskryf het.

“Hy was enig in sy soort. Hy was een van die gaafste mense wat ek ooit in die bedryf ontmoet het,” het Lloyd Webber Woensdag op BBC Radio 4 se program The World at One gesê.

“Sy liefde vir [die Duitse komponis Richard] Wagner word onderskat. Hy was soort van die Wagner van rockmusiek.”

Steinman en Lloyd Webber se komposisies vir Whistle Down the Wind het die toekomstige Boyzone-treffer “No Matter What” ingesluit.

Celine Dion het die komponis ʼn “musikale genie” genoem. “Die geleentheid om saam met hom te werk was een van die grootste voorregte van my loopbaan. My gedagtes en gebede gaan uit aan sy familie en vriende,” het sy op Twitter geskryf.

Steinman se broer, Bill, het aan Associated Press gesê die liedjieskrywer het weens lewerversaking gesterf nadat hy reeds ʼn geruime tyd siek was.

Lid van Hollywood-stigting (88) geskors oor rassisme

Die Hollywood Foreign Press Association se Philip Berk in Desember 2010 in Beverly Hills, Kalifornië. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Philip Berk (88), lid van die Hollywood Foreign Press Association (HFPA) vir die afgelope 44 jaar en voormalige president van dié organisasie vir agt jaar, is geskors oor ʼn berig wat hy oor die Black Lives Matter-beweging in ʼn e-pos gedeel het.

Die HFPA steun onder meer die Golden Globe-toekennings.

Volgens berigte het Berk in ʼn e-pos wat na ʼn groep HFPA-lede uitgestuur is, ʼn berig gedeel wat die BLM-beweging as ʼn “rassistiese haatgroep” beskryf het.

Hy het later gesê hy het berou dat hy die e-pos gestuur het, het die Los Angeles Times berig. Volgens dié nuusbron het hy aan lede gesê hy het dit “aangestuur as ʼn bron van inligting”.

Die HFPA bestaan uit sowat 90 internasionale joernaliste wat in Los Angeles gevestig is. Die Los Angeles Times het vroeër vanjaar berig dié geheime organisasie het geen swart lede nie en derhalwe het die organisasie daarna onderneem om dit reg te stel.

“Phil Berk is met onmiddellike inwerkingtreding nie langer ʼn lid van die Hollywood Foreign Press Association nie,” het die raad Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

In die oorspronklike e-posketting, wat deur die Los Angeles Times onder oë gekry is, blyk dit dat ander lede Berk “rassisties”, “vieslik” en “skandalig” genoem het nadat hy die artikel gedeel het. ʼn Senior figuur in die HFPA het ook daarop gewys dat dit nie “gepaste gedrag” is nie.

Berk het geantwoord dat hy “slegs bedoel het om die skynheiligheid waardeur ons verswelg word uit te lig” en het bygevoeg: “Ek het dit aangestuur as ʼn bron van inligting en het geen verskuilde bedoelings gehad nie, maar nou berou ek dit dat ek dit gestuur het.”

Die berig wat hy gedeel het, was uiters krities oor die BLM-beweging te midde van verlede jaar se optogte wat ontketen is deur die moord op George Floyd deur ʼn wit polisieman. Dit het ook een van die medestigters van die BLM-beweging persoonlik gekritiseer.

“Die uitlatings in die berig wat deur Berk rondgestuur is, is die mening van die skrywer van die berig en nie die waardebeskouing van die HFPA nie. Die HFPA veroordeel enige vorm van rassisme, diskriminasie en haatspraak en vind sulke taal en inhoud onaanvaarbaar.”

Die e-pos is nie die eerste keer dat Berk omstredenheid veroorsaak het nie. Hy is in 2014 met verpligte verlof nadat hy ʼn memoir geskryf het wat nie die organisasie positief voorgestel het nie. In 2018 is hy daarvan beskuldig dat hy die akteur Brendan Fraser se agterstewe tydens ʼn geleentheid betas het.

Bronne: Variety.com, E! News, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.