Hollywood: Jason Momoa weer enkellopend; nuwe voorkoms vir Hefner se weduwee

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Lief en leed

Jason Momoa en Lisa Bonet arriveer vir die 77ste jaarlikse Golden Globe-toekennings in Januarie 2020, by die Beverly Hilton-hotel in Beverly Hills, Kalifornië. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Die Aquaman– en Game of Thrones-akteur Jason Momoa, wat menige vrou se knieë lam maak, en sy vrou van die afgelope vier jaar, Lisa Bonet, het aangekondig dat hul paaie ná 16 jaar saam gaan skei.

Momoa (42), bekend vir sy rol as Khal Drogo in Game of Thrones, en Bonet, wat Denise Huxtable in die komediereeks The Cosby Show vertolk het, is in 2017 getroud en het twee kinders, Nakoa-Wolf Manakauapo Namakaeha Momoa (13) en Lola Iolani Momoa (14).

Bonet, wat van 1987 tot 1993 met die musikant Lenny Kravitz getroud was, het ook saam ʼn dogter– die aktrise Zoë Kravitz, wat onder meer in die trefferreeks Big Little Lies te sien is en tans met die akteur Channing Tatum uitgaan.

Die egpaar het ʼn gesamentlike verklaring op Instagram uitgereik en gesê hulle het “die druk van dié transformasietydperk gevoel”.

“’n Revolusie is besig om te ontvou en ons familie is geen uitsondering nie,” het hulle geskryf.

“Ons deel dié nuus nie omdat ons dink dit is nuuswaardig nie, maar omdat ons met ons lewens wil voortgaan met waardigheid en eerlikheid. Ons wil mekaar bevry sodat ons kan wees wie ons leer om te wees.”

Bonet (54) en Momoa het mekaar in 2004 by ʼn jazzklub ontmoet.

Jason Momoa en Lisa Bonet op die wêreldpremière van Apple TV+ se ‘SEE’ by die Fox Regency Village-teater in Los Angeles in Oktober 2019. (Foto: Nick Agro/AFP)

Machine Gun Kelly en Megan Fox by die iHeartRadio-musiektoekennings by die Dolby-teater in Los Angeles, Kalifornië, op 27 Mei 2021. (Foto: Emma McIntyre/Getty Images for iHeartMedia/AFP)

Intussen seëvier die liefde vir die aktrise Megan Fox en die musikant Machine Gun Kelly, wie se regte naam Colson Baker is, en dié twee het pas hulle verlowing aangekondig.

Die Jennifer’s Body-aktrise het op 11 Januarie in Puerto Rico die jawoord aan die Amerikaanse rocker en kletsrymer gegee.

Die paartjie het foto’s en video’s van die romantiese verlowing op sosiale media geplaas. Hulle het in 2020 op die stel van die indie-rolprent Midnight in the Switchgrass ontmoet. Fox het daarna in die musiekvideo vir “My bloody Valentine” verskyn.

Kelly het saam met Stephen Webster die smarag- en diamantverloofring ontwerp. Die ring se geskatte waarde is $300 000 (sowat R4,6 miljoen).

Kylie Jenner is Instagram se gewildste vrou

Kylie Jenner. (Foto: Instagram/Kylie Jenner)

Die 24-jarige miljardêr en werklikheidster Kylie Jenner het pas die foto- en video-app Instagram se gewildste vrou geword.

Sy het die Amerikaanse sangeres Ariana Grande verbygesteek met ʼn aantal volgelinge van meer as 300 miljoen en is die eerste vrou op die app om dié mylpaal te haal.

Die sokkerspeler Cristiano Ronaldo bly met 389 miljoen die persoon op Instagram met die meeste volgelinge. Sy mede-sokkerster Lionel Messi het ook die 300 miljoen‑kerf verbygesteek.

Kylie het bekendheid verwerf as deel van die wêreldbekende Kardashian-familie en is die halfsuster van Kim, Khloé, Kourtney en Rob. Haar suster is die bekende model Kendall Jenner en hulle pa is die Olimpiese atleet Bruce Jenner, deesdae bekend as Caitlyn.

Die Amerikaanse saketydskrif Forbes het in Maart 2019 aangekondig dat Kylie, eienaar van die grimeringsmaatskappy Kylie Cosmetics, op die ouderdom van 21 amptelik die jongste selfgemaakte miljardêr ooit is.

Kylie Jenner se babafoto wat vir amper ‘n jaar die meeste “likes” op Instagram gehad het. (Foto: Instagram)

Sy het in September verlede jaar aangekondig dat sy swanger is met haar en die musikant Travis Scott se tweede kind. Scott het onlangs die nuusopskrifte gehaal ná die tragiese dood van 10 mense tydens sy konsert by die Astroworld-fees in Houston, Texas.

Hulle eerste dogter, Stormi Webster, is in 2018 gebore.

Die aankondiging van haar swangerskap met Stormi het destyds Instagram-rekords gebreek, met 18 miljoen app-gebruikers wat dié aankondiging op Instagram ge-“like” het.

Foto’s: Nuwe voorkoms vir Hefner se weduwee

Crystal Hefner spog met haar nuwe, natuurlike voorkoms. (Foto: Instagram/Crystal Hefner)

Die Playboy-magnaat Hugh Hefner se derde vrou, Crystal, het op sosiale media gedeel dat sy alles wat “vals” was aan haar liggaam laat verwyder het in ʼn poging om “meer soos haarself te voel”.

“Kuisheid is wat my deesdae bemagtig,” het dié 35-jarige voormalige Playboy-model by foto’s van haar nuwe, meer natuurlike voorkoms geskryf.

“Hierdie is die ware ek. Ek het voorheen vir ander mense geleef en om ander gelukkig te maak, en het gewroeg in die proses.”

In kort, het Crystal gesê, “seks verkoop”.

“Ek weet nie of ek bemagtig gevoel het deur skraps geklee te wees en my borste te vertoon nie. Ek het net gevoel dit word van my verwag, maar nou kan ek met selfvertroue en trots sê dat kuisheid is wat my deesdae bemagtig, want dit voel soveel beter en dit sal só wees vir die res van my lewe.”

Sy het ook ou foto’s van haarself van Instagram verwyder, al was sy eers “bang” dit sou haar gewildheid laat taan.

“Ek voel die mense wat steeds op dié punt saam met my is, gee werklik vir my om en het op ʼn positiewe manier in my lewe belê.”

Crystal was met Hefner getroud tot sy dood in September 2017. Sy gaan deesdae uit met die 32-jarige akteur, Ryan Malaty.

Bronne: E! News, Hello, Kerrang!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus dan weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.