Hollywood: Kanye, Russiese supermodel glo ʼn paartjie; ‘The Bachelor’-man tree finaal uit

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Kanye West, Irina Shayk glo ʼn paartjie

Kanye West. (Foto: Dimitrios Kambouris / Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die skindertonge gons behoorlik nadat dit aan die lig gekom het dat die kletsrymer en liedjieskrywer Kanye West skynbaar aanbeweeg het sedert sy egskeiding van die realiteitster en sakevrou Kim Kardashian.

West en die Russiese supermodel, Irina Shayk, is onlangs afgeneem waar hulle saam vakansie hou net buite Provence, Frankryk. Hulle het glo West se 44ste verjaardag gevier.

Foto’s van die paar, wat saam op die terrein van die luukse Villa la Coste-boetiekhotel stap en deur ʼn groep mense vergesel word, het soos ʼn veldbrand op die internet versprei. Shayk en West het nog nie die gerugte dat hulle ʼn paartjie is bevestig nie.

Volgens ooggetuies het die twee mekaar se geselskap geniet en het hulle gelukkig en ontspanne voorgekom. Die paar het ook foto’s van mekaar geneem.

E! News berig hulle is saam by ʼn lughawe in New Jersey in die VSA gesien na afloop van hulle Franse vakansie.

West en Kardashian, sy vervreemde vrou, het in Februarie laat blyk dat hulle huwelik van sewe jaar op die rotse is. Hulle het vier kinders: sewejarige dogter North, Saint (5), Chicago (3) en ʼn 2-jarige seuntjie Psalm.

Irina Shayk. (Foto: Lars Niki/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Shayk (35) het voorheen met die akteur Bradley Cooper uitgegaan. Hulle het ʼn vierjarige dogtertjie, Lea.

Shayk het in 2010 ʼn verskyning in West se musiekvideo vir die liedjie “Power” gemaak. Sy het ook in 2012 in een van West se modeskoue by die Paryse modeweek verskyn.

ʼn Bron na aan die paartjie het aan E! News gesê West en Shayk het mekaar eers onlangs weer in New York raakgeloop en flikkers vir mekaar gegooi.

“Dit is baie gemaklik en hulle het nog net vir ʼn maand weer kontak. Kanye het gesê dat hy nie tans na ʼn ernstige verhouding op soek is nie, maar dat hy van Irina hou.”

Kardashian het glo intussen aangedui dat sy van West en Shayk se verhouding te hore gekom het en dat sy nie daarteen gekant is nie. “Solank dit nie haar kinders raak nie, is sy gelukkig dat Kanye ander vroue uitneem.”

The Bachelor-man tree finaal uit

Chris Harrison in Kalifornië in Januarie 2020. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Chris Harrison, wat vir 19 jaar lank die aanbieder van die Amerikaanse werklikheidsreeks The Bachelor was, is permanent dié pos kwyt. Hy het ook The Bachelorette en Bachelor in Paradise aangebied.

Harrison het vroeër tydelik ʼn afstand tussen hom en die franchise geskep nadat hy Rachael Kirkconnell, wat die vorige bachelor se laaste roos ontvang het, verdedig het toe dit aan die lig gekom het dat sy in 2018 ʼn partytjie met ʼn plantasietema – wat as rassisties beskou word – bygewoon het.

“Die woke-polisie is daar buite,” het hy gesê tydens ʼn onderhoud met Rachel Lindsay, ook ʼn voormalige bachelorette en die eerste swart vroulike hoofrol van dié franchise.

“Hierdie arme meisie, Rachael, word vir die leeus gegooi en ek weet nie hoe jy in staat is, wanneer jy dit nog nooit gedoen het nie, om woke genoeg te wees, om welsprekend genoeg te wees, om gereed te wees om dit te hanteer nie.”

Dit het ʼn herrie ontketen en Harrison het op sosiale media om verskoning gevra dat hy “hom verkeerdelik uitgedruk het op ʼn manier wat rassisme aanblaas”.

Volgens Deadline ontvang Harrison ʼn skikkingspakket van agt syfers om stil te bly oor sy vertrek van die program.

Hy het in ʼn Instagram-verklaring oor sy finale buiging op die program gesê: “Ek het ʼn ongelooflike tyd as aanbieder van The Bachelor-franchise gehad en ek is opgewonde daaroor om ʼn nuwe hoofstuk te begin.

“Ek is so dankbaar vir Bachelor Nation vir al die herinneringe wat ons saam geskep het. Terwyl my twee dekades lange reis tot ʼn einde kom, sal die vriendskappe wat ek gesmee het vir ʼn leeftyd hou.”

Bronne: Bazaar, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

Mens móét groot lippe hê lyk dit my…