Hollywood: Koninklikes deel foto’s van ‘oupa Philip’; ‘Home Alone’-ster word pa

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Home Alone-ster word pa

Macaulay Culkin. (Foto: Instagram)

Macaulay Culkin van Home Alone-faam en die voormalige Disney Channel-ster Brenda Song het vroeër vandeesmaand ʼn babaseuntjie ryker geword.

Die baba heet Dakota Song Culkin en is vernoem na Culkin se ouer suster wat in 2008 dood is nadat ʼn voertuig haar getref het.

Luidens ʼn verklaring is die nuwe ouers en hulle babaseuntjie “almal gesond en gelukkig”. Die nuwe ouers het bygevoeg: “Ons is oorstelp.”

Culkin (40) en Song (33) is sedert 2017 ʼn paartjie.

The Bachelor-ster sê hy is gay

Colton Underwood. (Foto: Matt Winkelmeyer/Getty Images North America/AFP)

Colton Underwood, ster van The Bachelor, het pas aangekondig dat hy homoseksueel is. Underwood het in 2019 tydens die 23ste seisoen van dié gewilde Amerikaanse program ʼn groep vroue gehad om van te kies en te keur.

Underwood (29) het ook aan The Bachelorette en Bachelor in Paradise deelgeneem. Hy het gedurende dié programme volgehou dat hy “nog ʼn maagd” is.

“Ek het vir ʼn lang tyd van myself af weggehardloop. Ek het myself vir ʼn lang tyd gehaat,” het Underwood aan Robin Roberts op Good Morning America gesê.

“Ek is gay. Ek het daarmee vrede gemaak vroeër vanjaar en het dit verwerk. Die volgende stap was soort van om almal te laat weet.”

Voor hy as werklikheidstelevisiester bekend geword het, het Underwood Amerikaanse voetbal gespeel en is hy na die NFL-proewe uitgenooi voordat sy loopbaan in dié sport in 2016 tot ʼn einde gekom het.

In The Bachelor het hy vir Cassie Randolph gekies, maar uiteindelik besluit om haar nie te vra om te trou nie. Die paartjie is verlede jaar uiteen.

Randolph het in September verlede jaar ʼn beskermingsbevel teen Underwood verkry en het hom beskuldig van agtervolging. Sy het later gevra dat die polisieondersoek gestaak word.

Underwood sê hy het besluit om “uit te kom” nadat die wêreldwye pandemie uitgebreek het. Hy het bygevoeg dit was ʼn tyd “waarin mense na hulleself in die spieël moes kyk en uitpluis wie hulle is en waarvan hulle weghardloop of wat hulle in hulle lewe uitstel”.

Hy het bygevoeg dat hy lankal reeds bewus is van sy seksualiteit en geweet het hy “voel anders” vandat hy ses jaar oud was.

“As ek terugkyk, is daar baie faktore waarom ek teruggehou het. Ek is tans die gelukkigste en gesondste wat ek nog ooit in my lewe was,” het hy gesê.

Cassie Randolph en Colton Underwood in gelukkiger tye. (Foto: Instagram)

Volgens E! News het Underwood die nuus vroeër vanjaar aan sy familie gebreek. ʼn Bron na aan die familie vertel dat hulle uiters ondersteunend is.

“Dit was ʼn baie emosionele oomblik, maar almal verstaan en is baie ondersteunend. Dit was nie ʼn algehele skok nie. Colton het ʼn paar maande gelede ʼn paar leidrade vir sy vriende gegee en het uiteindelik met die waarheid uitgekom teenoor diegene met wie hy gemaklik voel.”

Nadat hy regstreeks op Good Morning America met die sak patats vorendag gekom het, het hy vir Randolph om verskoning gevra. “Ek het dinge opgemors en baie verkeerde keuses gemaak.”

Hy het gesê toe die program in 2019 uitgesaai is, het hy gevoel dat hy verlief was op haar. “Dit het dinge net nog moeiliker en meer deurmekaar gemaak vir my. As ek eerlik moet wees, was ek lief vir alles omtrent haar. Dit is moeilik vir my om te sê presies wat my emosies was tydens ons verhouding, want ek was besig met ʼn innerlike stryd.”

Britse koninklikes deel foto’s van oupa Philip

Prins Philip en sy agterkleinseun, prins George. (Foto: Instagram/KensingtonRoyal)

Vir die ganse wêreld was prins Philip, hertog van Edinburgh, slegs ʼn koninklike. Sy bloubloed-gesin onthou hom egter as ʼn geliefde pa, oupa en oupagrootjie.

Prins Philip het Vrydag vreedsaam gesterf by die Windsor-kasteel in Brittanje. Hy sou op 10 Junie vanjaar sy 100ste verjaarsdag vier.

Prins William en sy vrou, Kate Middleton, het foto’s op Instagram gedeel van die ontslape prins en sy vrou, koningin Elizabeth II, wat saam met sy agterkleinkinders, prins George en prinses Charlotte, poseer toe sy nog ʼn baba was.

“Vandag deel ons, saam met ander lede van die koninklike familie, foto’s van die hertog van Edinburgh. Ons onthou hom as pa, oupa en oupagrootjie,” lui die inskrywing by die foto’s.

In een van die foto’s is prins Philip te sien saam met sewe van sy agterkleinkinders by die Balmoral-kasteel in 2018.

Clarence House het gekies om foto’s en video’s te deel wat fokus op prins Philip se verhouding met sy seun, prins Charles. “Ons onthou die hertog van Edinburgh as ʼn geliefde pa en skoonpa.”

ʼn Klein, intieme begrafnis word vir prins Philip op Saterdag 17 April beplan. Weens die koronaviruspandemie is die begrafnisreëlings aangepas met slegs 30 mense wat die geleentheid gaan bywoon.

Die begrafnis kan hier regstreeks gekyk word.

Bronne: BBC, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.