Hollywood: Kyk wie het babakoors; Britney al weer in die sop

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Britney weer in die sop

Britney Spears. (Foto: Facebook)

Dit lyk asof die popster Britney Spears deesdae net nie uit die nuus kan bly nie.

Die 39-jarige sangeres, wie se pa, Jamie, verlede week ingestem het om weg te stap ná ʼn 13 jaar lange voogdyskap oor sy dogter se sake, word nou van aanranding beskuldig deur een van haar huispersoneellede.

Die werknemer beweer die voorval het Maandag by Spears se huis in Kalifornië plaasgevind.

Spears se prokureur het die aantygings ontken en gesê die voorval word “opgeblaas”. Aanranding is ʼn strafregtelike oortreding in Kalifornië.

Spears het glo die werknemer se selfoon tydens die voorval uit haar hand geklap. In ʼn verklaring wat aan die BBC uitgereik is, het Mathew S Rosengart, Spears se prokureur, gesê dit is “niks meer as ʼn hoorsê-storie, met geen handgemeenheid en duidelik geen beserings nie”.

“Enigiemand kan ʼn aantyging maak, maar hierdie bewering behoort dadelik in die kiem gesmoor te word. Die sheriff se kantoor het erken dat die voorval ʼn ‘geringe oortreding’ was en het bevestig dat daar geen beserings was nie.”

Babakoors

Scarlett Johannson en Colin Jost. (Foto: Film Magic/Facebook)

Die Black Widow-aktrise Scarlett Johansson en haar man, Colin Jost, het vroeër vandeesweek bekend gemaak dat hulle ʼn babaseuntjie ryker geword het.

Die seuntjie heet Cosmo en is Jost (39) se eersteling. Dit is Johansson (36) se tweede kind – sy het ʼn sesjarige dogter, Rose Dorothy, uit haar huwelik met Romain Dauriac. Johannson en Jost is in Oktober verlede jaar getroud.

Jost het Donderdag op Instagram geskryf: “Oukei, oukei, ons het ʼn baba gehad. Sy naam is Cosmo. Ons is baie lief vir hom.”

Johannson, wat as ʼn Russiese spioen te sien is in Black Widow, dagvaar nou vir Disney vir kontrakbreuk nadat die fliek tegelykertyd op stromingsdienste en in fliekteaters uitgereik is.

Rosie Huntington-Whiteley en Jason Statham verlede jaar op die Oscars se Vanity Fair-partytjie. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Jason Statham, die akteur bekend vir sy rolle in aksieflieks soos The Fast and the Furious en The Bank Job, en sy verloofde, die supermodel Rosie Huntington-Whiteley, het Donderdag op Instagram aangekondig hulle verwag nog ʼn pienkvoet.

Die egpaar het in 2017 hulle eersteling, Jack, verwelkom. Huntington-Whiteley (34) het Donderdag ʼn foto op Instagram geplaas waar sy met ʼn bababoepie spog. “Ta-da, #round2,” het sy by die foto geskryf.

Statham (54) en Huntington-Whiteley het mekaar in 2009 ontmoet en het in 2016 hulle verlowing op die tapyt by die Golden Globe-geleentheid bevestig.

Op die kassie

Die lokprent vir Disney+ se lankverwagte Star Wars: Visions– anime-antologiereeks is Dinsdag uitgereik.

Die reeks sal nuwe Star Wars-stories vertel deur die tradisionele styl van Japannese anime. Die Engelse oorklanking-rolverdeling is ook aangekondig en sluit in Joseph Gordon-Levitt, Bobby Moynihan, Temeura Morrison, Shelby Young en Karen Fukuhara.

Visions se stories sal deur sewe verskillende Japannese anime-ateljees vertel word, volgens Disney.

“Dit is die stories vir ʼn sterrestelsel wat so ʼn inspirasie is vir talle visioenêre storievertellers,” sê James Waugh, uitvoerende vervaardiger van Visions.

Die Amerikaanse aktrise Emma Stone het intussen bevestig dat sy deel sal wees van Cruella 2, die opvolg van die Disney-fliek wat vroeër vanjaar loketopslae gemaak het. Die uitreikingsdatum vir die fliek is nog nie bekend gemaak nie.

Bronne: BBC, Just Jared.com, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.