Hollywood: Legende se as geskuif; Britney wil pa ‘aankla’

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se internasionale vermaaknuus.

Legende se as in Hongarye begrawe

Frederic Prinz von Anhalt, wewenaar van Hollywood-legende Zsa Zsa Gabor, hou ‘n foto van haar vas tydens ‘n seremonie waarop haar as in Hongarye begrawe is. Sy is in 2016 oorlede. (Foto: Gergely Besenyei/AFP)

Die Hollywood-ster Zsa Zsa Gabor se as is tydens ʼn seremonie in Hongarye, haar vaderland, begrawe. Haar as is in die Karapesi-begrafplaas in Boedapest begrawe.

Die legendariese aktrise, wat in flieks soos Lili en Moulin Rouge (1952) gespeel het, was bekend vir haar gladdebek-sêgoed en talle huwelike.

Sy is in 2016 in die ouderdom van 99 oorlede. Haar laaste man, Frederic Prinz von Anhalt, het gesê Gabor het in haar testament versoek dat sy na Hongarye wil terugkeer ná haar dood.

Hy het gesê dat hy die reis met haar as via Londen en Duitsland onderneem het, en volgens BBC wou Von Anhalt hê die seremonie moet “’n viering van die lewe, nie ʼn begrafnis wees nie”.

ʼn Kwart van haar as bly in Los Angeles agter.

“Sy was eersteklas, sy het haar eie sitplek en paspoort gehad, alles hier. Dit was haar laaste reis, sy het altyd eersteklas gereis, sy het sjampanje gehad en kaviaar…”

Die aktrise, ʼn ster uit die goue era van Hollywood, is gebore as Sari Gabor in Boedapest in 1917.

Sy het die naam van Zsa Zsa by haar familie gekry en is as Mej. Hongarye gekroon voordat sy na die VSA verhuis het om ʼn akteursloopbaan aan te durf.

Sy het tydens haar lang loopbaan in dosyne rolprente gespeel, maar was meer bekend vir haar luukse leefstyl en nege huwelike, insluitend met die Britse akteur George Sanders en die hotelmagnaat Conrad Hilton.

Survivor kondig nuwe seisoen aan

Die Survivor-aanbieder Jeff Probst. (Foto: Facebook/Survivor)

Die werklikheidsreeks Survivor het pas ʼn nuwe Amerikaanse seisoen aangekondig. Dit is die 41ste seisoen van die reeks en word in ʼn lokprent beskryf as “die dagbreek van ʼn nuwe era”.

CBS het in ʼn verklaring gesê die nuwe seisoen sal op 20 September afskop met ʼn twee uur lange seisoenpremière.

Jeff Probst sal oudergewoonte die aanbieder van die seisoen wees. Die seisoen sal 18 deelnemers hê en hulle sal aan die begin in drie stamme van ses elk opgedeel word. Hulle sal nie rys of vuursteen kry nie en sal dit deur ʼn rits uitdagings moet verdien.

“Ons is uiters opgewonde oor Survivor 41. Dit is ʼn splinternuwe spel – vinnig, gevaarlik en baie moeilik om te wen en uiters vermaaklik om na te kyk. Aanhangers gaan mal wees daaroor,” het Probst gesê.

Britney gaan pa ‘laat ondersoek’

Britney Spears in Julie 2019. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Die Amerikaanse popster Britney Spears het Woensdag aan ʼn Los Angeles-regter gesê sy wil haar pa, Jamie Spears, “laat ondersoek” en dat sy ʼn formele klag teen hom wil lê in die berugte voogdyskapstryd wat steeds voortduur.

Volgens People het die 39-jarige sanger aan regter Brenda Penny gesê sy wil haar pa van die misbruik van sy voogdyskap aankla.

“Ek wil vandag ʼn klag teen my pa indien. Ek wil my pa laat ondersoek,” het sy tranerig tydens die verhoor gesê.

Britney het ook na die voogdyskap van die afgelope 13 jaar verwys as “f-n wreedheid” en het beweer sy leef met sekere beperkings, soos byvoorbeeld dat sy nie mag koffie drink nie.

“As dit nie misbruik is nie, dan weet ek nie wat is nie,” het sy glo gesê.

NBC News het berig dat Britney gesê het sy was “ongelooflik bang” vir haar pa en dat “die voogdyskap my pa toegelaat het om my lewe verwoes”.

Saam met haar dieet, beweer Britney dat haar werkure beheer word, wat beteken dat sy tot 70 uur per week werk.

“Hulle doel was om my te laat voel asof ek gek is, en ek is nie. Dit is nie oukei nie.”

Ná Britney se verhoor is sy toegelaat om Matthew Rosengart, wie se firma al bekendes soos Steven Spielberg, Sean Penn, Ben Affleck en Eddie Vader verteenwoordig het, aan te stel as haar regsverteenwoordiger in haar voogdyskapstryd.

Jamie se regspan het nie op People se versoek om kommentaar gereageer nie.

Bronne: BBC, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Baie interessant dat Frederic Prinz von Anhalt, die weduwee is van Zsa Zsa Gabor.

Gerhardus ·

“Frederic Prinz von Anhalt, weduwee van Hollywood-legende Zsa Zsa Gabor,”? Ek het altyd gedink ‘n man is ‘n wewenaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.