Hollywood: Model ‘jammer’ oor boeliegedrag; Paris nooi jou na haar troue toe

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Chrissy Teigen sê jammer oor boeliegedrag

Chrissy Teigen woon die Vanity Fair Oscar-partytjie by in Beverly Hills, Kalifornië in 2020. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse model Chrissy Teigen het om verskoning gevra aan die televisiepersoonlikheid Courtney Stodden nadat sy hulle ʼn dekade gelede aanlyn geboelie het.

Stodden (26) het in April 2021 verklaar dat sy nie-binêr is nie en dus nou “hulle” as enkelvoud-voornaamwoord gebruik.

Teigen (35) het glo in 2011 vir Stodden boodskappe op Twitter gestuur wat hulle aanmoedig om hulle eie lewe te neem.

Dit was in dié tydgreep dat Stodden bekend geraak het as die 16-jarige bruid van die akteur Doug Hutchinson, wat 50 jaar oud was ten tyde van hulle troue.

Stodden het die verskoning aanvaar, maar gesê dit kan net ʼn poging wees om die moontlike skade aan Teigen se naam te beperk.

Teigen, wat getroud is met die sanger John Legend, het gesê sy is nou “skaam en heeltemal verneder” deur haar optrede ʼn dekade gelede.

Sy het onlangs na Twitter teruggekeer nadat sy ʼn breuk daarvan geneem het omdat sy nie die “negatiwiteit” op die platform kon hanteer nie.

“Min mense is gelukkig genoeg om voor die hele wêreld aanspreeklik gehou te word vir kommentaar wat hulle in die verlede gelewer het,” het Teigen Dinsdag op Twitter geskryf.

“Ek is gekrenk deur wie ek was. Ek was ʼn onsekere, aandagsoekende trol. Ek is skaam oor en heeltemal verneder deur my gedrag, maar dit is niks in vergelyking met hoe ek vir Courtney laat voel het nie.”

Courtney Stodden. (Foto: Instagram/Courtney Stodden)

Teigen het bygevoeg dat sy “vir altyd daaraan sal werk” om ʼn beter mens te wees en nie weer haar 13,6 miljoen volgelinge in die steek te laat nie.

“Ek het so hard gewerk om vir julle vreugde te bied en om julle lief te hê; die gevoel dat ek julle teleurgestel het, is werklik byna ondraaglik,” het sy gesê.

“Dít was nie my enigste foute nie en sal beslis ook nie my laaste wees nie.”

Die ster beweer sy het privaat met Stodden kontak gemaak en gesê: “Ek hoop jy [Stodden] kan genees en weet hoe innig jammer ek is.”

Stodden hou egter vol sy het geen woord uit Teigen se kamp gehoor nie. “Ek wil met alles in my glo dat die verskoning opreg is, maar dit voel soos ʼn openbare poging om haar vennootskappe met Target en ander handelsmerke te red wat besef haar wokeness [’n soort verskerpte sensitiwiteit vir eietydse sosiale geregtigheidskwessies] is ʼn gebreekte plaat.”

Volg Paris Hilton se reis tot by die kansel

Paris Hilton het in ‘n inskrywing op Instagram gesê sy “nooi aanhangers uit” na haar troue, wat op die stromingsnetwerk Peacock te sien sal wees.

Jy is genooi na Paris Hilton se troue.

Die netwerk NBCU se stromingsnetwerk Peacock het pas aangekondig dat ʼn nuwe werklikheidsreeks, Paris in Love, eersdaags die lig sien.

Dié reeks sal die skatryk Amerikaanse hotelerfgenaam Paris Hilton se reis tot voor die kansel dokumenteer.

Hilton het in Februarie vanjaar op haar 40ste verjaarsdag verloof geraak aan die waagkapitalis Carter Reum. Dit is haar vierde verlowing, maar sy het nog nooit die kansel gehaal nie.

Luidens ʼn verklaring sal Paris in Love uit 13 episodes bestaan. Die reeks sal vir Hilton volg terwyl sy gereedmaak vir haar groot dag en onder meer die perfekte trourok en venue uitkies en die bestemmingstroue van haar drome ontwerp. Die troue sal ook uitgesaai word.

“Kykers is in vir ʼn vermaaklike en emosionele reis en sal ʼn persoonlike kant van Paris leer ken wat slegs haar naaste vriende en familie gewoonlik sien.”

Paris in Love word vervaardig deur Warner Bros. Unscripted Television in samewerking met Shed Media, Telepictures and Slivington Manor Entertainment. Hilton en Bruce Gersh is die uitvoerende vervaardigers.

Hollywood-legende Norman Lloyd (106) sterf

Norman Lloyd in Beverly Hills, Kalifornië in 2018. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Huldeblyke stroom in vir die akteur Norman Lloyd, wat in sy lang loopbaan saam met regisseur Alfred Hitchcock gewerk het en later in die mediese drama St Elsewhere verskyn het. Hy is in die ouderdom van 106 oorlede.

Judd Apatow, die regisseur wat saam met hom gewerk het aan die 2015-fliek Trainwreck, sê Lloyd “was lief vir storievertelling en om mense te laat lag”.

“Wat ʼn loopbaan,” het die akteur Ben Stiller gesê van Lloyd, wat in flieks soos Dead Poets Society, Charlie Chaplin se Limelight en Martin Scorcese se The Age of Innocence gespeel het.

Hy het ook as dr. Daniel Auschlander verskyn in ses seisoene van St. Elsewhere.

Hy is gebore Norman Perlmutter in 1914 in New Jersey en het sy loopbaan op die verhoog begin as lid van Orson Welles se befaamde Mercury-teatergeselskap in die 1930’s.

Een van sy vroegste flieks was Alfred Hitchcock se 1942-riller Saboteur, waarin ʼn Duitse spioen van die Vryheidstandbeeld in New York af hom te pletter na benede val.

Hitchcock het hom in sy 1945-fliek Spellbound gebruik en uiteindelik gevra om episodes van sy Alfred Hitchcock Presents-televisiereeks te regisseer en te vervaardig.

Hy is vir Chaplin se 1952-fliek Limelight gekies nadat hy ʼn vriendskap met dié Hollywood-legende gesmee het, geskoei op hulle wedersydse liefde vir tennis.

Hy was ook die streng hoof Mr Nolan in die 1989-fliek Dead Poets Society teenoor Robin Williams en ʼn jong Ethan Hawke.

“Soek die woord ‘mensch’ in die woordeboek en jy sal ʼn foto van Norman Lloyd sien,” het Brent Spiner, wat saam met hom in die fliek Star Trek: Next Generation (1993) verskyn het, op Twitter geskryf.

Lloyd se ander televisierolle sluit in Modern Family, The Practice en Murder, She wrote, waarin hy die rolle van drie verskillende karakters vertolk het.

Bronne: BBC, E! News, Deadline.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.