Hollywood: ʼn Troue – en wittebrood – so na ʼn miljardêr se smaak

Paris Hilton en Carter Reum is getroud. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Sedert die bekende hotelerfgenaam, televisiepersoonlikheid en platejoggie, Paris Hilton, in November met die waagkapitalis Carter Reum getroud is, kon sy nog nie uitgepraat raak oor haar nuwe huwelikstatus nie.

Nie net deel sy al langer as ʼn maand foto’s van haar uitspattige bruilofsfees, wat oor drie dae gestrek het, op sosiale media nie, maar spog ook byna daagliks met foto’s van haar luukse wittebrood, wat tot sewe weke verleng is.

Hilton het ook afdelings op haar amptelike webwerf geskep met foto’s en inskrywings oor haar troue en wittebrood.

Hilton het uiteindelik die kansel gehaal nadat sy drie keer tevore verloof was. Sy en Reum (40), was 15 jaar lank vriende voordat hulle in 2019 begin uitgaan het. Hy het haar in Februarie, tydens haar 40ste verjaardagpartytjie op ʼn private eiland, gevra om te trou.

Die bruilofsfees

Die paartjie het op Donderdag 11 November in Bel-Air op die landgoed van haar oorlede oupa, die hotelmagnaat Barron Hilton, die jawoord gegee. Hilton het ʼn pasgemaakte Oscar de la Renta-skepping gedra.

Paris Hilton en haar suster, Nicky Hilton Rothschild. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Volgens Vogue het Tessa Hilton, Halle Reum, Brooke Brinson, Whitney Davis en Farrah Aldjufrie in pienk Alice & Olivia-rokke as Hilton se strooimeisies opgetree. Haar suster, Nicky Hilton Rothschild, was die hoofstrooimeisie, ook in ʼn Alice & Olivia-rok. Reum het ʼn vlootblou tuxedo deur Zegna gedra.

Nadat hulle as man en vrou verklaar is, het gaste aangesit vir ʼn deftige onthaal, waar die kunstenaar Demi Lovato die liedjie “I will always love you” uitgevoer het. Hulle eerste dans as paartjie was op Bruno Mars se “Just the way you are”.

Hilton het tydens die onthaal drie keer verklee: Eers het sy ʼn skepping deur Galia Lava gedra, daarna een deur Pamella Roland en nog ʼn skepping deur Oscar de la Renta.

Die viering is op Vrydag 12 November verleng met ʼn karnavaltemapartytjie op die Santa Monica-pier. Dié kleurvolle geleentheid het karnavallekkernye soos limonade, koek en worsbroodjies ingesluit, asook speletjies met ʼn Hilton-tema, ʼn mallemeule en die bekende platejoggie, DJ Diplo, wat vir die musiek gesorg het.

Lance Bass van N’Sync-faam en Demi Lovato, asook Hilton se tannie, Kyle Richards, het die partytjie bygewoon. Hilton het ʼn neonpienk rok, wat ontwerp is deur Stacey Bendet van Alice & Olivia, vir die geleentheid gedra.

Paris Hilton en haar strooimeisies. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Die bruilofsfees is Saterdag 13 November met ʼn deftige ete afgesluit. Die gaste het Hilton en Reum se nabye familielede, asook bekendes soos Kate Beckinsale, Ashley Benson, Jasmin Tookes, Sofia Richie, Emma Roberts, Kim Kardashian en Jaden Smith, ingesluit.

Die sangeres Macy Gray het tydens dié geleentheid opgetree.

Die drie dae lange bruilofsfees is noukeurig op film vasgelê vir Paris in love, ʼn reeks van 13 episodes wat sedert verlede week deur Peacock gestroom kan word.

“Ek kan nie wag om ons gesin uit te brei nie,” het Hilton ná die troue gesê. “Ek voel asof ek en Carter legkaartstukke is en ek het nooit gedink ek sal ʼn man soos hy ontmoet nie. Hy is lief vir my as Paris en nie as Paris Hilton nie. Hy gaan die beste man wees, en die beste pa.”

Die wittebrood

Paris Hilton op wittebrood in Bora Bora. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Hilton en Reum se wittebrood sal oor sewe weke strek en het afgeskop in Bora in Frans-Polinesië waar hulle volgens die Elle-tydskrif in die Conrad-hotel tuisgegaan het.

Volgens die tydskrif het Hilton se broer, Barron, en Reum se broer, Courtney, by hulle aangesluit vir die eerste been van hulle “welverdiende vakansie”, soos Hilton daarna verwys het in ʼn episode van haar podsending, This is Paris.

Daarna het Hilton en Reum na die Moskito-eilandgroep in die Virginiese eilande vertrek en van daar af het hulle verder in Anguilla in die Karibiese eilande gaan uitspan.

Hilton het in die podsendingepisode gesê sy is gelukkig dat sy en Reum kan ontspan ná “ʼn gekke jaar van beplanning” aan hulle bruilofsfees.

“Ons het so hard gewerk dat ons besluit het om vir sewe weke wittebrood te hou. Dit is Thanksgiving en Kersfees en ons het so hard gewerk dat ons besluit het om onsself net te geniet.”

Bykomende bron: Insider.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.