Hollywood: Oscar-wenner wil politiek toe; Gucci-fliek op pad

Maroela Media bring vir jou ‘n opsomming van vandeesweek se jongste internasionale vermaaknuus.

Oscar-wenner betree dalk politiek

Matthew McConaughey op die verhoog tydens die History Talks Leadership-geleentheid by die Carnegie Hall in New York in Februarie verlede jaar. (Foto: Noam Galai/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse akteur en Oscar-wenner Matthew McConaughey, bekend vir sy rolle in flieks soos How to Lose a Guy in 10 Days, Magic Mike en Dallas Buyers Club, se kop staan politiek toe.

Die 52-jarige akteur het in ʼn onlangse episode van Crime Stoppers of Houston se podsending The Balanced Voice onthul dat hy daaraan dink om as goewerneurskandidaat vir sy tuisstaat, Texas, te staan.

“Ek ondersoek wat my leierskaprol is. Ek dink ek het sommige dinge wat ek kan deel. Wat is my rol? Wat is my kategorie in my volgende hoofstuk van die lewe wat ek nou betree?” het hy aan aanbieder Rania Mankarious gesê.

“Ek oorweeg dit werklik.”

Texas-goewerneur Greg Abbott is tans beskikbaar vir herverkiesing in 2022.

Grammys vind Sondag plaas

Beyoncé. (Foto: Facebook)

Die 63ste jaarlikse Grammy-musiektoekennings vind Sondag hoofsaaklik virtueel plaas, met ʼn mengsel van regstreekse optredes wat vooraf opgeneem is.

Beyoncé loop vanjaar voor met nege benoemings vir haar album Black Parade. Sy is die vrouekunstenaar wat met altesaam 79 benoemings tot dusver die meeste benoemings nog gekry het. Paul McCartney het ook altesaam 79 benoemings terwyl Beyoncé se man, die kletsrymer Jay-Z, en Quincy Jones elkeen altesaam 80 benoemings het.

Black Parade is in Junie verlede jaar uitgereik te midde van die oplewing van die Black Lives Matter-beweging en is onder meer benoem vir album en liedjie van die jaar.

Taylor Swift, Dua Lipa en Roddy Ricch het elkeen ses benoemings ontvang. Swift se album Folklore is tydens die inperking geskryf en uitgereik.

Roddy Ricch, wat verlede jaar ʼn Grammy huis toe gevat het vir sy samewerking met die ontslape kunstenaar Nipsey Hussle, is benoem vir liedjie van die jaar vir “The Box”.

Blues-rocker Brittany Howard, bekend as voorsanger van die groep Alabama Shakes, het vyf benoemings gekry vir haar album Jaime.

Taylor Swift. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Die Grammys is egter nie sonder omstredenheid nie: Die sanger The Weeknd het beloof om op te hou om musiek in te skryf vir oorweging vir dié toekenningsgeleentheid nadat hy nie ʼn enkele benoeming ontvang het vir sy album After Dark nie, terwyl die album kommersieel uitstekend gevaar het.

Hy het ook in Februarie in die gesogte Super Bowl-halftydvertoning by die Raymond James-stadion in Tampa, Florida, voor ʼn gehoor van sowat 25 000 toeskouers opgetree.

Kykersgetalle van die Golden Globes, wat vroeër vandeesmaand uitgesaai is, het met 62% afgeneem in vergelyking met verlede jaar se syfers. Daarom beoog die Grammys om kykers te lok met ʼn lang galageleentheid en optredes deur bekendes soos Harry Styles, Ariana Grande, Megan Thee Stallion, Cardi B, Taylor Swift, Roddy Ricch, Billie Eilish, Dua Lipa en Post Malone.

Brandi Carlile, Maren Morris en Guyton gaan ook ʼn verskyning maak. Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah is die aanbieder van die geleentheid.

Fliek oor Gucci eersdaags te sien

Adam Driver en Lady Gaga op die stel van die nuwe rolprent ‘House of Gucci’. (Foto: Instagram/Lady Gaga)

Die bekroonde sangeres en aktrise Lady Gaga het Dinsdag ʼn foto op Instagram gedeel van haarself en die Oscar-benoemde akteur Adam Driver op die stel van hul nuwe fliek House of Gucci in Milaan, Italië.

In die foto is die akteurs te sien in stylvolle wintersdrag met ʼn sneeubedekte berg agter hulle. “Signore e Signora Gucci,” het Lady Gaga by die foto geskryf.

Ridley Scott is die regisseur van House of Gucci, die fliek wat handel oor Maurizio Gucci (Adam Driver), erfgenaam van die wêreldbekende, luukse modehuis, en Patrizia Reggiani (Lady Gaga). Die twee is in 1973 getroud en het twee dogters, Allegra en Alessandra.

Reggiani was ʼn bekende sosiale vlinder wat die fynere dinge in die lewe geniet het. “Ek sal eerder in ʼn Rolls Royce huil voordat ek gelukkig is op ʼn fiets,” het sy een keer gesê.

Gucci was weer bekend vir sy spandabelrigheid en het uiteindelik sy aandele in die modehuis verkoop aan Investcorp, ʼn Bahrain-gebaseerde handelsbank.

In 1985 het Gucci aangedui dat hy van Reggiani wil skei, wat gelei het tot ʼn bittere hofstryd wat eers in 1991 afgehandel is. ʼn Paar jaar later is die 46-jarige Maurizio Gucci deur ʼn huurmoordenaar buite sy kantoor in Milaan doodgeskiet. Dit het later geblyk dat Reggiani die moord beplan het.

Lady Gaga en Adam Driver op die stel van die rolprent ‘House of Gucci’. (Foto: Miguel Medina/AFP)

Sy is in 1997 in hegtenis geneem en is die “Black Widow” deur die media gedoop. Die hofsaak was ʼn mediaspektakel met skokkende wendings, insluitend onthullings deur Reggiani se medepligtiges dat sy $365,000 vir die moord betaal het. Sy is tot 29 jaar tronkstraf gevonnis.

Sy is in 2014 vrygelaat en het nie geskroom om aanmerkings oor Gucci se dood te maak nie. “Patrizia, waarom het jy ʼn huurmoordenaar gehuur om Maurizio Gucci te vermoor? Waarom het jy hom nie self geskiet nie?” het ʼn verslaggewer haar destyds gevra.

“My sig is nie so goed nie. Ek wou nie mis nie,” het sy geantwoord.

Bekende akteurs soos Al Pacino, Jeremy Irons en Jared Leto is ook in House of Gucci te sien. Die fliek sal na verwagting op 24 November vanjaar in die VSA uitgereik word.

Bronne: AFP, E! News, Vanity Fair

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.