Die Hollywood-glanspaartjie Channing Tatum en Jenna Dewan Tatum het Maandag aangekondig dat hul paadjies ná byna nege jaar se getroude lewe gaan skei.
Tatum, die hartebreker bekend vir sy rolle in flieks soos Magic Mike, The Vow en Dear John, en Dewan Tatum het ʼn vierjarige dogtertjie, Everly.
Albei die akteurs het ʼn gesamentlike verklaring op hul Instagram-profiele uitgereik waarin hulle aankondig dat hulle “liefdevol gekies het om uitmekaar te gaan as ʼn paartjie”.
“Ons het soveel jare gelede só verlief geraak en het ʼn wonderlike reis saam gehad. Absoluut niks het verander oor hoe lief ons vir mekaar is nie, maar die liefde is ʼn pragtige avontuur wat ons vir nou op verskillende paaie lei,” het die paartjie luidens die verklaring gesê.
Die paartjie is dit ook eens dat daar “geen geheime of onbehoorlike gebeure” is wat tot die beëindiging van die verhouding gelei het nie.
Tatum en Dewan Tatum het mekaar in 2006 ontmoet tydens die verfilming van die dansfliek Step Up. Hulle is in 2009 getroud.
Dewan Tatum is tans die aanbieder van NBC se World of Dance terwyl Tatum die stem van die karakter Migo vertolk in die animasiefliek Smallfoot wat later vanjaar verskyn.
Bron: CNN
https://www.instagram.com/p/BhFuWBaBGqc/?hl=en&taken-by=channingtatum
Agge Nee, hulle het so goed bymekaar gepas en ek het gedink hulle is nou n paartjie wat dit sou maak.