Hollywood: Paris Hilton haal kansel; fliek oor tennissusters wys binnekort

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Paris Hilton haal kansel

Paris Hilton en Carter Reum is getroud. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Paris Hilton, die bekende hotelerfgenaam, televisiepersoonlikheid en platejoggie, is verlede naweek met die waagkapitalis Carter Reum getroud.

Hilton het dit uiteindelik tot voor die kansel gemaak nadat sy drie keer tevore verloof was. Reum (40) het in Februarie die jawoord gevra op ʼn private eiland tydens Hilton se 40ste verjaardagpartytjie.

Die bruilofsfees het oor drie dae gestrek, en is Saterdag afgesluit met ʼn partytjie op die Bel-Air-landgoed van Hilton se oorlede oupa, Barron Hilton. Gaste het by die pasgetroudes aangesluit vir ʼn elegante ete, waarna hulle tot sonsopkoms gedans en partytjie gehou het.

Volgens TMZ het die sterbelaaide gastelys onder meer Hilton se ma, Kathy Hilton, haar suster, Nicky Hilton Rothschild, haar broer, Barron Hilton II, en skoonsuster, Tessa Hilton, ingesluit, asook bekende vriende soos Kate Beckinsale, Ashley Benson, Emma Roberts, Jaden Smith, Sofia Richie en Kim Kardashian. Macy Gray het die gaste met haar rasperstem vermaak.

Die egpaar is reeds verlede Donderdag in Los Angeles getroud. Hulle het verlede Vrydag ʼn partytjie met ʼn karnavaltema op die Santa Monica-pier gehou. Dié kleurvolle geleentheid het karnavallekkernye soos limonade, koek en worsbroodjies ingesluit, asook speletjies met ʼn Hilton-tema, ʼn mallemeule en ʼn platejoggie.

Lance Bass van N’Sync-faam en Demi Lovato, asook Hilton se tannie, Kyle Richards, het die partytjie bygewoon. Hilton het ʼn neonpienk rok vir die geleentheid gedra.

Die drie dae lange bruilofsfees is noukeurig op film vasgelê vir Paris in love, ʼn reeks van 13 episodes wat sedert verlede week deur Peacock gestroom kan word.

“Ek kan nie wag om ons gesin uit te brei nie,” het Hilton ná die troue gesê. “Ek voel asof ek en Carter legkaartstukke is en ek het nooit gedink ek sal ʼn man soos hy ontmoet nie. Hy is lief vir my as Paris en nie as Paris Hilton nie. Hy gaan die beste man wees, en die beste pa.”

Fliek oor bekende tennissusters eersdaags te sien

Will Smith op die tapyt in Londen vir die première van ‘King Richard’, waarin hy die hoofrol van Richard Williams vertolk. (Foto: Daniel LEAL / AFP)

Die superster-akteur Will Smith het Woensdagaand geskitter op die rooi tapyt van die Britse première van die rolprent King Richard. Die première is by The Curzon Mayfair in Londen aangebied.

King Richard handel oor Richard Williams, pa van die tennisspelers Serena en Venus Williams, en hoe hy van hulle tennissterre gemaak het. Smith vertolk die rol van Richard Williams en daar word reeds gefluister dat dié rol hom moontlik ʼn Oscar-benoeming kan besorg.

Medesterre Saniyya Sidney, Demi Singleton en Jon Benthal het by die 53-jarige Smith aangesluit.

Die fliek is ook dae tevore op die American Film Institute se jaarlikse rolprentfees in Hollywood vertoon. Serena (40) het dié geleentheid by die bekende TCL Chinese Theatre bygewoon.

Serena, wat 39 keer die Grand Slam-titel ingeoes het, se man, Alexis Ohanian, en hulle vierjarige dogter, Alexis Olympia, het saam met haar op die rooi tapyt verskyn.

King Richard begin op Vrydag 19 November in fliekteaters wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.