Hollywood: Peppa Pig sit Kanye ore aan; gunsteling ‘Grey’s’-ster terug

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Peppa Pig sit Kanye ore aan

Peppa Pig en George (Foto: PeppaPig.com)

Die tekenprent Peppa Pig se album getiteld Peppa’s Adventures het ʼn gradering van 6,5 op Pitchfork gekry – 0,5 meer as wat Kanye West se nuwe album, Donda, gekry het.

West, wat onlangs die nuus gehaal het met sy aankondiging dat hy amptelik sy naam na net Ye gaan verander, het ʼn omstrede luisterpartytjie in Atlanta, Georgia, gereël, waarop sangers soos Marilyn Manson en DaBaby – wat onder meer van seksuele aanranding en homofobiese uitlatings aangekla is – verskyn het.

In ʼn inskrywing op Twitter, wat intussen uitgevee is, het Peppa Pig die kletsrymer se siel uitgetrek. “Peppa het nie nodig gehad om ʼn luisterpartytjie in die Mercedes‑Benz-stadion te reël om daai .5 te kry nie.”

Dit is nie die eerste keer wat Peppa Pig opslae in die musiekbedryf maak nie. Peppa se eerste album, My First Album, het bekendheid verwerf in 2019 toe internetgebruikers Peppa se liedjies op gewilde stromingsplatforms soos Spotify afgelaai het.

Dr. Addison terug in Grey’s Anatomy

Kate Walsh. (Foto: Kristin Callahan/Everett Collection/Facebook)

Kate Walsh sal die rol van dr. Addison Montgomery hervat in die komende 18de seisoen van Grey’s Anatomy. ABC het die nuus Donderdag bekend gemaak.

Walsh het ook die nuus gedeel in ʼn video wat op Grey’s Anatomy se Twitter-bladsy gedeel is.

“Wel, wel, wel, kyk nou net. Dit is erg, geliefdes, dr. Addison Montgomery keer terug na die Grey Sloan Memorial Hospital en ek is so opgewonde om weer tuis te wees saam met Shonda, Ellen en die res van die ongelooflike span,” het Walsh (53) in die video gesê, met verwysing na reeksskepper Shonda Rhimes en ster Ellen Pompeo.

Walsh het aanvanklik by die mediese drama aangesluit in die eerste seisoen as Derek Shepherd (Patrick Dempsey) se vervreemde vrou. Sy het in ʼn paar seisoene verskyn voordat sy in die reeks Private Practice gespeel het.

Foto’s: Bekendes tree aan vir Italiaanse rolprentfees

Die Venesiese rolprentfees het Woensdag weer afgeskop in Lido, Italië. Weens die pandemie kon talle bekendes nie verlede jaar op die fees gesig wys nie, maar dit is egter nie vanjaar weer die geval nie.

Bekendes soos Kristen Stewart, Benedict Cumberbatch, Penelope Cruz, Antonio Banderas, Zoe Saldana, Matt Dillon, Molly Sims en Kirsten Dunst het ʼn draai by die fees gemaak.

ʼn Golden Lion-toekenning vir lewensbydrae sal aan Italië se Oscar-bekroonde regisseur Roberto Benigni (Life is Beautiful) toegeken word.

Die lokettreffers Dune en The Last Duel, met Matt Damon en Ben Affleck as skrywers en in die hoofrolle, sal ook op die fees te sien wees.

Bronne: AFP, Daily Mail UK, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.