Hollywood: ‘Sex and the City’-herlewing skok kykers; Italiaanse rolprentregisseuse (93) sterf

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Empire-ster skuldig aan wangedrag ná vervalste aanval

Jussie Smollett. (Foto: Kristin Callahan/Everett Collection/Facebook)

ʼn Jurie in Chicago het Donderdag die Amerikaanse akteur Jussie Smollett skuldig bevind op vyf aanklagte van wangedrag nadat hy valslik aan die polisie gesê het hy was in 2019 die slagoffer van rassisme en ʼn homofobiese haatmisdaad – ʼn aanval wat die akteur glo self laat uitvoer het.

Smollett, een van die sterre van die gewilde televisiedrama Empire, het in Januarie 2019 gesê hy is in die middel van die nag aangeval deur twee gemaskerde mans terwyl hy naby sy huis in Chicago gestap het.

Ondersoekers het egter uiteindelik bevind – gegrond op beeldmateriaal van kringtelevisiekameras en selfoondata van Smollett en sy twee aanvallers – dat hy die hele voorval self georkestreer het.

“Die jurie het Smollett skuldig bevind aan vyf van die ses aanklagte van wangedrag,” het Mary Wisniewski, woordvoerder vir die rondgaande hof van Cook County, aan verslaggewers gesê.

Die akteur word deur soveel as drie jaar tronkstraf in die gesig gestaar, maar kan moontlik slegs tot korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens gevonnis word. ʼn Datum vir die vonnisoplegging is nog nie vasgestel nie.

Smollett, ʼn gay swart man, het deurgaans volgehou dat hy onskuldig is ten spyte van die verdoemende bewyse teen hom van die publiek en owerhede.

Smollett is ook sy rol in Empire kwyt ná die bewerings teen hom.

Sex and the City-herlewing skok reeds kykers

Die eerste episode van die herlewing van die uiters gewilde televisiereeks Sex and the City – met die karakters Carrie, Miranda en Charlotte wat nou 20 jaar ouer en veel wyser is – het reeds kykers geskok tydens die première wat Donderdag uitgesaai is.

In die eerste episode van And Just Like That, waarin die karakters ʼn nuwe lewensfase in hulle vyftigerjare betree, sterf een van die geliefdste karakters van die reeks.

Dié skokwending het veral ʼn invloed op Carrie Bradshaw, die karakter wat vertolk word deur Sarah Jessica Parker, en kykers is nou onseker oor die pad wat vir haar voorlê.

Die rol van Miranda word vertolk deur Cynthia Nixon terwyl Kristin Davis die rol van Charlotte voortsit. Kim Cattrall, wat die rol van Samantha vertolk het in die vorige reeks, is nie weer in dié rol te sien nie.

Cattrall het ná haar vertolking in die tweede Sex and the City-rolprent aangekondig dat sy dié karakter permanent vaarwel heet.

Die oorspronklike reeks van Sex and the City word beskou as een van die baanbrekersreekse van die negentigerjare, met sy eerlike uitbeelding van vroue se vriendskappe, seksuele verhoudings en modegiere.

Sarah Jessica Parker en Chris Noth as Carrie Bradshaw en Mr. Big in ‘Sex and the City’. (Foto: HBO Max/Facebook)

Candace Bushnell, die joernalis en skrywer wie se rubrieke in die New York Observer as basis gebruik is vir die reeks, sê die reeks gaan oor bemagtiging.

Michael Patrick King, wat aan die oorspronklike reeks gewerk het, het as skrywer en regisseur vir die nuwe reeks teruggekeer.

“Ons het alles gedoen wat ons kon om die nuwe reeks die moeite werd te maak. Die stad is anders, die wêreld is anders en die gesprekke is anders,” het King aan The Hollywood Reporter gesê.

Bekroonde Italiaanse rolprentregisseuse (93) sterf

Lina Wertmüller is in 2019 met ‘n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer. Die foto is geneem op dié geleentheid. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Lina Wertmüller, die eerste vrou wat vir ʼn Oscar-toekenning vir beste regisseuse benoem is, is in die ouderdom van 93 dood.

Wertmüller is Donderdagoggend in haar huis in Rome, Italië, dood, omring deur familie en vriende.

Sy is veral bekend vir haar bekroonde rolprente Seven Beauties en Swept Away. Sy het in 2019 ʼn Oscar ontvang vir haar lewensbydrae tot die rolprentbedryf en sy is in dieselfde jaar ook met ʼn ster op die Hollywood Walk of Fame vereer.

Dario Franceschini, Italië se minister van kultuur, het Donderdag in ʼn verklaring gesê die land rou oor die dood van ʼn vrou wie se “onmiskenbare styl ʼn blywende merk op ons, en die wêreld se rolprente gelaat het”.

Sy is in 1928 as Arcangela Felice Assunta Wertmüller von Elgg Spanol von Braueich in Rome gebore en het sedert haar kindertyd ʼn belangstelling in strokiesprente gehad.

Sy was vasberade om naam te maak in die vermaakbedryf en het later saam met ʼn klein teatergroep begin toer as ʼn poppespeler.

Haar rolprentloopbaan het in die 1960’s begin toe sy deur die legendariese rolprentregisseur Federico Fellini aangestel is.

Lina Wertmüller is in 2019 met ‘n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Sy het later bekend geraak vir haar kenmerkende wit brilrame en het in 1963 haar eerste toekenning gewen vir haar regisseursdebuut vir The Basilisks.

Haar 1974-komediedrama Swept Away, wat die storie vertel van ʼn ryk vrou wie se seiljagvakansie op sy kop gekeer word wanneer sy op ʼn verlate eiland gestrand raak saam met ʼn lid van die seiljagspan, het ʼn Amerikaanse rolprenttoekenning gewen. ʼn Nuwe weergawe van die fliek is in 2002 deur Guy Ritchie en Madonna gemaak.

Wertmüller het in 1977 geskiedenis gemaak toe sy ʼn Oscar-benoeming ontvang het vir die fliek Seven Beauties. Die fliek is deur Wertmüller self geskryf en vertel die verhaal van ʼn Italiaanse man wat die weermag verlaat tydens die Tweede Wêreldoorlog en wat daarna deur Duitsers gevangene geneem word en na ʼn strafkamp gestuur word.

Een van haar rolprente getiteld, Un fatto di sangue nel comune di Siculiana fra due uomini per causa di una vedova. Si sospettano moventi politici. Amore-Morte-Shimmy. Lugano belle. Tarantelle. Tarallucci e vino, word met 179 karakters deur die Guiness World Records as die fliek met die langste titel ter wêreld erken.

Bronne: AFP, E! News, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.