Hollywood: Shakira deur wildevarke aangeval; Scarlett, Disney bereik ooreenkoms

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Shakira deur wilde varke aangeval

Shakira op die stel van ‘The Voice’. (Foto: ©NBC/Facebook)

Die popster Shakira en haar agtjarige seun, Milan, was die slagoffers van twee wildevarke wat hulle bestorm het terwyl hulle in ʼn park in Barcelona, Spanje, gestap het.

Die Colombiaanse sangeres sê die varke het haar bestorm en daarna met haar handsak die woud in verdwyn.

Sy het dié bisarre verhaal Woensdag in ʼn reeks Instagram-stories gedeel. Sy het die handsak, wat sy later kon terugkry, na die kamera gewys en gesê: “Kyk hoe het twee wildevarke wat my in die park aangeval het my sak gelos. Hulle het my sak met my selfoon daarin in die woud ingevat. Hulle het alles vernietig,” het sy gesê.

“Milan, vertel die waarheid. Vertel hoe jou ma opgestaan het teen ʼn wilde vark,” het Shakira vir Milan gesê. Sy pa is die sokkerspeler Gerard Piqué.

Shakira is die jongste slagoffer van aggressiewe wildevarke wat onlangs die Katalaanse hoofstad begin teister het.

Shakira en haar twee seuns, Sasha en Milan. (Foto: Instagram/Shakira)

In 2016 het die Spaanse polisie sowat 1 187 oproepe ontvang van wildevarke wat honde aangeval, katvoerders geplunder het en die verkeer ontwrig het omdat hulle teen motors in die stad vashardloop.

In 2013 wou ʼn polisiebeampte self die probleem oplos en het hy met sy dienspistool na ʼn vark geskiet, maar die vark gemis en sy kollega getref.

Die varke is draers van verskeie siektes en word gereken as een van die wêreld se indringerigste spesies wat op enigiets in die omgewing kan oorleef. Die diere beweeg al meer na stede waar hulle op rommel leef wat deur mense gestrooi word.

Hulle getalle het toegeneem regoor Europa, met die jongste syfers wat daarop dui dat daar sowat 10 miljoen wildevarke regoor Europa is.

Scarlett, Disney beëindig hofgeding

Scarlett Johansson en Florence Pugh in ‘Black Widow’. (Foto: Facebook/Black Widow)

Disney en Scarlett Johansson se hofgeskil oor die uitreiking van die Marvel-superheldfliek Black Widow het tot ʼn einde gekom.

Johansson het Disney twee maande gelede gedagvaar vir kontrakbreuk toe die vervaardiger tegelykertyd die fliek op Disney+ se stromingsdiens en in fliekteaters uitgereik het.

Volgens Johansson het dié besluit haar ontneem van moontlike verdienste. Die besonderhede van die ooreenkoms tussen Disney en die aktrise is nie bekend gemaak nie.

“Ek is verheug dat ons ʼn onderlinge ooreenkoms met Johansson oor Black Widow kon bereik. Ons waardeer haar bydrae tot die Marvel Cinematic Universe en sien uit daarna om saam te werk aan komende projekte, insluitend Disney se Tower of Terror,” het Alan Bergman, inhoudshoof van Disney Studios, in ʼn verklaring gesê.

Nuwe aanbieder vir ‘The Bachelor’

Jesse Palmer. (Foto: Facebook)

Jesse Palmer sal Chris Harrison se skoene volstaan en rose uitdeel in ABC se gewilde werklikheidsreeks The Bachelor. Hy is aangewys as die nuwe aanbieder van die reeks.

Palmer, ʼn televisieaanbieder en voormalige NFL-voetbalspeler, het self in 2004 in die vyfde seisoen van The Bachelor verskyn.

Hy het ʼn langdurige band met die Walt Disney Company as sportkommentator op ESPN, en as voormalige bydraer op die Good Morning America-program. Hy is ook tans die aanbieder van ABC se somerreeks, The Ultimate Surfer, en het in 2018 die werklikheidsreeks The Proposal aangebied, wat deur The Bachelor-baas Mike Fleiss geskep is.

“Vir meer as 20 jaar het The Bachelor die wêreld dosyne liefdesverhale gebied, en eens op ʼn tyd ook my eie,” het Palmer in ʼn verklaring gesê.

“Om verlief te raak is een van die lewe se grootste geskenke en ek is geëerd om na die program terug te keer as aanbieder van die jongste seisoen en die raad te bied wat ek deur my eerstehandse ervaring opgedoen het.”

Palmer gaan die 26ste seisoen van die reeks, wat in 2022 uitgesaai word, aanbied.

Bronne: BBC, Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris dupreez ·

As jy in Suid Afrika sê , twee wilde varke het jou handsak gegryp en in die bos ingehardloop, gaan jy verkeerd intepreteer word en as n rassis uitgekryt word. :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.