Hollywood: ‘Smallville’-aktrise tronk toe vir mensehandel; Rusland maak ook fliek in ruimte

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Rusland maak ook fliek in ruimte

Die Russiese aktrise Yulia Peresild. (Foto: Facebook)

Yulia Peresild, een van Rusland se bekendste aktrises, en die rolprentregisseur Klim Shipenko, sal op 5 Oktober vanjaar na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) vertrek om die eerste rolprent in die ruimte te maak.

Die hoofdoel met dié reis is om die eerste rolprent in die ruimte te maak – voordat die Amerikaners hulle kan voorspring.

As alles volgens plan verloop sal die Russe na verwagting die Mission Impossible-ster Tom Cruise en die Hollywood-regisseur Doug Liman probeer klop nadat hulle projek saam met Nasa en SpaceX, maatskappy van miljardêr Elon Musk, verlede jaar aangekondig is.

“Ek wil nie net hê ons moet eerste wees nie, maar ook die beste,” het die 36-jarige Peresild aan AFP gesê. Sy en die 38-jarige Shipenko sal vanaf die Baikonur-ruimtestasie in Kazakstan vertrek.

The Call, die voorlopige titel van die Russiese projek, is in September verlede jaar aangekondig, slegs vier maande ná die Hollywood-projek.

Die storielyn van die fliek handel oor ʼn dokter wat dringend na die ISS ontbied word om ʼn ruimtereisiger te red.

The Call se begroting is ook nie bekend gemaak nie, maar dit is geen geheim dat dit ʼn duur onderneming is nie: Een sitplek op ʼn Soyuz-vuurpyl na die ISS kos Nasa miljoene dollar.

Kontantin Ernst (60) sal glo die fliek se kunsregie behartig. Hy is die hoof van die Channel One-televisienetwerk.

Peresild ondergaan sedert Mei vanjaar intensiewe opleiding by die Yuri Gagarin-opleidingsentrum in Star City buite Moskou.

Die klein rolprentstel van die ISS sal ʼn uitdagende spasie wees om in te werk, veral vir die regisseur, wat ook die kameras, beligting, klank en grimering sal beman.

Peresild het erken sy het “bang” gevoel toe sy gekies is vir die werk uit 3 000 kandidate. “Ek is nie ʼn superheld nie.”

The Weeknd kry eie televisiereeks

The Weeknd. (Foto: Facebook)

Die Kanadese sanger The Weeknd sal ʼn fiktiewe reeks vir HBO skryf, vervaardig en daarin verskyn, het dié netwerk Woensdag aan AFP gesê.

Die reeks se titel is The Idol en vertel die verhaal van ʼn verhouding tussen ʼn vrouepopster en die eienaar van ʼn nagklub in Los Angeles, wat heimlik ook die leier van ʼn geheime kultus is.

The Weeknd, wie se regte naam Abel Tesfaye is, ontwikkel die projek saam met Sam Levinson, wat die regisseur was van die Netflix-rolprent Malcolm & Marie (2011) en Another Happy Day (2011).

Die 31-jarige sanger is bekend vir sy kinematiese uitbeeldings. Sy jongste album, After Hours, wat in Maart verlede jaar uitgereik is, is geïllustreer deur konsepvideo’s wat gelaai is met verwysings na bekende rolprente soos After Hours en Chinatown.

Daar word gereeld berig dat hy ʼn passie vir rolprente het. Hy het selfs ingestem om homself te vertolk – met groot lof – in die Safdie-broers se Uncut Gems (2019), ʼn fliek met ʼn baie klein begroting.

Die liedjie “Blinding Lights” in die album After Hours was die liedjie waarna daar die meeste geluister is op Spotify in 2020. Die liedjie het 43 weke op die topvyf-verkoperslys in die VSA deurgebring, wat The Chainsmokers en Ed Sheeran se vorige rekord van 27 weke gebreek het.

Smallville-aktrise tronk toe vir mensehandel

Allison Mack verlaat die distrikshof op 4 Mei. (Foto: Jemal Countess/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Smallville-aktrise Allison Mack is Woensdag tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir haar rol in die werwing van vroue om seksslawe te wees in Keith Raniere se omstrede NXIVM-kultus.

Mack (38) het ʼn verkorte vonnis gekry nadat sy in April 2019 skuldig gepleit het op aanklag van rampokkery en met staatsaanklaers saamgewerk het.

“Ek is skaam oor die manier waarop ek opgetree het,” het Mack, wat die rol van Clark Kent se beste vriendin in die reeks van 2001 tot 2011 vertolk het, gesê tydens ʼn verhoor in die federale hof in Brooklyn, New York.

Die Duits gebore Amerikaner het bygevoeg dat sy “gevul is met berou en skuldgevoelens” vir wat sy genoem het “’n afgryslike hoofstuk in my lewe”.

Staatsaanklaers het ʼn meer toegeeflike vonnis vir Mack aanbeveel as die 14 tot 17 jaar wat deur die wet bepaal word weens haar deelname in die ondersoek.

Mack het besonderhede aan ondersoekers verskaf oor hoe Raniere, ʼn “selfhelp-ghoeroe”, sy vrouewerknemers om die bos gelei het om ander vroue te werf en hulle te forseer om met hom seks te hê.

Sy het ʼn opname van ʼn gesprek met Raniere aan staatsaanklaers gegee wat uiteindelik deurslaggewend was in sy skuldigbevinding.

In die opname verduidelik hy ʼn verfilmde ritueel waartydens sommige van die vroue soos beeste gebrandmerk word met sy voorletters.

Allison Mack was te sien in die Superman-reeks ‘Smallville’. (Foto: IMDb)

Mack is beveel om haarself op 29 September aan die owerhede oor te gee. Raniere, wie se kultus gesetel is naby Albany, noord van New York City, is vir 120 jaar tronk toe gestuur nadat hy in 2018 in Mexiko aangekeer is.

Hy het persoonlike ontwikkelingskursusse geruil vir sekssessies as hoof van ʼn groep van sowat 20 vroue.

In 2019 het ʼn jurie tydens sy verhoor onder meer gehoor dat sy volgelinge ingeteken het teen $5 000 (sowat R72 000) vir ʼn vyf dag -selfhelpkursus, maar dat sommige geldelik en seksueel uitgebuit is.

Die vroue moes ook ʼn beperkende dieet volg as deel van die beheer wat Raniere, bekend as Vanguard, oor hulle uitgeoefen het.

In 2015 het hy ʼn faksie in sy groep gestig genaamd DOS, ʼn piramidestruktuur waarin vroue “slawe” was met “Grand Master” Raniere bo-aan.

Die “slawe” is geforseer om seks met Raniere te hê en om persoonlike inligting en onvanpaste foto’s met hom te deel.

Hy is in Junie 2019 skuldig bevind op al sewe aanklagte wat teen hom aanhangig gemaak is, insluitend rampokkery, mensehandel, afpersing, kriminele sameswering en seksuele afpersing van ʼn 15-jarige meisie.

Clare Bronfman (41), die erfgenaam van die Kanadese drankhandelsmerk Seagram, is verlede jaar tot meer as ses jaar tronkstraf gevonnis deur ʼn hof in New York vir kredietkaartbedrog. Sy het ook onwettige immigrante namens Raniere gehuisves.

Staataanklaers het gesê Bronfman het miljoene dollar bestee ter ondersteuning van die NXIVM, uitgespreek “nexium”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jojo ·

Sy kon regtig swaarder gevonnis word. Vroue s se hele lewe is aan skerwe hierdeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.