Hollywood: Spice Girls vier 25 jaar; tapyt weer uitgerol in Cannes

Spice Girls vier 25 jaar

Die Spice Girls. Van links na regs is Geri Halliwell (Ginger), Melanie Chisholm (Sporty), Victoria Beckham (Posh), Melanie Brown (Scary) en Emma Bunton (Baby). (Foto: Facebook/Spice Girls)

In 1996 het die Britse popgroep Spice Girls die wêreld oorrompel met die hul debuutenkelsnit “Wannabe”.

Dié oorwurm is op 8 Julie 1996 uitgereik en was vir sewe agtereenvolgende weke die no. 1-liedjie op die gesogte Britse Top-40-treffersparade. “Killing me softly” van The Fugees en “Macarena” van Los Del Rio was op dieselfde tyd in die top-10 van dié treffersparade.

Victoria Adams (nou Beckham), Melanie Brown, Emma Bunton, Geri Halliwell en Melanie Chisholm het oornag huishoudelike name geword. Hulle het die liedjie saam met Biff Stannard en Matt Lowe geskryf.

Die liedjie was ook vir vier agtereenvolgende weke die no. 1-treffer op die US Billboard Hot 100-treffersparade. Die Top of the Pops-tydskrif het hulle die byname van Sporty Spice (Mel C), Baby Spice (Emma), Ginger Spice (Geri), Posh Spice (Victoria) en Scary Spice (Mel B) gegee.

Luidens berigte het Victoria die skryfsessie van “Wannabe” misgeloop en het sy haar terugvoer oor die telefoon gegee.

Die Spice Girls. (Foto: Facebook/Spice Girls)

Die liedjie is glo binne ʼn halfuur afgehandel, maar die platemaatskappy het gedink dit kon doen met nog ʼn bietjie skaafwerk en dit is na die VSA gestuur waar dit as ʼn R&B-liedjie verwerk sou word.

Die vyf groeplede het glo teen dié besluit gerebelleer en Spike Stent, wat gereeld saam met Madonna gewerk het, het uiteindelik die liedjie onder oë gekry.

“As hulle besluit het hulle gaan iets doen, dan het dit gebeur,” het “Wannabe”-medeskrywer Stannard aan die BBC gesê.

Die musiekvideo, wat in een skoot geneem is, is in 2009 op YouTube gelaai en het sedertdien 600 miljoen-kykbeurte op YouTube gekry. Die video is geskiet in die leë vertrekke van die St. Pancras-hotel in Londen.

Hulle debuutalbum, Spice, was ʼn topverkoper wêreldwyd en die liedjie “2 Become 1” het ook later miljoene kopieë verkoop.

Tapyt weer uitgerol vir Cannes-rolprentfees

Die span van die fliek ‘Annette’ op die 74ste jaarlikse Cannes-rolprentfees in Julie 2021. Van links na regs: Die Belgiese sangeres en aktrise Angele, die Amerikaanse akteur Simon Helberg, die Franse aktrise Marion Cotillard, die Franse regisseur Leos Carax en die Amerikaanse akteur Adam Driver. (Foto: Valery Hache/AFP)

Rolprentsterre het Dinsdag na die rooitapyt teruggekeer vir die Cannes-rolprentfees in Frankryk ná ʼn jaar lange hiatus.

Die glansryke geleentheid is die eerste groot rolprentfees wat weer ten volle in persoon plaasvind sedert die aanvang van die pandemie.

Vanjaar se openingsrolprent was die Sparks-musiekblyspel Annette, met Adam Driver en Marion Cotillard.

Driver, ʼn Amerikaanse akteur, het aan AFP gesê: “Covid is steeds daar, maar dit is ʼn groot verligting en opwinding om in Cannes te wees.”

Aan die einde van die eerste vertoning het diegene in die Palais des Festivals die Annette-akteurs en -rolprentmakers met ʼn staande toejuiging van vyf minute vereer.

Jodie Foster was ook teenwoordig en het ʼn eretoekenning vir haar loopbaan van die Spaanse regisseur Pedro Almodovar ontvang.

Foster, Almodovar en Parasite-regisseur en wenner van 2019 se Palme d’Or-toekenning, Bong Joon-Jo, asook Spike Lee, voorsitter van vanjaar se jurie, het die geleentheid geopen.

Daar is geen sosiale afstand gehandhaaf op die tapyt nie en ʼn geen-soene-reël is onmiddellik op die openingsaand verontagsaam deur die feespresident, Pierre Lescure.

Lescure het eers die aktrise Jessica Chastain en daarna die aktrise en voormalige Franse presidentsvrou Carla Bruni elkeen twee piksoene gegee. Hy het ook die Franse aktrise Melanie Laurent op die hand gesoen.

Gwen Stefani, Blake Shelton trou

Blake Shelton en Gwen Stefani is die naweek getroud. (Foto: Instagram/Gwen Stefani)

Die sangeres Gwen Stefani (51) en die countrysanger Blake Shelton (45) is die naweek tydens ʼn seremonie op sy beesplaas in Tishomingo, Oklahoma, getroud.

Stefani het Woensdag troufoto’s op haar sosialemediaplatforms gedeel. Shelton, in sy gebruiklike blou denimbroek en ʼn tuxedobaadjie, onderbaadjie en strikdas, het trou aan haar in ʼn agterplaaskapel op sy beesplaas beloof.

Sowat 40 vriende en familielede het die seremonie bygewoon en vriend Carson Daly het die seremonie gelei.

Stefani en Shelton, wat ontmoet het toe albei van hulle as beoordelaars op die sangprogram The Voice was, het in Oktober verlede jaar hulle verlowing aangekondig.

Kingston (15), Zuma Nesta Rock (12) en Apollo Bowie Flynn (7), haar seuns uit haar vorige huwelik met die rocker Gavin Rossdale, was aan haar sy op haar troudag. Shelton en die countrysangeres Miranda Lambert is in 2015 geskei.

Bronne: officialcharts.com; BBC; People

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.