Hollywood: Sterre skitter by Met-gala; ‘SNL’-akteur sterf

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

SNL-akteur sterf

Norm Macdonald. (Foto: KEVORK DJANSEZIAN / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Medelye stroom in vir die geliefde komediant Norm Macdonald nadat hy vroeër vandeesweek weens kanker gesterf het. Hy was 61 jaar oud.

Die akteur, bekend vir die Weekend Update-insetsel van Saturday Night Live, het glo nege jaar lank ʼn stryd teen kanker gevoer.

“Al wat hy ooit wou doen, is om ons te laat lag,” het die akteur en aanbieder James Corden (43) vandeesweek gesê.

“Hy was absoluut briljant. Daar was niemand anders soos hy nie. Ek voel geëerd dat ek saam met hom kon werk. Hy verlaat ons as een van ons tyd se grootste komediante. Ons sal jou baie mis. Dankie dat jy ons laat lag het, Norm. Ons sal jou nooit, ooit vergeet nie.”

Jimmy Fallon het intussen ook gesê dat Macdonald een van sy “komedie‑helde” was.

“Hy was ʼn komediant se komediant en almal was absoluut gek oor hom. Hy sal baie gemis word,” het Fallon (46) gesê.

Smallville-aktrise dien vonnis uit

Allison Mack verlaat die distrikshof op 4 Mei. (Foto: Jemal Countess/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Smallville-aktrise Allison Mack, wat in Julie tot drie jaar tronkstraf gevonnis is vir haar rol in die werwing van vroue om seksslawe te wees in Keith Raniere se omstrede NXIVM-kultus, het amptelik begin om haar vonnis uit te dien.

Die voormalige aktrise is in aanhouding in Dublin, Kalifornië. Mack (38) het ʼn verkorte vonnis gekry nadat sy in April 2019 skuldig gepleit het op aanklag van rampokkery en met staatsaanklaers saamgewerk het.

Sy is aanvanklik deur ʼn vonnis van 14 tot 17 jaar in die gesig gestaar. Sy is ook ʼn boete van $20,000 opgelê en moet 1 000 ure se gemeenskapsdiens doen.

Die fasiliteit in Dublin waar Mack haar vonnis uitdien, is ʼn tronk vir vrouegevangenes. Die aktrises Felicity Huffman en Lori Laughlin is ook hier aangehou vir hul rolle in die Varsity Blues-kollege toelatingskandaal.

Sterre skitter by Met-gala

Die gewilde Met-gala, ook bekend as “mode se grootste aand uit”, is ʼn geldinsamelingsgeleentheid vir die Metropolitan Museum of Art in New York en van die wêreld se bekendste sterre het vandeesweek oudergewoonte die koppe behoorlik laat draai by dié gesogte geleentheid.

Vanjaar se tema was “In America: A Lexicon of Fashion”. Bekendes soos Kim Kardashian, Jennifer Lopez, Billie Eilish, Lil Nas X, Simone Biles, Rihanna, Serena Williams, Lorde en Iman het in uitspattige ontwerpersuitrustings vir die kameras gepronk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.