Hollywood: Taylor Swift haal geskiedenis; 12 aangekla ná Kim K-rooftog

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Taylor Swift, The Weeknd haal Billboard-geskiedenis

Taylor Swift se “All too well (Taylor’s Version) het Billboard-geskiedenis behaal. (Foto: Facebook/Taylor Swift)

“All too well (Taylor’s Version)”, ʼn snit van langer as tien minute wat op die bekroonde sangeres en liedjieskrywer Taylor Swift se heruitgereikte album, Red (Taylor’s Version), verskyn, het pas die 50 jaar oue treffersnit “American Pie” deur Don McClean onttroon as die langste no. 1-snit van alle tye.

“American Pie”, wat agt minute en 42 sekondes lank is, was die afgelope vyf dekades die langste liedjie wat die eerste plek op die Billboard-treffersparade gehaal het.

Swift se “All too well (Taylor’s Version)”, wat tien minute en 13 sekondes lank is, het egter vandeesweek na die no. 1-plek op die gesogte treffersparade geskiet.

“American Pie” was voorheen die langste no. 1-treffer sedert dit in Januarie 1972 uitgereik is.

“Julle ouens het ʼn liedjie wat tien minute lank is na die no. 1-posisie gestuur, nogal vir die eerste keer in die geskiedenis,” het Swift (31) op Instagram geskryf.

The Weeknd sing tydens sy Pepsi Super Bowl-halftydvertoning by die Raymond James-stadion in Tampa, Florida. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Intussen het die Kanadese popster The Weeknd geskiedenis gemaak met sy treffersnit “Blinding Lights”, wat die liedjie geword het wat al vir die langste tydperk die no. 1-posisie op die Billboard-treffersparade beklee.

“Blinding Lights” is in November 2019 uitgereik en is al vir 90 weke in die no. 1-posisie. Dié snit onttroon Chubby Checker se 1960’s-treffer “The Twist”.

Die Billboard-treffersparade is reeds die afgelope 63 jaar ʼn weerspieëling van die wêreld se gewildste radiotreffers.

The Weeknd, wie se regte naam Abel Tesfaye is, se “Blinding Lights” is teen September vanjaar meer as 2,5 miljard keer deur Spotify-gebruikers gestroom.

Die snit se gewildheid is aangehelp deur ʼn dansie wat op die video-app TikTok versprei is, asook The Weeknd se baanbreker- Super Bowl-halftydoptrede vroeër vanjaar.

Die toptien Billboard-treffers van alle tye lyk so:

  1. “Blinding Lights” – The Weeknd (uitgereik in 2019)
  2. “The Twist” – Chubby Checker (uitgereik in 1960)
  3. “Smooth” – Santana met Rob Thomas (uitgereik in 1999)
  4. “Mack the Knife” – Bobby Darin (uitgereik in 1959)
  5. “Uptown Funk!” – Mark Ronson met Bruno Mars (uitgereik in 2014)
  6. “How do I Live” – LeAnn Rimes (uitgereik in 1997)
  7. “Party Rock Anthem” – LMFAO met Lauren Nemmett & Goonrock (uitgereik in 2011)
  8. “I Gotta Feeling” – The Black Eyed Peas (uitgereik in 2009)
  9. “Macarena (Bayside Boys Remix)” – Los Del Rio (uitgereik in 1993)
  10. “Shape of You” – Ed Sheeran (uitgereik in 2017)

Twaalf aangekla ná Kim K-rooftog in Parys

Kim Kardashian in Mei 2019. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP)

Twee regters het 12 mense aangekla in verband met ʼn rooftog in 2016 waartydens juwele ter waarde van bykans $10 miljoen (sowat R160 miljoen) van die televisiepersoonlikheid Kim Kardashian in ʼn Paryse hotel in Frankryk beroof is.

Die beskuldigdes sal verhoor word vir roof met ʼn wapen in ʼn georganiseerde groep, ontvoering en gedwonge opsluiting, of strafregtelike verbintenis, het ʼn bron aan E! News gesê.

Die beskuldigdes is nog nie geïdentifiseer nie.

Vyf mans het gedurende die oggendure van 3 Oktober 2016 toegang tot Kardashian se hotelkamer verkry deur die portier met ʼn wapen te dreig, te boei en hom te dwing om die modemagnaat se deur oop te maak, het die Franse ministerie van binnelandse sake gesê.

Kardashian was tydens die voorval in die Franse hoofstad vir die Paryse modeweek. Volgens die Franse koerant Le Journal du Dimanche het Kardashian in ʼn mondelinge verklaring aan owerhede gesê die mans het wat gelyk het soos polisiebaadjies gedra, maar het juwele en geld geëis toe hulle haar kamer binnegestorm het.

Sy het aan die polisie gesê die verdagtes het haar op ʼn bed gedwing en haar handsak leeggemaak, wat langs ʼn juwelekissie met onder meer twee Cartier-armbande, ʼn Lorraine Schwartz-diamanthalssnoer en diamantoorbelle, goue Jacob-halssnoere, ʼn goue Rolex-horlosie en ʼn diamanthalssnoer met die woord “Saint” – die naam van haar en Kanye West se oudste seun – gelê het.

Kim Kardashian (middel) onlangs saam met Pete Davidson (links onder), die kletsrymer Flavor Flav en haar ma, Kris Jenner, op Flavor Flav se verjaardagpartytjie. (Foto: Instagram)

Kardashian se hande is glo vasgebind en haar mond is toegeplak voordat sy in die bad in die badkamer geboender is. Sy is nie tydens die rooftog beseer nie, hoewel sy volgens haar woordvoerder “erg ontsteld” was deur die voorval.

Kardashian het in 2019 tydens ʼn episode van True Hollywood Story gesê haar lewe is “verander deur daardie tien minute”.

“Jy maak jouself gereed vir die oomblik wat hulle sê hulle gaan jou doodskiet. Jy dink net jy gaan nou doodgaan,” het sy gesê.

Kardashian en West se huwelik is intussen op die rotse en gaan glo nou met die akteur Pete Davidson uit. Davidson het vroeër met die sangeres Ariana Grande, Kaia Gerber, dogter van die supermodel Cindy Crawford, die aktrise Kate Beckinsale en die Bridgerton-aktrise Phoebe Dynevor uitgegaan.

Dokkie-reeks oor The Beatles binnekort te sien

(Foto: Julien’s Auctions)

Peter Jackson, regisseur van die nuwe The Beatles- dokumentêre reeks wat op Disney+ te sien sal wees, het meer as 50 ure lange uittreksels laat restoureer uit die The Beatles-dokumentêr, Let It Be, wat in 1970 uitgereik is.

Jackson is onder meer bekend as regisseur van die The Lord of the Rings-rolprente.

Die nuwe The Beatles- dokumentêre reeks heet Get Back en skyn ʼn nuwe lig op die verhouding tussen lede Paul McCartney en John Lennon voordat die groep in 1970 uitmekaar is.

Die dokkie-reeks sal in drie dele verskyn en is altesaam sowat sewe uur lank.

Get Back sal vanaf 25 November op Disney+ beskikbaar wees.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andre

Kyk hoe vervang ons kwaliteit met plastiek, hoe goedkoop het die musiek wereld nie geword nie.