Hollywood: ‘The Bachelor’ maak weer opslae; Windsor-raad weier ‘Bridgerton’-stel

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Windsor-raadslede sê ‘nee’ vir Bridgerton-stel

Regé-Jean Page en Phoebe Dynevor vertolk die hoofrolle in die eerste seisoen van ‘Bridgerton’. (Foto: IMDb)

Raadslede het toestemming geweier vir vervaardigers van die Netflix-dramareeks Bridgerton om ʼn rolprentstel op Windsor te bou.

Vervaardigers van die trefferreeks wou ʼn stel bou op die Crown Estate-landgoed in Sunninghill Park om oor ʼn vyfjaartydperk te gebruik.

Ten spyte van koninklike toestemming, het The Royal Borough of Windsor en die raad van Maidenhead dit bestempel as ʼn “onvanpaste ontwikkeling van die groen gordel”.

Die stel sou van steierwerk gebruik maak om ʼn Londense Regency Square te skep en dit sou vir vyf somers lank gebruik word tydens verfilming.

Die raad se beplanningsbeamptes het aanbeveel dat die bou van dié stel naby ʼn antieke woud afgekeur word en het gesê dit sou “afbreuk doen aan die landelike karakter van die gebied”.

Hulle het ook genoem dat daar “onvoldoende bewyse” was om te verseker dat inheemse spesies nie geraak word nie.

‘Goedkeuring van die koningin’

Die Bridgerton-gesin. (Foto: IMDb)

Patrick Griffin van CPRE Berkshire het tydens ʼn openbare vergadering by die Maidenhead Holiday Inn gesê dit sal “nie kenmerkend van die omgewing” wees nie en “inbreuk maak op die plattelandse karakter”.

Raadslid Sayonara Luxton het verduidelik die aansoek wat gesteun word deur die Crown Estate sou nie onder raadslede se aandag gekom het sonder “goedkeuring van die koningin” nie en dat die gemeenskap se plaaslike winkels en hotelle daarby sou baat vind.

Raadsleier Andrew Johnson het dit beaam en gesê: “Die duidelike ekonomiese voordele van die aansoek dra veel meer gewig as die potensiële korttermynskade aan die groen gordel.”

Raadslede het egter steeds sewe teen twee gestem om die aansoek van die hand te wys.

A$AP Rocky, Rihanna amptelik ʼn paartjie

Rihanna. (Foto: Facebook/Rihanna Brasil)

Die kletsrymer A$AP Rocky het onlangs die sangeres Rihanna as “die liefde van sy lewe” beskryf in ʼn onderhoud met GQ.

Gerugte oor dié twee kunstenaars se liefdeslewe het in 2013 al begin toe die kletsrymer haar ondersteun het op haar Diamonds-wêreldtoer.

“Ek dink as jy weet, dan weet jy. Sy is die een,” het hy gesê.

Die paartjie het albei in sy video vir “Fashion Killa” verskyn, terwyl hy ʼn draai gemaak het op haar liedjie “Cockiness (I love it)”.

Volgens die GQ-berig probeer hulle die kollig vermy sedert hulle verhoudingstatus bevestig is en verkies dit om nie saam deur die paparazzi afgeneem te word nie.

A$AP Rocky sê Rihanna het “absoluut” sy nuwe album, waarop kunstenaars soos Morrissey ook sal verskyn, beïnvloed.

Hy is gebore Rakim Athelaston Mayers en is een van die 2000’s se grootste Amerikaanse kunstenaars, met sy albums Long.Live.A$AP (2013) en At.Long.Last.A$AP (2015) wat albei no. 1-posisies op internasionale treffersparades beklee het.

Baanbrekerseisoen vir The Bachelor-franchise aangekondig

Brooke Blurton van ‘The Bachelorette Australia’. (Foto: Facebook/The Bachelorette Australia)

Die uiters gewilde televisie-maatsoekreeks The Bachelorette Australia het Woensdag sy eerste openlike biseksuele hoofrol aangekondig.

Brooke Blurton sal uit manlike en vroulike deelnemers kan kies en keur in die nuwe seisoen, waarvoor daar nog nie ʼn uitreikingsdatum bekend gemaak is nie.

“Ek is nie te seker of Australië gereed is daarvoor nie, maar ek is beslis,” het Blurton aan The Daily Telegraph gesê.

“As dit mense enigsins ongemaklik maak, daag ek hulle uit om te dink oor waarom dit doen.”

Blurton (26) was ʼn deelnemer aan The Bachelor in 2018 toe Nick Cummins se hart op die spel was. Sy het ook in 2019 aan Bachelor in Paradise deelgeneem.

Blurton het Donderdag ʼn foto van haarself op Instagram geplaas en daarby geskryf: “Ek is gereed, ek hoop julle is ook.”

Bronne: BBC, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.