Hollywood: Vonnisse ná Madonna-verhoogongeluk; Paris Hilton weer verloof

Maroela Media bring vir jou ‘n opsomming van vandeesweek se jongste internasionale vermaaknuus.

Vier gevonnis ná Madonna-verhoogongeluk

Madonna. (Foto: Facebook)

Vier mense is Woensdag in Frankryk skuldig bevind aan strafbare manslag en is opgeskorte vonnisse opgelê nadat ʼn verhoog wat vir ʼn konsert deur die popster Madonna in Marseille in 2009 opgerig is, ineengestort het. Twee mense is in die voorval dood en agt is beseer.

Nog drie persone wat in die hof sou verskyn, is vrygespreek. Die ongeluk het op 16 Julie 2009, drie dae voor die konsert, plaasgevind.

ʼn Ondersoek wat tien jaar lank geduur het, het vasgestel die oorsaak van die ongeluk was die verkeerde plasing van ʼn kabeltou wat met ʼn hyskraan die hoeke van die struktuur se dak moes lig – ʼn op-die-nippertjie-besluit nadat twee wenasse wat gewoonlik vir dié taak gebruik word, nie gewerk het nie.

Die kabeltou het aan ʼn pyp van die steierwerk vasgehaak en dit het tot gevolg gehad dat die hele struktuur ineengestort het.

Charles Criscenzo (52) van Frankryk en Charles Prow (23) van Brittanje het by die Velodrome-stadion in Marseille gesterf. Nog een van die beseerde werkers het twee jaar later selfmoord gepleeg.

Madonna het nie die hofverrigtinge bygewoon nie aangesien sy nie by die tegniese aangeleenthede betrokke was nie en ontken dat daar druk was om die verhoog vinniger te voltooi. Sy het egter haar medelye met die slagoffers se familie betuig.

Lauryn Hill-album maak weer geskiedenis

Lauryn Hill. (Foto: Facebook)

Die kletsrymer en sangeres Lauryn Hill se debuutalbum The Miseducation of Lauryn Hill maak meer as 20 jaar nadat dit uitgereik is weer geskiedenis.

Die album het pas diamantstatus behaal, wat beteken dat 10 miljoen kopieë van die album verkoop is sedert dit in 1998 uitgereik is. Dit maak dit die eerste album deur ʼn vroulike kletsrymer wat diamantstatus behaal.

Die nuus is Dinsdag deur die Recording Industry Association of America (RIAA) aangekondig. Die album sluit aan by ikoniese albums soos Michael Jackson se Thriller, Adele se 21, 2Pac se All Eyez on Me, The Beatles se Abbey Road, Prince and the Revolution se Purple Rain, Green Day se Dookie en Alanis Morissette se Jagged Little Pill, wat almal deel vorm van die sogenaamde Diamond Club.

The Miseducation of Lauryn Hill het in 1998 in die no. 1-posisie op die gesogte Billboard 200-treffersparade gedebuteer en 422 000 kopieë in sy eerste week van uitreiking verkoop. Die album is ook vir 10 Grammy-musiektoekennings benoem, waarvan Hill vyf ingeoes het vir onder meer beste nuweling en album van die jaar – ʼn eerste vir ʼn hip-hop-album.

Ondanks die sukses van haar debuutalbum het Hill nie weer ʼn solo-album uitgereik nie. Hill was deel van die musiekgroep Fugees, wie se album The Score onlangs vir die sewende keer multiplatinumstatus bereik het. Die groep se bekendste treffers soos “Killing Me Softly with His Song”, “Fu-Gee-La” en “Ready or Not” het ook elkeen individuele mylpale bereik.

Paris Hilton vir die vierde keer verloof

Paris Hilton het pas verloof geraak vir die vierde keer. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Die skatryk hotelerfgenaam Paris Hilton het vandeesweek onthul sy het, kort voor haar 40ste verjaarsdag, vir die vierde keer verloof geraak. Dié keer aan Carter Reum (40), haar kêrel van die afgelope jaar.

Hilton en Reum, ʼn waagkapitalis en sakeman, het die nuus op Instagram bekendgemaak. Reum het die jawoord gevra op ʼn private eiland terwyl die paartjie haar 40ste verjaarsdag gevier het. Die verloofring is ontwerp deur Jean Dousset, agterkleinseun van Louis Cartier.

“Covid-19 het die afgelope jaar soveel dinge versnel. As iemand wat konstant gereis het, het ek ʼn kans gehad om tuis te bly en te besin oor wat vir my belangrik is. My verhouding en die tyd wat ek saam met Carter deurgebring het, was ʼn geskenk. Ek is opgewonde oor ons volgende hoofstuk,” het Hilton gesê.

Reum het dit beaam. “Ek het die unieke geleentheid gekry om die afgelope 15 maande die ware Paris te leer ken op ʼn daaglikse basis terwyl dit net ons twee was en ek kan nie meer opgewonde en gelukkig wees om haar as ʼn toekomstige vrou en vennoot te hê nie. Met haar goedhartigheid, werksetiek en uniekheid maak sy die wêreld ʼn beter plek en sy sal dieselfde doen as ʼn toekomstige ma en vrou.”

Bronne: Consequence of Music, IheartRadio.com, AFP, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.