Hulde gebring aan twee Afrikaanse bekendes

Christine Basson soos sy gelyk het as Nora Naudé in Egoli. (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse vermaakwêreld is deur ʼn dubbele tragedie getref toe die nuus van die legendariese aktrise Christine Basson (78) se afsterwe bekend geword het minder as ʼn dag ná die dood van die geliefde sanger Jacques de Coning (52).

Basson is vanoggend in die versorgingseenheid van die Ekklesia Park-aftree-oord in Randburg oorlede, terwyl De Coning gisteroggend in ʼn motorongeluk dood is.

Basson was veral bekend vir haar rol as Nora Naudé in Egoli, ʼn karakter wat sy 18 jaar lank vertolk het, terwyl De Coning bekend was vir sy vrolike vertolking van bekende FAK-liedjies.

Huldeblyke aan dié twee groot seders van die kunste het Maandagoggend op sosiale media ingestroom.

Die aktrise en teatervervaardiger Lizz Meiring het Basson as ʼn ware legende en ikoon bestempel. “Sy het my so baie geleer en gementor toe ek ʼn jong aktrise was,” skryf Meiring op Twitter. “Moenie in vrede gaan rus nie, liefste Christine! Dis nie in jou dinamiese aard nie. En dankie vir alles. Gaan jou mis.”

Die akteur Ivan Zimmerman, wat ʼn tyd lank die rol van Koert Weideman in Egoli vertolk het, het gesê Basson was een van sy groot inspirasies en sal altyd wees. “Uitsonderlike werksetiek en talent. Van my grootste lesse as akteur in die gekose medium [televisie-sepies] het ek by Christine Basson geleer,” het hy geskryf. “As ons in Engeland gebly het, was sy ‘dame Basson’.”

Die akteur Peter Terry was ook vol lof vir Basson. “Sy was ʼn lieflike mens, altyd vol borrelende energie; en ʼn uitstaande aktrise. Mag sy vrede hê.”

Hannes van Wyk, ʼn goeie vriend van Basson en ook een van haar oudkollegas op die Egoli-stel, het aan Maroela Media gesê Basson was “’n ware trooper, ʼn briljante aktrise en ʼn wonderlike vriendin”.

Van Wyk het in 2017 in sy boek Vroue na aan my hart geskryf Basson is ʼn formidabele vrou met ʼn sterk wil en sterk persoonlikheid.

“Eerstens is Christine geen tannie nie en sy is glad nie soos Nora nie. Tweedens vat sy nie nonsens van enigiemand nie en stuit selfs nie vir die duiwel nie,” het hy oor haar geskryf. “Sy sou altyd dodelik eerlik wees, en partykeer was dit nie wat jy graag wou hoor nie. Sy sê ʼn ding soos dit is; by haar is daar nie ʼn middeweg nie. Maar sy is altyd in die kol.”

Jacques de Coning. (Foto: Facebook)

Steve Hofmeyr het op sy Facebook-blad geskryf die skielike dood van De Coning en Basson “slaan sy wind uit”.

“Eintlik moet ek vanoggend sommer al my kollegas bel en byvoorbaat groet. Mens weet net nie meer nie,” het hy geskryf.

Die radio-aanbieder Jacques Arendt het hom ook tot sosiale media gewend om sy skok en hartseer oor De Coning se afsterwe uit te spreek en gesê ʼn groot Afrikaanse boom het geval.

Maroela Media het vroeër berig De Coning is in ʼn motorongeluk tussen Alexandria en Boesmansrivier in die Oos-Kaap dood. Hy was alleen in sy motor toe hy reg van voor teen ʼn aankomende motor gebots het.

Lydia Winchester, De Coning se publisiteitsbeampte, het gesê De Coning se saggeaardheid en nederigheid sal haar altyd bybly. “Hy laat ʼn groot leemte in die Afrikaanse musiekbedryf.”

Die oudkrieketspeler Pat Symcox het ook sy hartseer oor De Coning se dood op sosiale media uitgespreek, terwyl Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoofbeampte van Bok Radio, gesê het hy sal De Coning altyd onthou. “Rus in vrede Jacques. Dankie vir die ongelooflike tye. Steeds die enigste persoon wat my kon laat maak vir ʼn breakfast show,” het hy geskryf.

Die vryskutjoernalis Ilze Roggeband het geskryf: “Jacques was ʼn gentleman met ʼn sagte stem en ʼn groot hart.”

De Coning se seun, Basil, is vyf jaar gelede ook in ʼn motorongeluk oorlede. Hy laat sy vrou, Lynn, en sy dogter, Joani, agter.

*Daar word op Vrydag, 21 Junie om 21:00 ʼn konsert van Jacques de Coning op kykNET NOU, DStv kanaal 146 uitgesaai, Jacques De Coning: Afrikaans My Trots.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veronica ·

Dis n donker dag vir Afrikaanse vermaaklikheid, al was Christine “afgetree”. Dankie julle twee vir die vreugde en plesier wat jul ons gewone mense gebring het! Rus in Vrede en simpatie met jul geliefdes wat julle gaan mis.

Jaco ·

Jacques De Coning was a awesome person. He was always kind and honest. In my short time of knowing him, I felt like a proper serious artist when ever he was involved with an event. He and his family’s door was always open and they treated even the smallest of talent with respect and dignity. He will be missed…

Susan ·

My innige meegevoel and beide die families. Rus in vrede Christine en Jacques.

AP ·

Sterkte aan families van Jacques en Christine Basson. Weet iemand hoe dit gaan met die dame wat in die ander voertuig met Jacques De Coning botsing was?

Rina Kotze ·

Groot hartseer vir Afrikaanse kuns en kultuur!

Aan albei families my Innige Simpatie. Mag ons Hemelse Vader julle vertroos in hiedie hartseer tyd.

Dankie vir Julle jarelange bydraes Christine en Jacques! Rus in Vrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.