‘Idees vol vrees’-man nog ʼn spruit ryker

Kobus Galloway en sy vrou, Beatrix, het Dinsdag ‘n pienkvoet ryker geword. (Foto: Verskaf)

Die bekende Idees vol vrees-grapmaker Kobus Galloway en sy vrou, Beatrix, het Dinsdagoggend ʼn babaseuntjie ryker geword.

Die seuntjie heet Pieter-Stephanus (Pieter-Steph) Galloway. Hy het 3,57 kg geweeg by geboorte en is 51,5 cm lank. Hy het ook ʼn sussie, Bea-mari (6), en boetie, Jacobus (3).

Kobus vertel aan Maroela Media hul nuweling is met Beatrix se pa se name geseën. “Ons het dit aan die begin van die swangerskap gekies, want ons ander twee kinders het die ander oupas en oumas se name.”

Volgens Kobus is Pieter-Steph “die soetste babatjie”. “Hy is baie rustig en huil amper nooit. Beatrix is ook ʼn kampioen-mamma, so hy is in fantastiese hande. Ons probeer al sedert 2019, so ons is baie geseënd om nog ʼn pienkvoet te hê dié jaar.

Kobus en sy seuntjie, Pieter-Steph. (Foto: Verskaf)

“Ons prinses het ʼn nuwe baba gekry met wie sy kan pop speel en Jacobus kry ʼn speelmaat, want hy wil net al ‘tackle, tackle!’. Hulle is uit hulle velle opgewonde oor hulle nuwe boetie en kan nie wag dat ons hom huis toe bring nie.”

Weens die Covid-19-pandemie mag die kinders nie hulle nuwe boetie in die hospitaal ontmoet nie. “Ons bevalling was in Panorama in die Kaap en ons woon in die platteland op Robertson. So Bea-mari en Jacobus bly in die week by ouma en oupa sodat hulle nie skool misloop nie. Ons doen video-oproepe en is baie opgewonde saam met die res van die familie.”

Kobus vertel sussie Bea-mari het begrip vir Pieter-Steph wat op pad is, maar dat Jacobus net geweet het daar is “ʼn baba in mamma se magie”.

“Ons het verlede jaar ʼn partytjie gehou waar die geslag van die baba onthul is. Bea-mari het gehoop vir ʼn sussie, maar sy het later gesê: ‘Die Here het vir my nog ʼn boetie gegee sodat ek twee het wat my kan oppas’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tokkel ·

Baie geluk! Hoop en vertrou hulle gaan julle groot vreugde gee en soms bietjie gryshare!

Tolletjie ·

Baie geluk! Mag die kleinding vir julle as gesin baie liefde, vrede en lag bring!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.