Internet gaande oor ‘nuwe Grumpy Cat’

Louis, die nuwe fronsgesig-kat wat deur die internet ontdek is. (Foto: Instagram via @louisandmonae)

Louis, die nuwe fronsgesig-kat wat deur die internet ontdek is. (Foto: Instagram via @louisandmonae)

Ná die onlangse afsterwe van die vierpotige internetsensasie Tardar Sauce, wat wêreldwyd bekend was as die geliefde Grumpy Cat, het die kuberruim nou ʼn splinternuwe fronsgesig-kat ontdek wat heel moontlik die oorspronklike Grumpy Cat se titel gaan oorneem.

Louis, ʼn sesjarige Persiese kat van Austin, Texas in die VSA, is reeds deur duisende sosialemediagebruikers bestempel as “die nuwe Grumpy Cat”. Hoewel sy sosialemedia-aanhangerbasis nog nie so massief is soos Tardar Sauce sʼn nie, het Louis reeds bykans 6 500 volgelinge op Instagram en internetgebruikers voorspel dat hy kort voor lank met tot 3 miljoen volgelinge op Instagram sal kan spog.

Die oorspronklike Grumpy Cat het ten tyde van sy dood meer as 2,4 miljoen volgelinge op Instagram, sowat 1,5 miljoen volgelinge op Twitter en meer as 8,5 miljoen volgelinge op Facebook gehad.

Terwyl Tardar Sauce, wat die internet in 2012 stormgeloop het, se iesegrimmige uitdrukking op haar gesig as gevolg van katdwergisme (feline dwarfism) was, het Louis volgens sy eienaar geen genetiese afwykings nie.

“Louis is ʼn opregte Persiese kat en baie mense vra gereeld of hy ʼn genetiese afwyking het wat sy unieke gesigsuitdrukking veroorsaak, maar hy is heeltemal normaal,” het sy eienaar, Michelle Alexis, volgens Bored Panda onlangs aan die media gesê.

Louis woon saam met Alexis en sy “sussie”, die vierjarige Lynx Point Siamese kat, Monae. “Mense is mal oor sy groot albaster oë. Al verwys mense nou na hom as die nuwe Grumpy Cat, is hy eintlik baie liefdevol, gelukkig en spelerig. Hy hou daarvan om aandag en vryfies te kry en hy jaag ook gereeld lasers en speel met speelgoed,” vertel Alexis.

Tardar Sauce is in Mei vanjaar dood ná komplikasies van ʼn urienweginfeksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suur ·

Beneukte gevreetjie!
Lyk nes my skoonsuster terwyl sy moes leer vir haar eksamens!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.