Izak Davel word eerste keer pa

Klein Zia Mericke Davel. (Foto: Facebook via Izak Davel)

Klein Zia Mericke Davel. (Foto: Facebook via Izak Davel)

Tien jaar ná hul troue en ná vele sakke sout saam het die akteur, sanger en danser Izak Davel en sy vrou, Mericke, vir die eerste keer ouers geword.

Hul skattige babadogtertjie, Zia Mericke Davel, is Dinsdag met ʼn keisersnit en ʼn gewig van 2,2 kg gebore. “Ja, sy is piepklein en fyn,” het Davel aan Maroela Media gesê.

Davel sê dit gaan goed met mamma en baba. “Mericke is reeds hier by die huis op en af, ten spyte van die keisersnit. Sy is ʼn sterk mamma.”

Hy vertel dit is oorweldigend om vir die eerste keer pa te wees. “Ek weet eerlikwaar nie hoe om dit in woorde te beskryf nie. Dit is ongelooflik. Sy lê nou hier in my arms en ek weet nie wat om daaroor te sê nie – dis mal!”

Izak en Mericke Davel. (Foto: Facebook via Izak Davel)

Izak en Mericke Davel. (Foto: Facebook via Izak Davel)

Volgens Davel, wat in 2006 onder Suid-Afrikaanse sepiekykers bekend geword het vir sy rol as Scab in Egoli, pas hul nuwe gesin maklik aan en is die doeke ruil nie vir hom ʼn probleem nie. Hy sien uit daarna om vele aktiwiteite as pa saam met klein Zia aan te pak. “Ek wil alles saam met haar doen – ballet, hokkie speel, karate doen, alles!” lag hy.

Hy sê hy en Mericke, wat vroeër met kanker gediagnoseer is en dit oorwin het, het nie verwag dat hulle ooit ouers sou word nie. “En hier, met ons tiende huweliksherdenking, arriveer die klein prinses. Ek is stomgeslaan.”

Davel, wat in 2015 die rol van die Prins in die eerste verhoogproduksie van die Afrikaanse pantomime Aspoestertjie teenoor Karlien van Jaarsveld en Soli Philander vertolk het, skerts dat Zia se naam gekies is omdat dit die enigste naam is waarop hy en Mericke albei kon saamstem.

“Ons het baie gesoek en geredeneer en Zia was uiteindelik die een waarop ons besluit het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nettie Gilfillan ·

Báie, báie geluk Izak en Mericke. As sy eendag soos haar mamma kan hokkie speel sal sy ook ‘n plesier wees om dop te hou!

Jozi ·

Ek wil nou nie “daai” tannie wees nie, maar is dit deesdae mode om net die baba se agterkop, wolmussie of handjies af te neem?
Sou graag wou sien hoe lyk die baba.
Ouers kan mos maar spog met ‘n behoorlike ou fototjie ….. of wat praat ek nou?

Lallie Jooste ·

Jozi as hul wou gehad het mense moet die kind se gesig sien sou hul n ander foto gepubliseer het?

Jozi ·

@Lallie,
Presies my punt. Waarom die hele wêreld laat weet daar is ‘n nuwe baba maar hulle wys nie die gesig nie?
Waaroor dan die hele hoe-ha?
Dan kon hulle dit maar eerder gelos het.
Is dit deel van “Celeb status”?

Anti-Huisgenoot ·

Maar dis seker weereens ‘n Huisgenoot publikasie vir ‘n paar jaar. Kan ook nie die ouers kwalik neem nie, met die ekonomie deesdae…
Wonder of ek nie dalk teen ‘n geringe ou bedraggie, ‘n kiekie of twee van my kinders kan plaas nie Huisgenoot? Hulle is sag op die oog! Grap net! Kunstenaars kry ook maar swaar, net soos ons almal.

Lizelda ·

Sjoe!!!!!!! Maar julle mense is darem erg bitter en lelik met julle kommentaar op hierdie heerlike Winters oggend neh. Alle bekendes se maar op sosiale media oor groot gebeurtenisse in hulle lewe want sommige van ons wil dit graag weet. Izak Davel en sy vrou het in n kompleks langs myne gebly… As julle verbitterde mense weet watse fantastiese, vriendelike mens hy en sy vrou is sou julle julle lelike kommentaar nooit geplaas het nie. Hy is een vd min bekendes wat elke keer as ons met ons hond gaan stap het hy met sy 2 hondjies ons eerste sou groet met n warm glimlag. So ja… Voor julle die arme man so aanvat wens hom geluk of lees die volgende berig…

Pensioenaris ·

Baie geluk met die baba en baie dankie vir die mooi foto van jou en my kleindogter wat die 10Julie geneem is by Unitas Hospitaal. Jy het haar dag gemaak.

Marna ·

Net my mening ivm die foto: Party ouers reken dit is die kind se privaatheid om nie die gesig te plaas nie. Ook omdat die kind mos natuurlik nog minderjarig is. Lekker Vrydag almal en baie geluk Izak en Vroutjielief.

Limandi ·

Baie geluk met die kleinding..
Zia is ñ baie mooi naam, dit is ook ons liefiepop se naam.. Sy is werklik die lig in ons lewens& weet julle klein Zia sal ook in julle s’n wees.
Zia beteken “lig”..
Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.